Nasionale maand van protes teen plaasmoorde aangekondig

Ernst Roets. Argieffoto: Reint Dykema.

Ernst Roets. Argieffoto: Reint Dykema.

AfriForum het Woensdag amptelik die maand November as ’n nasionale maand van protes teen plaasmoorde verklaar. Gedurende dié maand sal verskeie aksies van stapel gestuur word wat daarop toegespits is om internasionale druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om plaasmoorde te prioritiseer.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dit sal op 1 Desember 2015 presies vyf jaar wees sedert die Potgietergesin wreedaardig op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is. Attie Potgieter (40) is 151 keer met tuinvurke, kapmesse en ander gereedskap gesteek, terwyl sy vrou, Wilna (36) en hul dogtertjie, Willemien (2), moes toekyk.

Willemien is daarna met ’n skerp voorwerp oor die kop gekap, in die kop geskiet en in die buitekamer in ’n boks gegooi. Nadat Wilna die moorde op haar man en dogter moes aanskou, is sy na die plaashuis geneem, waar sy ook verskeie kere oor die kop gekap en toe in die nek geskiet is.

“Hoewel die regering die moorde op die Potgieters in die media betreur het, is dit egter duidelik dat plaasmoorde geensins ’n prioriteit vir die polisie is nie,” het Roets gesê. “Sedertdien is honderde boere op hul plase vermoor, waarvan sommige op die gewelddadigste wyse denkbaar. As die regering en die departement van polisie die probleem aflag, sal ons seker maak dat hulle in die internasionale arena hieroor in die verleentheid gestel word.”

In die komende maand sal AfriForum die volgende aksies aanpak:

  1. AfriForum sal die hooggeregshof nader vir ’n bevel om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te dwing om hul statistiek oor plaasmoorde te publiseer en die metodologie bekend te maak wat gebruik word om dié statistiek in te samel. Dít volg nadat die voormalige nasionale polisiekommissaris in die afgelope jaar by twee geleenthede na plaasmoorde verwys het, maar teenstrydige syfers gegee het.
  2. AfriForum het reeds geregistreer om die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in die laaste week van November oor plaasmoorde toe te spreek. ’n Verslag, wat spesifiek fokus op die wyse waarop daar in die strafregstelsel teen plaasaanvalslagoffers gediskrimineer word, sal ook by die VN ingedien word.
  3. Hierdie verslag sal ook aan meer as 300 internasionale en buitelandse mediakorrespondente in Suid-Afrika versprei word.
  4. Op die dag waarop die voorlegging aan die VN gemaak word, sal die verslag aan meer as 5 000 buitelandse media-instellings uitgereik word.
  5. Op 1 Desember 2015 sal AfriForum saam met slagoffers van plaasaanvalle ’n mosie van wantroue in die regering se vermoë om plaasaanvalle te beveg by die president se kantoor indien.

AfriForum doen ’n beroep op die publiek om hul name by AfriForum se protesbrief te voeg. In die aanloop tot die VN-konferensie sal AfriForum met ’n omvattende veldtog begin om steun vir dié memorandum te werf. “Hoe meer mense hul name by die veldtog voeg, hoe sterker sal ons stem wees en hoe groter ons kans op sukses,” het Roets verduidelik.

  • AfriForum wil die verslag aan die VN versterk met minstens 100 000 name van die publiek wat die saak steun. Om steun te wys, kan die publiek die webwerf stopdiemoorde.co.za besoek of hul naam SMS na 32534 teen R1.

 

  • AfriForum sal ook binnekort ʼn eenheid op die been bring wat op die slagoffers van plaasaanvalle en –moorde sal fokus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Hannie ·

Baie dankie aan Afriforum vir hierdie fantastiese aksie, doen so voort! Ons staan bankvas agter julle!

Moeksie ·

Absoluut great nuus – gaan sommer nou my naam stuur. Ons ondersteun julle 100%.

Dankie – ons gebede word verhoor….

Debs ·

Baie baie dankie Afriforum, kom ons ALMAL ondersteun hierdie groep…. dis maar ‘n handjie vol Afrikaners en Engele mensies wat nog nie geraak is deur misdaad in ons land nie.

Rieks ·

100% steun vir hierdie saak – en sal sommer almal in my gesin en vriende kry om dit te ondersteun. Dankie Afriforum vir hierdie daadwerklike stap wat julle neem.

Muller ·

Wonderlike wonderlike nuus!!! Ons staan by julle AfriForum, skree net en ons is daar. Tyd dat ons opstaan en baklei niemand anders sal dit vir ons doen nie. Dankie AfriForum

Winston ·

Het die aksie dalk n naam of slagspreuk? Wil graag op my voertuig vertoon. Ek sal die nagevolg dra want is n trots lid van AFRIFORUM!

Leendert van Oostrum ·

Ek sal baie graag die veldtog steun.

Uit ervaring weet ek egter dat, as Afriforum my selfoonnommer in die hande kry, hou dit nie op lui nie – ek word aanmekaar lastig geval oor lidmaatskap, ander veldtogte (wat ek miskien nie steun nie) ens.

