Nasionale matriekuitslae aangekondig

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, tydens ‘n gelukwensingsontbyt wat Donderdagoggend vir die toppresteerders gehou is (3 Januarie 2019). Foto: Jacques Naude/ANA

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdagaand tydens ʼn geleentheid in Midrand, Gauteng, die nasionale matriekuitslae van 2018 aangekondig.

Die matriekklas van 2018 het ʼn slaagsyfer van 78,2% bereik, met progressie-leerders ingesluit. Dit is ʼn verbetering van 3,1% teenoor die 2017-slaagsyfer van 75,1%. Die nasionale slaagsyfer met progressie-leerders uitgesluit is 79,4%, ʼn verbetering van 2,9% teenoor die 76,5% wat in 2017 bereik is.

Motshekga het gesê dit is verblydend om te sien dat die matriekslaagsyfer die afgelope agt jaar deurlopend bó 70% was.

Altesaam 172 000 van die matrikulante wat geslaag het (33,6%) kwalifiseer vir tersiêre graadstudies, terwyl 141 700 (27,6%) van matrikulante kwalifiseer om vir ʼn diploma te studeer. 86 800 matrikulante (16,9%) kwalifiseer om vir ʼn hoër sertifikaat-kwalifikasie te studeer.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat 312 700 kandidate wat vir graad- en diplomastudies kwalifiseer, in aanmerking kom om by hoëronderwysinstansies te studeer. Die 86 970 kandidate wat sertifikaatvrystelling behaal het, kan by TVET-kolleges en ander vaardigheidsopleidingsinstansies aansoek doen vir verdere onderrig,” het Motshekga gesê.

Die nasionale matriekuitslae van 2018 word aangekondig (3 Januarie 2019). Foto: Verskaf

Daar is in 2018 altesaam 157 000 onderskeidings behaal, ʼn afname van 2,6% vergeleke met 2017 se matriekuitslae. Die meeste onderskeidings het gekom uit Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Limpopo.

“In die 12 sleutelvakke, insluitend rekeningkunde, besigheidstudies, ekonomie, wiskunde en fisieke wetenskappe, is daar 58 800 onderskeidings behaal,” het Motshekga gesê.

Gauteng se matrikulante het die beste presteer met ʼn slaagsyfer van 87,9%. Die Vrystaat se matrikulante was ʼn kortkop agter met ʼn slaagsyfer van 87,5%, en die Wes-Kaap in die derde plek met ʼn slaagsyfer van 81,5%.

Die tien top-distrikte in die land wat die beste presteer het, is:

  1. Fezile Dabi in die Vrystaat met 92,3%;
  2. Tshwane-Suid in Gauteng met 91,7%;
  3. Johannesburg-Oos in Gauteng met 90,3%;
  4. Sedibeng-Oos in Gauteng met 90,2%;
  5. Johannesburg-Wes in Gauteng met 90,1%;
  6. Thabo Mafutsanyana in die Vrystaat met 90%;
  7. Tshwane-Noord in Gauteng met 89,6%;
  8. Gauteng-Wes met 89,1%;
  9. Ekurhuleni-Noord in Gauteng met 88,8%; en
  10. Johannesburg-Noord in Gauteng met 88,6%.

Matrikulante se individuele uitslae sal Vrydagoggend beskikbaar gemaak word. Hou Maroela Media dop vir meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.