Nasionale droogteramp afgekondig

Argieffoto

Die regering het die droogte tot ʼn nasionale ramp verklaar.

Die aankondiging is aan die parlementêre perskorps gemaak deur dr. Zweli Mkhize, voorsitter van die interministeriële komitee oor droogte en waterskaarste.

Hy het uitgewys dat die droogte in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Oos-Kaap voortduur, en dat landbou die grootste huidige bydraer tot nasionale ekonomiese groei is.

Wes-Kaapse damme is tans 25,5% vol. Gautengse damme staan op 92,8%, Mpumalanga op 77,0% en die Noord-Kaap op 67,9%. Droogte staar egter alle provinsies in die gesig en mense moet hul gedrag dienooreenkomstig aanpas, het Mkhize gesê.

Die kabinet het dus besluit om die droogte vandag tot nasionale ramp te verklaar.

Hoewel dit toegang tot geldelike droogtehulp insluit, het Mkhize gevra dat mense hulle nie daarop blind staar nie. Hy het in besonderhede uitgebrei oor die beoogde samewerking tussen die onderskeie regeringsfere rakende die droogte.

Die SA Weerdiens se vaardighede om langtermyn-weervoorspellings te doen sal verbeter word sodat droogtes vroeër voorspel kan word. Munisipale bestuur van infrastruktuur sal ook opgeskerp word, waaronder die Oorlog teen Lekkasies-program, het Mkhize gesê.

“Dit is belangrik om in hierdie stadium aan te dui dat die verklaring van ʼn ramptoestand op enige vlak nie hoofsaaklik daarop gemik is om finansiering te versoek nie. Dit dien om buitengewone maatreëls in te stel wat finansiering insluit, gegrond op die behoeftes en ander relevante voorwaardes om die uitwerking van so ʼn ramp aan te pak.

“Hulpbronne, sowel tegnies as finansieel, moet deur alle sfere van die regering, private sektor, nieregeringsorganisasies en gemeenskappe aangewend word om ingrypingsmaatreëls in te stel en langtermynherstel te oorweeg.”

Die ramptoestand sal vir drie maande geldig wees waarna die regering die situasie sal hersien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

honourable member ·

Bietjie laat nou is dit nie. Hierdie droogte kom al n lang pad en nou eers besef hierdie mense die impak.

Casper Labuschagne ·

Wat bostaande berig nie noem nie, maar wat ek wel gister elders op die Internet raakgelees het, is dat SASSA die agentskap sal wees wat droogtehulp sal behartig. Hier tref my vooroordele teen SASSA in – ellelange toue en ‘n onontkenbare burokratiese gesindheid dat die uitkoms van SASSA gerig is ten gunste van die meerderheidsgroep.

Anders gestel, sal SASSA in staat wees om droogtehulp aan boere te volbring, of gaan dit dalk in die praktyk beteken dat kospakkies en komberse uitgedeel word saam met ‘n pamflet in die kleure van die landsvlag wat sê, “Ki votela ANC”

Nettie ·

@Casper Labuschagne – laasgenoemde, ou vrind – ons weet dit mos!

Jannie ·

Hier is ook miljoene ekstra siele van afrika wat ons water opgebruik

Lola ·

Ek kan net saam stem honourable member. Dis wraggies bietjie laat in die dag om NOU wakker te skrik. Waar was hulle toe trokke met water en voer die land vol gery het om mense te help?

Trein van die sous ·

Dis kommerwekkend dat dit tot nasionale ramp verklaar is en nie slegs tot provinsiale ramp nie. Noodmaatreels tree dan in werking waarvolgens kortpaaie in die regerings-aanskafprosesse geneem mag word. Dit maak weer deure oop vir grootskaalse korrupsie deur bv vinnig tenders toe te ken, onnodige “nooduitgawes” aan te gaan ens. ens.

M.i. gaan die nasionale ramp status nou deur amptenare in nie-rampgebied provinsies uitgebuit word om hulself te verryk. Seker maar onregverdig teenoor hulle as slegs die amptenare in die rampgebied areas mag soustrein ry?

