Nasionale ingryping in Tswaing nodig, sê DA

(Argieffoto)

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes is bekommerd oor die voortdurende stakings en protesoptogte in die dorpe van Sannieshof, Delareyville en Ottosdal.

Dit volg nadat Gordon Kegakilwe, die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (COGHSTA), die Tswaing- plaaslike munisipaliteit vandeesweek besoek het in ‘n poging om die voortgesette staking deur munisipale werkers op te los.

Carin Visser, kiesafdelingshoof van die DA in Noordwes, sê die feit dat slegs ANC-raadslede na hierdie vergadering genooi is, spreek boekdele van die gebrek aan politieke wil om uitdagings binne die raad aan te spreek, sowel as die impak wat dit op inwoners het.

Die staking spruit uit die munisipaliteit se versuim om die afgelope twee jaar werknemers se derdeparty-aftrekkings aan die pensioenfonds oor te betaal.

“Die wanbetaling het nou ‘n groot uitwerking op dienslewering deur die munisipaliteit, wat reeds uiters swak is. Inwoners is sonder water, elektrisiteit en ander noodsaaklike dienste gelaat. Die lisensiekantore is gesluit en nie eens die munisipale bestuurder, Isaac Moruti, is in sy kantoor te vinde nie,” het Visser bygevoeg.

“Die LUR se besluit om die administrateur, Tiro Mose, vir vier dae te skors, dui duidelik op sy gebrek aan nugtere oordeel en ontbloot die diepgewortelde faksionalisme in die ANC. Hierdie munisipaliteit is in 2018 ingevolge Artikel 139(1)(b) onder administrasie geplaas weens die wanbestuur deur die munisipale bestuurder. Dit is dus ondenkbaar dat die LUR die administrateur sou skors en die munisipale bestuurder, wat verantwoordelik is vir die ineenstorting van hierdie munisipaliteit, aan die stuur van sake sal laat.”

Die DA het versoek dat ‘n raadsvergadering binne die volgende sewe werksdae belê sal word in ‘n poging om oplossings te vind vir die ernstige uitdagings binne hierdie munisipaliteit.

“Ons sal verder aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, skryf om dringende aksie te versoek, aangesien LUR Kegakilwe duidelik sy pligte versuim het. As deel van ons plig teenoor die burgers van Tswaing, sal ons voortgaan om te veg vir eerlike bestuur en dienslewering waarop die mense grondwetlik geregtig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda ·

Sien – waar die ANC is – is daar korrupsie – Mense word wakker – Hulle is die oorsaak dat julle so swaar kry .

Hansie slim ·

Nog een en nog een en nog een…….
So word korrupsie geïdentifiseer en dit sal nooit stop solank hulle in beheer is nie!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.