Musa Zondi, woordvoerder van die polisie, het gesê die lys sal op die laaste Vrydag openbaar gemaak word soos wat vroeër deur ʼn hof gelas is. “Ons het die appèl laat vaar.”
Die hooggeregshof in Johannesburg het op 3 Desember in die guns van die burgerregte-organisasies Right2Know (R2K) en die Suid-Afrikaanse Geskiedenisargief (Saha) beslis en die polisie beveel om binne 30 dae die lys van nasionale sleutelpunte openbaar te maak.
R2K en Saha het die aansoek gebring nadat die polisie twee jaar gelede geweier het om die lys openbaar te maak. Die staat het tydens die hofsaak aangevoer dat die sleutelpunte om veiligheidsredes nie bekend gemaak kan word nie.
R2K en Saha het ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) die hof genader. Die polisie het aangedui dat hy teen die uitspraak gaan appelleer. Nasionale sleutelpunte mag nie afgeneem word of as sodanig geïdentifiseer word nie.
Regter Roland Sutherland het in sy uitspraak gesê dit is “onwettig en ongrondwetlik” om nie die sleutelpunte openbaar te maak nie. Hy het die polisie beveel om R2K en Saha se regskoste te betaal.
Siyabonga Cwele, destydse minister van staatsveiligheid, het in November 2013 aangevoer dat die media nie foto’s van pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning mag publiseer nie aangesien dit ʼn nasionale sleutelpunt is.