Nasionale oproer: Enkele voorvalle vinnig hanteer

’n Polisiebeampte gooi traangas tydens ’n gewelddadige betoging in Gauteng vroeër vanjaar. (Foto: Themba Hadebe/AP)

Enkele voorvalle van oproerigheid wat verband hou met ʼn sogenaamde “national shutdown” wat ten doel het om die land tot stilstand te bring, is Maandagoggend in Nelspruit en dele van KwaZulu-Natal en Gauteng aangemeld, maar dié voorvalle is vinnig en doeltreffend mee afgereken. Wetstoepassers en veiligheidstrukture is steeds op ʼn hoë gereedheidsgrondslag indien enigiets verder sou gebeur.

Dreigemente oor ʼn “national shutdown” op Maandag 23 Augustus het menigte Suid-Afrikaners die afgelope paar weke reeds op hol terwyl boodskappe wat geweld aanhits op verskeie sosialemediaplatforms gedeel is.

ʼn Wye verskeidenheid redes word vir die oproerigheid voorgehou, waaronder eise dat pres. Cyril Ramaphosa moet bedank, ontevredenheid oor die Covid-19-entstof, konflik tussen faksies in die ANC, ʼn gebrek aan gratis onderwys en die bevordering van die BlackLivesMatter-beweging.

Lede van die ANC en ANC-jeugliga, die MKMVA, SAKP en Sanco beplan glo om aan dié betogings deel te neem.

Kol. Thembeka Mbhele, polisiewoordvoerder in Durban, het Maandagoggend gesê die situasie is “normaal” in bykans die hele distrik.

“Daar is maksimum polisieteenwoordigheid.”

Superintendent Parbhoo Sewpersad, woordvoerder van die Durbanse metropolisie, sê daar was vroeg Maandagoggend enkele betogers wat versperrings in Umgeni- en Alpineweg geplaas het, maar dat hulle vinnig uitmekaargejaag is.

“Die metropolisie, SAPS en die weermag was vinnig op die toneel nog voor die situasie kon vererger.

“Vinnige reaksie is belangrik. Ons moet hulle op hul eie terrein klop,” sê Sewpersad.

Kapt. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê hy is nie bewus van enige voorvalle van onluste of plundering in dié provinsie nie.

Volgens Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noordstreek, is daar wel enkele voorvalle aangemeld, maar niks wat ernstig blyk te wees nie.

Dié organisasie het kort voor 08:00 inligting ontvang dat bande in Alexandraweg naby die ANC se kantore in Qonce (King William’s Town) gebrand word en dat daar  ʼn protesaksie op Frikkie Meyerweg in Vanderbijlpark is.

“Die situasies is reeds onder beheer. Die polisie se eenheid vir openbare orde is saam met plaaslike SAPD-lede ontbied,” sê Hemmens.

Daar was voorts enkele gerugte dat onluste ook in Mbombela (Nelspruit) uitgebreek het.

Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice sê daar was aan die buitewyke van die stad ʼn voorval waar enkele persone bande gebrand het, maar dat dit reeds opgeklaar is.

“Dis op die oomblik eintlik stil,” sê Gryvenstein.

Die nasionale gesamentlike en operasionele struktuur (NatJoints) het Sondag gesê hulle is gereed vir die moontlike oproer.

Volgens lt.genl. Robert Netshiunda, woordvoerder vir NatJoints, is hulle ook bewus van die aanhitsende boodskappe op sosiale media en wetstoepassers sal maatreëls tref om die veiligheid en sekuriteit van Suid-Afrikaners te verseker.

Netshiunda het diegene wat sodanige boodskappe versprei, opnuut gewaarsku dat die verspreiding van sulke boodskappe ʼn strafregtelike oortreding is.

Hy het die publiek verder versoek om nie op enige oproep tot geweld of misdaad te reageer nie.

