Nat herfs op hande

(Argieffoto: Unsplash)

Die swaar reën wat nou al weke lank oor groot dele van die land uitsak, sal waarskynlik tot in die laaste week van Februarie voortduur, sê ʼn kenner. Suid-Afrikaners kan ook meer reën in die herfs te wagte wees.

Prof. Livhuwani Nemakonde, verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die afgelope paar weke se swaar reën kan aan ʼn kombinasie van faktore toegeskryf word.

Een van dié faktore is die La Niña-natuurverskynsel – die teenoorgestelde van El Niño wat gewoonlik lae reënval vir Suid-Afrika voorspel.

“In gewone terme beteken dit dat die meeste dele van die land bogemiddelde somerreënval sal ontvang, en dit is waarom sewe van die nege provinsies groot hoeveelhede reënval ontvang het wat tot oorstromings gelei het.”

Nemakonde sê die hoeveelheid reën speel natuurlik ʼn groot rol in die voorkoms en impak van oorstromings, maar só ook ander mensverwante faktore soos wonings in laagliggende gebiede, op vloedvlaktes, teenaan rivieroewers en swak infrastruktuur.

Swaar reën het die afgelope paar weke veral oor dele van Mpumalanga, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Limpopo uitgesak.

Die regering het intussen ʼn nasionale ramptoestand verklaar om ʼn kragtige en gekoördineerde reaksie moontlik te maak om die uitwerking van die oorstromings in sewe van die nege provinsies te hanteer.

Nemakonde het egter sy bedenkinge oor dié ramptoestand.

“Sodra ʼn nasionale ramptoestand verklaar is, verwag ons van die regering om onmiddellik hulpbronne beskikbaar te stel om diegene wat geraak word by te staan. Die hantering van die onlangse oorstromings in KwaZulu-Natal skets egter ʼn ander prentjie, aangesien diegene wat geraak is lank vir bystand moes wag.

“Ek is van mening dat die vertragings hierdie keer selfs erger kan wees, aangesien die regering tans met twee ramptoestande te doen het – een vir die elektrisiteitskrisis en die ander vir die oorstromings. ʼn Mens wonder waar die regering die middele, veral finansiële hulpbronne, sal vind om aan hierdie rampe aandag te gee.”

Nemakonde sê die private sektor en die burgerlike samelewing moet in hierdie verband met die regering hande vat om diegene wat deur die vloede geraak is by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.