‘Nasionale slaagsyfer veel laer as dié van Afrikaanse skole’

sos-onderwysersgemoed-2018-10-17-05

Dr. Danie Brink van die Skoleondersteuningsentrum. Argieffoto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Indien Afrikaanse skole se uitslae nie by die 2018-matriekuitslae gereken word nie, sou die departement van basiese onderwys die afgelope week met ’n laer slaagsyfer, minder wiskunde-onderskeidings en ’n kleiner persentasie universiteitsvrystellings kon spog.

Dit is een van die bevindings wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) in hul 2019-matriekverslag maak.

Die SOS het Dinsdag sy jaarlikse matriekverslag by die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria bekendgestel. Dié organisasie stel sedert 2015 elke jaar ’n matriekverslag bekend, met ontledende data en kommentaar op die Nasionale Senior Sertifikaat se uitslae.

Elaine Krige, woordvoerder van die SOS, sê die doel van hierdie verslag is om ’n kritiese blik op die eksamenuitslae te werp, met spesifieke verwysing na die prestasie van Afrikaanse skole. Die verslag fokus veral op die uitslae vir wiskunde, wetenskap, rekeningkunde en Afrikaans Huistaal.

Volgens die SOS se berekeninge, was die algehele slaagsyfer vir matrikulante in Afrikaanse skole verlede jaar 86,9%, teenoor die nasionale slaagsyfer van 78,2%. Sou Afrikaanse skole uit die vergelyking gelaat word, sou die nasionale slaagsyfer 76,7% gewees het.

Vir die doeleindes van hierdie verslag sluit Afrikaanse skole enige skool in wat Afrikaans as huistaal aanbied. Die SOS kon ook vasstel dat enkelmedium Afrikaanse skole ’n slaagsyfer van 90% behaal het.

Luidens die verslag het Afrikaanse skole ook die volgende prestasies behaal:

  • Amper die helfte (49%) van Afrikaanse matrikulante het met universiteitsvrystelling geslaag, terwyl 31% (minder as ’n derde) van die nasionale aantal matrikulante kwalifiseer om aan ’n universiteit te studeer.
  • ’n Groter persentasie matrikulante in Afrikaanse skole het onderskeidings vir wiskunde behaal (7,5%), teenoor 1,9% van die nasionale groep matrikulante. Dit beteken vier keer meer matrikulante in Afrikaanse skole kry onderskeidings vir wiskunde, in vergelyking met die nasionale gemiddeld.
  • Tien uit die 20 skole wat die meeste onderskeidings tydens die 2018-matriekeksamen behaal het, is Afrikaanse skole. Die skool met die meeste onderskeidings in die land is die Afrikaans Hoër Meisieskool, met ’n totaal van 775 onderskeidings. Dit is gemiddeld 3,5 onderskeidings per leerling.
  • Al 20 skole wat die meeste onderskeidings, sowel as die meeste onderskeidings per leerling vir Afrikaans Huistaal behaal het, is Afrikaanse skole.
  • Paul Roos Gimnasium het die meeste onderskeidings vir wiskunde en rekeningkunde van al die skole in die land behaal.
  • Die Hoërskool Waterkloof het die meeste onderskeidings vir fisiese wetenskappe van skole landswyd behaal.

Dr. Danie Brink, hoof van die SOS, Marna Jordaan, hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, Valentyn van der Merwe, wiskunde-spesialis verbonde aan die SOS, Elaine Krige skakelbeampte van die SOS. (Foto met vergunning van Forum Nuus)

Valentyn van der Merwe, wiskunde-spesialis verbonde aan die SOS, meen Afrikaanse skole se puik prestasie in wiskunde kan toegeskryf word aan verskeie aspekte, insluitend hoogs opgeleide onderwysers met ’n hoë moraal. “Uit die SOS se vorige navorsing is bevind dat meer as 80% van hierdie onderwysers vlak 2‑wiskunde of hoër op universiteitsvlak het. Hierdie onderwysers het verder ook 97,3% behaal in die Gautengse rekordeksamen twee jaar gelede,” sê Van der Merwe.

“Ons huidige LUR van onderwys, mnr. Panyaza Lesufi, sê gereeld in die media dat ons leerders moet voorberei vir die 21ste eeu. Ons sien egter tans die teenoorgestelde wanneer ons leerders in wiskunde assesseer,” sê hy.

Hy wys daarop dat tegnologie dit moontlik maak om die antwoorde van die meeste vrae in wiskunde, wat nie interpretasie vereis nie, met ’n slimfoon uit te werk.