Daar is ook ʼn beroep op gemeenskapspolisiëringsforums en soortgelyke sub-forums gedoen om soos altyd saam met die polisie te werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek wil nie he Cyril moet bedank nie. Want daar was nog NOOIT in die geskiedenis van ons republiek wat die president se opvolger beter was as die ou wat uitgaan nie. Oukei, ek dink Cyril is effe beter as Zuma. Maar ook maar net omdat dit ‘n vreeslike lae hekkie is om oor te spring. Maar van Verwoerd af tot by FW, en van Mandela af tot by Zuma was dit maar ‘n steil afdraend. Met net so ‘n klein hobbeltjie tussen De Klerk en Mandela en tussen Zuma en Ramaphosa.

jou gewete ·

ai genade moet jy dan nou die hoop mislukkings na HF Verwoerd noem.

jou gewete ·

hoekom nie, hys elk geval hopeloos en niks werd, hy het nog niks positief gedoen in al sy tyd nie. beloftes ja maar beloftes wat almal weet hy nie kan of wil uitvoer nie. hys n foefie

Ovelia ·

Die betogers sal enige verskoning uitdink om moles te maak. Wens di wdt wil verander dat geen betoging what so ever toegelaat word nie.n mens is al moeg vir hul dinge

Chris dupreez ·

Dit is hoe dit moet wees, daar moet altyd maksimum polisie teenwoordigheid orals wees, dit is hulle werk , nie om in die kentucky te sit en hul gesigte vol hoender te prop nie.

Frederik C ·

Bande is naby die ANC kantore gebrand. Hoekom nie liewer die ANC kantore afbrand nie ???

Meisie ·

Nee! Net nou skyf ons oor na 16% belasting om kantore oor te bou, jy kan vir jouself dink hoe “fancy” hulle dit gaan wil maak..

Jaco ·

“Lede van die ANC en ANC-jeugliga, die MKMVA, SAKP en Sanco beplan glo om aan dié betogings deel te neem.” Hülle betoog teen die ANC-regering. So eintlik betoog die ANC teen die ANC. Vreemd. Weet die ANC wat aangaan? En ergste van alles is, volgende verkiesing stem AL daardie mense wat nou teen die ANC betoog, wéér vir die ANC.

Misky ·

Die ANC betoog oor die ANC en wil die skoolseun skors….. wat ‘n klomp bollie sit ons nie mee nie?

Erika ·

Was daar ooit n Positiewe Verskil wat “sekere mense” doen Sonder om geweld te gebruik om konflik te hanteer,,,

Pierre ·

Oog verblindery deer die regering almal skreeu vir Cele se kop en skieleik is daar aansporing vir `n nasionale aanslag en dan word die vinnig gefnuik om ten toon te stel hy is in beheer.

Persheks Adri ·

Hoort so! SAPS moet net onthou 1 goeie daad vee nie die ander patetiese kere uit nie! Ongelukkig onthou ons dit ook al klink dit na ontevredenheid…

jou gewete ·

hou moed, dis maar die begin van die smarte, daar moet nog baie gemors word en afgebreek word voor die gety gaan draai. ek hoop net die dag wat die gety begin draai hou hierdie goedgelowige klomp weldoeners hulle net ver eenkant dat die gemors kan behoorlik uitwoed. hulle foeter altyd alles op met hulle sg goeie bedoelings

Strandloper ·

“Vinnige reaksie is belangrik” Wat het nou verander? Biekie geskrik vir jul self?

Jaco ·

Reageer die SAPD ook so vinnig in geval van ‘n plaasaanval of plaasmoord? Ek vra maar net…

Persheks Adri ·

Element van verrassing dis waarmee hulle besig is hel! Die klomp maak almal moeg verby werklik

annie ·

Die datum vir nog kattekwaad sal sekerlik nie aangekondig word nie… Maar die feit dat Zum se dokters uitstel gevra het vir ‘n sertifikaat laat mens wonder of die twee sake nie met mekaar verband hou nie.

Danie ·

Waarsku waarsku waarsku.
Te slap om teen die verspreiders van aanhitsboodskappe op te tree.
So die probleem sal bly en eerder vererger.

Charl ·

Enige verskoning is vir hulle ‘n goeie verskoning om te brand, te plunder en te moor, en daar sal redes gevind word om sulke optrede te regverdig !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.