Nasionale ramptoestand weens oorstromings aangekondig

Sowat 40 000 mense is dakloos gelaat. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand ʼn nasionale ramptoestand aangekondig in ʼn poging om effektief te kan reageer op die humanitêre en ekonomiese krisis wat deur die oorstromings in KwaZulu-Natal veroorsaak is.

Die regering is van mening dat die gevolge van die ramp nie net tot die provinsie van KwaZulu-Natal beperk is nie en dat dit daarom nodig is om ’n nasionale ramptoestand aan te kondig. Regulasies vir die hantering daarvan sal binne die volgende 24 uur in die Staatskoerant gepubliseer word. “Hierdie is ʼn humanitêre krisis en benodig ʼn grootskaalse reaksieplan om verligting te bring,” het pres. Ramaphosa Maandagaand tydens sy toespraak gesê.

Die amptelike sterftesyfer staan steeds op 443 mense, terwyl 48 nog vermis word. Sowat 40 000 mense is sonder ʼn woonplek gelaat. Grootskaalse skade is aangerig aan paaie, skole en gesondheidsinstellings. Maroela Media het ook vroeër berig ongeveer 600 skole is deur die vloede geraak, met meer as 120 wat erge skade opgedoen het. Volgens Ramaphosa word 70 000 leerders hierdeur geraak.

Die regering is veral bekommerd oor skade wat aan Durbanse hawe aangerig is en die ekonomiese gevolge wat dié skade op die hele Suid-Afrika kan hê. “Die Durban-hawe is een van die belangrikste en grootste hawens in Suid-Afrika. Ernstige skade is reeds aan die skeepsterminale aangerig en die pad wat na die hawe lei, is onbegaanbaar. Ongeveer 13 000 vragmotors gebruik daagliks dié pad en die ekonomiese skade wat gely word deurdat die hawe nie toeganklik is nie, kan nog nie gekwantifiseer word nie.”

Dit sal na raming sowat R5,7 miljard kos om skade aan die padnetwerk in KwaZulu-Natal te herstel. (Foto: Twitter / Fikile Mbalula)

Volgens Ramaphosa het herstelwerk aan die hawe reeds begin, en word vragmotors tans herlei om die hawe via ʼn alternatiewe roete te bereik. Daar is ook reeds begin om rommel wat deur die vloede veroorsaak is, uit die hawe te verwyder.

Die nasionale, provinsiale en plaaslike reaksie op die vloede sal in drie fases geskied, het hy gesê. Die eerste fase behels humanitêre verligting aan dié wat deur die vloede geraak word deur te verseker dat almal veilig is en dat daar na hul basiese behoeftes omgesien word. Tweedens sal inisiatiewe van stapel gestuur word om mense wat dakloos gelaat is, te hervestig en om dienste soos die voorsiening van water, krag en sanitasie te herstel. Derdens sal daar begin word om beskadigde infrastruktuur te herstel en te herbou.

Volgens Ramaphosa sal herstelwerk aan die N2 en N3 onmiddellik begin en sal ʼn opname van skade aan ander paaie onderneem word.

Ramaphosa sê die regering skat die ekonomiese verlies weens skade wat deur die vloede aangerig is, op etlike miljarde rande. “Die tesourie het reeds aangedui dat R1 miljard onmiddellik beskikbaar sal wees vir die herbou en herstel van kritieke infrastruktuur, met nog fondse wat later beskikbaar gestel sal word. Fondse uit die regering se Solidarity Fund sal ook aangewend word om dié in erge nood by te staan. Suid-Afrikaners word weereens uitgenooi om ʼn finansiële bydrae tot die fonds te maak.”

Ramaphosa het die polisie en nood-en-reddingswerkers bedank vir hul harde en onbaatsugtige werk die afgelope week en sy meegevoel uitgespreek met dié wat geliefdes in die vloede verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

miavos ·

Verskriklike skade. En ons ingenieurs en ander kundiges wat weet hoe om die herstelwerk te doen woon en werk in ander lande.

Tiptol ·

Hoop net regtig die geld word aangepas waar dit nodig is en verdwyn nie in privaat sakke in nie.

Hannes ·

“Nasionale ramptoestand” Hier word weer ‘n geleentheid geskep om fondse te plunder. Die mense wat die hulp regtig nodig het sal maar min sien van die biljoen. Ek is so moeg vir die ANC se toenemende en volgehoue onvermoë.

Stephen ·

Verklaar n noodtoestand teendie ANC in geheel. Ek stem saam met die kommentaar hier. Die fondse vir hulp aan slagoffers sal gewis in die ANC s sakke verdwyn. Hou hierdie spasie dop.

Jubba ·

Gulde geleentheid om n nasionale ramptoestand terug te kry onder die vaandel van vloede in Durban. Geen ramptoestand aangekondig toe die Vrystaat se boere erg onder die vloede deurgeloop het of met die springkaan plaag in die Noord Kaap wat die hele land se kos sekuriteit erg benadeel. Skelm soos die houtjie van die galg.

annie ·

Stadsbeplanning is duidelik nie aan die orde van die dag in Natal nie en diegene wat tenders kry slim wesens vanaf ‘n ander planeet. Die Weerdiens moes die land gewaarsku het dan sou baie lewens gespaar gewees het want so ‘n afsnylaag bou oor ‘n paar dae op. Waar is al ons kundiges heen? Ons kom nie weg van nasionale rampe nie met Eskom steeds aan die skarrel… 47 000 van hulle is glo nodig om ons ligte aan te hou…

efjy ·

Skenk net geld aan ‘n betroubare bron wat sal sien dat die geld vir die regte doel aangewend word en nie deur ‘n klomp skelms onder hulself verdeel word nie. Die mense wat gehelp word moet vloed slagoffers wees!!!!!!

Johan ·

So ons het n ramptoestand nodig om “effektief te regear”…hulle is n ramp en die hele land is in skerwe agv die cANCer regering van ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.