“Apps soos Wolfram Alpha en PhotoMath kan ingewikkelde wiskunde vir jou bereken. Die SOS kon binne 25 minute die eindeksamen slaag slegs met die gebruik van tegnologie. Vraag 1 en vraag 5 van Vraestel een, wat 27 punte van die vraestel uitgemaak het, kon ons binne enkele minute bereken,” sê Van der Merwe.

“Ons moet leerders eerder blootstel aan hoër orde denke en redenering in vandag se wiskunde-klaskamer. Ons sien dat Afrikaanse skole geweldig goed presteer. Dit self is ’n bewys dat hierdie skole ruimte het om hoër orde denke in die klaskamer te bevorder wat innovasie en kreatiwiteit stimuleer by leerders. Dit is kritiek om hierdie vaardighede vir leerders te leer, omdat hulle dit in ’n tegnologiese era benodig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Gert ·

Dis die rede hoekom Lesufi Afrikaanse skole wil vernietig, hierdie skole se prestasies bewys iets wat hulle nie wil weet nie.

Hanna Hoekom ·

Presies my denke! Nou is dit oorlog teen hierdie skole. Solank Afrikaans skole bestaan, sal die “learners” altyd aan n minderwaardigheids kompleks ly. Die standaard (en aanvaarbare gemiddelde ouderdom) by hierdie skole is net heeltemal buite bereik vir die meerderheid “learners”.

Poot ·

Afrikaans is groot!!!!
Baie geluk aan die leerders…… maar ‘n GROTER gelukwense aan die onderwysers wat ons kinders onderig.

Oupa D ·

Wat ‘n mooi stem in die woestyn! Dit verg oneindige vaardigheid om ‘n leerling tot die punt van ‘n matriekonderskeiding te ontwikkel. Dankie aan al ons puik Afrikaanse onderwysers.

Toe mond ·

Ek wonder soms of hierdie soort van inligting nie die ander jaloers maak nie. Hoekom iets wat werk, afbreek? Die antwoord, dan lyk die meeste nie so dom nie.

Charles ·

Baie geluk aan hierdie puik Afrikaner leerders en Afrikaanse skole, en natuurlik baie geluk aan my moedertaal Afrikaans, die kweker en motiveerder van uitnemendheid in Afrika, want DIT IS ‘n uitnemende en PRAGTIGE taal, MY TAAL!

Disselboom ·

Al wat hierdie statistiek bewys, is dat daar waarhede oor demografiese groepe se onderskeie vermoëns is wat nie gesê mag word nie: dis nie die die onderwys is Afrikaans wat die faktor is nie, dis die kenmerke van die volk wat in Afrikaanse skole sit wat die faktor is.

Elsa ·

Ons prestasies lyk so goed want ons onnies by Afrikaanse skole werk vrek hard te midde van die druk om ook jou spannetjie op die sportveld te laat presteer.

Sieg ·

So weet ons, net jammer ons wittes is nie welkom in SA nie. Hulle tel ons by wanneer dit hulle pas.

Spike ·

Dis nie nuut nie. Die skole se mense is ingestel op vooruitgang en hardewerk.

Janine ·

Dié gaan nou net veroorsaak dat daar meer wraak geneem gaan word teen die Afrikaanse skole.

Verskil ·

Ek sou dink dat die verskil tussen Afrikaanse en nie-Afrikaanse skole se uitslae baie groter sou wees. Meeste nie-Afrikaanse skole se hulpbronne is baie minder as die van Afrikaanse skole en hulle leerders kom nie uit ‘n akademiese agtergrond met ondersteuning soos wat meeste Afrikaanse kinders het nie. ‘n Leerder van ‘n ‘township’ skool wat 70% behaal vir Wiskunde moes heel moontlik baie harder werk vir sy 70% as ‘n Afrikaner kind wat 80% behaal en wat elke dag blootgestel was aan al die hulpbronne, ondersteuning en bekwame onderwysers. Dit wil vir my voorkom, nadat ek hierdie artikel gelees het, dat die Afrikaner kind se uitslae besig is om af te neem, indien AL die faktore in ag geneem word. Ek merk dus op dat die gaping tussen Afrikaner en nie-Afrikaner skole se uitslae besig is om te krimp.

Grys ·

Waar, maar nie alle engelse kinders is van n township af nie, en ek wonder ook baie die wiskunde wat hulle van praat, maar in elkgeval, oplieding is besig om nie meer belangrik te wees vir mense nie, sulke mense wat hulle kinders weerhou van skool gaan en goed te doen moet vervolg word.