Boo whoo ·

Oh my word, Gauteng se damme is 92% vol maar droogte staar ALLE provinsies in die gesig. Wanneer is daar dan genoeg water in die damme? 100%? Kan ons dan met sekerheid se dat Gauteng NIE ‘n droogte het nie?? DOEN eerder julle werk en hou op verskonings uitdink. Bou meer damme (of is die geld op)? Bou damme, begin met die ontsoutingsaanlegte .. julle het vir 18 jaar die goed geignoreer en nou skielik verklaar julle ‘n ramp!! Julle kan die wittes vir alles skuld gee maar die wragtie weet as dit nie reen nie REEN DIT NIE .. !!

Donald ·

Jy moenie jouself vra hoe vol die damme is nie maar hoeveel en hoe groter die damme gebou is nadat ons van n 20 miljoen populasie gegroei het tot n 60m populasie.

Lolla ·

Dis dalk hoekom dit nie reen nie, God het gesien hier is hopeloos te veel kriminele, bendes, ongehoorsaamheid, boosheid, moorde en haat….wat nie God se guns, genade of kosbare reen verdien nie! Soos altyd sal ons weer met die bietjie wat daar is mee uitreik en help, alhoewel ons dit nie terug kan verwag in n tyd van nood nie.

Casper Labuschagne ·

@Lolla Jy het ‘n punt beet. Keer op keer beskryf die Bybel hoe God droogte gebruik om diegene wat van hom afgedwaal het te tugtig. Ons kan dit eenvoudig nie ontken nie, en dit is ook nie terloops dat die hedendaagse Sodom en Gemorra juis die stad in ons land is wat die ergste onder die droogte ly nie.

Theresa B ·

Alles ook net altyd geld, geld, geld, geld…………………….en dan kom daar ok niks van nie. Dan moet ons hoor alles is in hul vermoë gedoen maar die geld was te min.
Hou op om julle plaveisels af te spuit dat die water strome in die straat afloop en kry kundige mense wat dadelik optree en lekasies regmaak as dit gerapporteer word. Daar is ‘n paar lekasies wat soos fonteine spuit/loop vir dae voor daar aandag aan gegee word.

Laetitia Mouton ·

Nou wil hul geld spandeer om die Weervoorspellings verder voorspel kan word. Hul doen dit nie eens nou reg nie, soos gisteraand op SABC2 , dis KOOL in sekere streke :) gebruik eerder die fondse vir opgaar van water. Wat asdie weerdiens sien, o gaats niks reen word ver voorspel nie, dan is geld klaar spandeer op gevorder tegnologie!!! maar steeds niks water. Mense boer asb. vooruit!!!!!!!!!!!

TLC ·

En ja in my area bars daar elke dag n waterpyp erens. Kom hul wel regmaak bars hy more op ander hoek of die reggemaakte een bars net weer en ek praat van riviere wat in strate afloop o ja my area is Daspoort maar nou ja dit is welkom in SA

jaco ·

So ‘n jaar gelede het ‘n ANC-raadslid van iewers in die binneland gesê die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste kiesers daar DA stem. Maar nou is die droogte landwyd. So nou wonder ek maar net: as dit dan nie sonde is om vir die ANC te stem nie (blykbaar steun die Here korrupsie en swak dienslewering), watse sonde het die res van die land wat binne die Here se wil wel ANC stem, dan gedoen dat Hy hulle nou ook met droogte straf?

EH ·

Stem saam, waarom dit nie slegs tot n provinsiale ramp verklaar nie?

Pierre ·

Skep n probleem dan is daar n probleem. Wie gaan hulle nou melk vir duursame water?

Ek bid my Vader in die hemele, U het die krag om te seën oor een deel en nie oor n ander nie, U is volmaak, as dit U behaag, laat dit reën waar U dit werd vind, wees ons barmhartig, U is lankmoedig en groot van goedertierenheid, Amein

Adrian ·

Lekker geldmaakstorie vir verbruikers …….die damme is te groot so se die kommuniste ???

Koos ·

Dit maak my naar. Julle kan dit as watookal afkondig….praat gaan nie help nie…julle moet iets fisies doen!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.