Uiteindelik was ek so ongeskik met die arme meise wat gebel het dat sy beloof het dat my selnommer heeltemal van hulle lys afgehaal sal word. Ek vertrou dit is, want ek het sedertien bietjie vrede.

Ek wil dus nie weer my steun SMS nie, en gaan liewer na die webwerf om daar my steun toe te sê. En waaragtig, die selfoonnommer is ‘n verpligte veld!

Ek is bitterbaie jammer, maar ek kan nie hierdie hoogsverdienstelike saak steun nie.

JWK ·

Leendert
Ek het ‘n kontak op my foon “Don’t Answer” met baie verskillende nommers.

pop ·

Leendert word maar n lid, jy wil die vrugte pluk van alles wat hulle doen maar sit op die draad. Dankie Afriforum, dat julle baklei vir ons mense. ek sal elke sent wat ek al voorheen vir verdienstelike sake geskenk het van nou af na julle stuur.

Leendert van Oostrum ·

Liewe Poppie,

Ek hoef nie ‘n kaartdraende lid van ‘n politieke party te wees om vir hulle te stem nie – en ek was nog nooit nie. Ek laat my nie bind aan agendas nie. Ek sal elke saak op meriete steun.

Ek is heeltemal bereid om Solidariteit.Afriforum finansieel te steun, maar toe ek dit in klein mate probeer het, kon ek hulle nie weer van my nek af kryf nie. Ek dwing my nie op aan ander nie en ek wil nie die voorwerp van opdwingerigheid wees nie.

charmaine ·

Om internasionaal te gaan is die beste idee ooit. Dankie my naam is op die lys.

Peet J ·

AfriForum alle sukses met julle aksies 1 tot 5 dit sal hoog waardeer word indien julle terugvoering met resultate wat julle bereik het aan ons belangstellendes kan verskaf.

Ben ·

Ek wil julle net bewus maak dat julle registrasie blad nie toelaat vir buitelandse nommers nie. Ek is tans woonagtig in Engeland.
Ek ondersteun julle veldtog teen volle

Josef du Toit ·

Inderdaad Ben. Ook ek kan nie my ondersteuning vir hierdie belangrike saak aanteken nie, omdat my Belgiese selfoonnommer nie op op die aanlynvorm toegelaat word nie.

Gideon ·

Ek wonder eintlik wat beteken hierdie veldtogte!! Wat het gebeur na die onlangse buitelandse besoek? Ons kry geen positiewe terugvoering van buiteland dat hulle ons verwelkom of dat hulle die moorde veroordeel! Indien wel dan weet ons nie van dit nie!

Peet Schabort ·

Indien jy soos ek in Lindley se kerkhof gestaan het by die Potgieters se grafte, dan gaan daar deur jou wese iets wat onbeskryfbaar is.
Iets wat maak dat ek nie verder hier gaan kommentaar lewer oor daardie aangrypende gebeurtenis wat ek nie kan en sal vergeet.
Dus wens ek AfriForum sterkte en alle heil en seën toe met die poging.

willem ·

Net so min as wat Dingaan hom amper 200 jaar terug aan n papier, n kontrak met Piet Retief gesteur het-Net so min steur Zuma,Malema of wie van hulle maaitjies ookal hulle aan n papier.Of dit n hofbevel is of Landswet n kontrak of Mosie van wantroue,dit maak nie saak nie. So julle mors net julle tyd.

Cathy Kotze ·

Wanneer ek na die webwerf gaan, word my selfoonnommer gevra.

Ek woon in Kanada en is een van vele hier wat graag die veldtog wil ondersteun. Daar is geen manier waarop enige een van ons belang stel om internasional boodskappe op on selfone te ontvang nie.

Nog ‘n probleem is die gebrek aan Engelse berigte oor plaasmoorde. Dis vir ons moontlik om met Kanadese op die internet te kommunikeer, maar hulle benodig die inligting in Engels.

Help ons asseblief deur die formaat van die petisie aan te pas sowel as met berigte in Engels wat die ware toestand van sake aanspreek. Die hoofstroom media verkaf dit nie.

Willie ProUdfoot ·

Uiteindelik is die gebed nie meer teen die plafon nie. As julle met die die teen plaasaanval eenheid begin sal daar menig van die Veterane hulp aanbied. Die Regering se verontregting van oud magte is net so skokkend. Laat ons ons Veterane se eer ook in die verband herstel en hulle opofferinge nie ongesiens verby laat gaan nie.

Lolla ·

julle almal wat dink dis n mors van tyd of daar sal niks van kom nie was duidelik nog nooit n slagoffer van so n aanval nie – mnr en mev wat so negatief is en n mond vol te se het (als negatief) oor die aksies – kom ons kyk of jy nog dieselfde tese het as jy en jou gesin aangeval word – n geweer in jou 22mnde oue baba se mond en teen jou man se kop gedruk word en geld en vuurwapens ge eis word. Afriforum julle het ons steun 110% ons was een van die gesinne wat op 31 oktober in die rustenburg omgewing aangeval is. so dink mooi voordat jy jou bek rek mnr NEGATIEF.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.