Gert ·

Onthou net dat “swakker” skole se punte aansienlik gelig word, en elke jaar erger, so die verskil met Afrikaanse skole sal daardeur heeltyd krimp

Veritas ·

Geagte mnr Lesufi. Wees nou eerlik met ons. Is hierdie nie die rede vir U volgehoue aanvalle op Afrikaanse skole nie. Dit wil voorkom asof die prestasies van Afrikaanse leerlinge, aan Afrikaanse skole, U dwars in die krop steek. Jaloesie is darem maar ‘n nare ding. Dit vreet aan jou en die magtelose gevoel, wat daarmee saamgaan, laat jou irrasioneel optree.
Ek stel voor dat U, U kruistog teen Afrikaanse skole staak en hulle ondersteun. Deur hulle te ondersteun, kan U, uself op die skouer klop agv hul prestasies ipv im ‘n voortdurende verloorstryd te voer.
Wees ‘n wenner- Ondersteun die Afrikaner!

tamboti ·

Nee Verskil, die ware vergelyking is tussen die historiese prestasies aangepas met die verhoogde druk op Afrikaanse skole. En beter bly beter maak nie saak wat jy gorrel nie.
Maar kyk bietjie na die gemiddelde getal kandidate per skool: dit is 25% laer in die lands gemiddelde as in Afr. skole m.a.w Afr skole is deurgaans groter en/of voller as die lands gem.
Lesufu, bou nuwe skole en los Afr. skole uit!

Ekke ·

Al bogenoemde is goed en wel, maar is leerders werklik voorberei op tersiêre studie, of dalk net té veel met die lepel gevoer en afgerig?

Therese ·

Waarom is geen Afrikaanssprekende onderwyskundige bekommerd oor die onteenseglike daling in die standaard van skoolopleiding en eksamens sedert 19toet tot 2018 nie?
Die hoeveelheid onderskeidings grens aan die belaglike, iets wat voorheen so skaars soos hoendertande was. Het kinders, selfoon in die hand, superslim geraak binne ‘n paar dekades?
Ongeag die harde werk wat Afrikaanse onderwysers nog altyd insit, behoort hierdie ‘n bron van groot kommer te wees.

KwasiMojo ·

Stem saam. Elon Musk het (soos ek verstaan) net 1 onderskeiding by Boys High gekry. Vandag sou hy seker 12 onderskeidings kry.

Mariana ·

Baie geluk aan leerders en onderwysers. Afrikaans is my taal en my trots.

André Groenewald ·

In breë perspektief beskou ‘n sinlose oefening. In Afrikaansmediumskoolperspektief ‘n beledigende en niksseggende oefening teenoor die oorgrote meerderheid Afrikaansmediumskole en Dubbelmediumskole en Parallelmediumskole. Marna Jordaan is hoof van ‘n staatskool of soos sy dit graag sal wil noem, ‘n publieke skool. Feit is sy is ‘n werknemer van die staat. Sy behoort haar uit te hou uit polities gelaaide optredes en uitsprake. Die skool waarvan sy hoof is verdien om ‘n enkelmediumskool te wees en te bly en hierdie en ander soortgelyke “vol” skole behoort uitgelos te word, maar hierdie enkele skole is lankal nie meer verteenwoordigend nie en die jaarlikse pogings om skole soos Afrikaanse Meisies “uit te lig” behoort lankal gestaak te gewees het. Dit is snobisties, sinloos en beledigend vir denke mense.

Magda ·

…En dit is juis hoekom ons Afrikaanse skole nog meer onder skoot kom en hulle almal by diesulke skole wil inprop. Hulle moet ophou om hulle eie skole af te brand en te wil ‘piggy back’ op ons Afrikaanse skole – die hemel weet, wanneer gaan dit end kry? Mens raak nou gatvol. en na artikels soos hierdie vryf ons dit verseker onder hulle neuse en dit is die verkeerdste ding op die stadium om te doen.
Nogtans baie geluk aan al die matriek leerlinge wat geslaag het – met of sonder onderskeidings. My seun het ook matriek geskryf in 2018 en hy het geslaag in ‘n Afrikaanse skool. Mense, ons moet net nooit die stryd opgee nie…of sal ek sê INGEE nie.

Sanet ·

Laat ons maar liewer nie “dit” daar buite uitblaker en weer n lat vir ons self pluk nie. Ons Afrikaanse kinders moet besef om enige iets in die land te kan bereik moet hulle soveel harder werk om enigsins in ag geneem te word. Ek glo nog steeds aan n goeie gebalanseerde kind, baie keer hulle wat op Universiteit uitblink.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.