Nasrec-veldhospitaal sluit binnekort

Nasrec-veldhospitaal (Foto verskaf deur die DA)

Die Gautengse provinsiale regering sal sy Nasrec-veldhospitaal aan die einde van Februarie 2021 sluit. Dit is danksy die uitbreiding van die staatsgesondheidsorgstelsel.

Dr. Nomathemba Mokgethi, LUR vir gesondheid, het Donderdag gesê daar is nie meer enige wetenskaplike, statistiese of kliniese redes om die fasiliteit se deure oop te hou nie. “Ons is nog altyd deur die wetenskap gelei deur die projeksies van die Wêreldgesondheidorganisasie in ons omvattende reaksie op die pandemie. Die sluiting van die Nasrec-veldhospitaal sal nie ʼn groot impak hê op die behandeling van Covid-19-pasiënte nie. Die Gautengse departement van gesondheid het nou die kapasiteit om 4 265 funksionele beddens te bestuur deur sy hospitaalinfrastruktuur, sou die behoefte ontstaan,” het Mokgethi gesê. Interne oorplasing tussen hospitale sal tekortkominge in gebiede verlig.

Die Nasrec-veldhospitaal is oorspronklik in April verlede jaar oopgemaak as ʼn 500 bed- isolasie- en kwarantynperseel om lede van die publiek te akkommodeer wat nie kon self-isoleer of by die huis in kwarantyn kon bly nie. Die fasiliteit is later uitgebrei om 1 000 beddens in te sluit en prioriteit 3-pasiënte te akkommodeer in die lig van ʼn verwagte toename in gevalle in Augustus 2020. Die kapasiteit is later weer met 500 verminder.

Sommige van die materiaal en toerusting uit die Nasrec-veldhospitaal sal in ander gesondheidsorgfasiliteite gebruik kan word.

Mokgethi het haar dankbaarheid betuig aan alle personeellede wat by die hospitaal gewerk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bernard ·

Wonder hoeveel pasiënte werklik daar behandel is – klink na tipiese regeringspropaganda

Pietertjie ·

En die belastingbetalers hóés, en hóés, en hóés….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.