Nat, koue naweek vir dele van SA verwag

Die weervoorspelling vir Sondag. Foto: SAWD.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het laat hoor dat daar dié naweek heelwat reënval oor verskeie provinsies verwag kan word.

Kevin Rae en Tennielle Ah Shene, weervoorspellers by die SAWD, het in ʼn verklaring gesê veral die Wes- en Oos-Kaap sal Saterdag en Sondag ʼn beduidende hoeveelheid reën ontvang.

Die Oos-Kaap kan veral Sondag swaar reënval verwag. Dié voorspelling kan egter in aanloop tot die naweek verander.

Volgens voorlopige voorspellings sal geïsoleerde buie asook donderbuie oor die sentrale en oostelike dele van die land voorkom.

“Vrydag, wanneer ʼn swak kouefront in Kaapstad aankom, sal die weerpatroon beduidend verander. Die suidwestelike deel van die Wes-Kaap word veral geraak. Dié spesifieke reënstelsel wat na verwagting beduidende reënval aan baie dele van die Kaapprovinsies sal bring, sal na verwagting egter nié baie verligting vir die Kaapse Skiereiland en die Bolandstreke bied nie. Dié stelsel sal inderwaarheid slegs 10 tot 15 mm reën vir die Kaapse metropool bring,” het Rae en Ah Shene gesê.

In teenstelling daarmee is die reënvoorspelling vir ander dele van die land volgens voorspellingsmodelle meer belowend.

Ander potensieel gevaarlike weerverskynsels kan egter saam met die stelsel voorkom.

Mense word gewaarsku om bewus te wees van gelokaliseerde vloede veral in laagliggende omgewings en afgeraai om laagwaterbrûe te gebruik.

  • Vrydag word daar nie veel reënval verwag nie, slegs ligte donderstorms oor die Hoëveld. Die kouefront sal môre oor die westelike dele van die Wes-Kaap aanland wat met ligte reën in die Skiereiland gepaard sal gaan.
  • Saterdag word donderstorms verwag terwyl die kouefront na Port Elizabeth sal beweeg. Bewolkte, koue en reënerige weer sal na verwagting die suidelike kuslyn en suidelike berge van onderskeidelik die Wes- en Oos-Kaap raak. Die SAWD waarsku dat reënval beduidend sal wees en gelokaliseerde vloede op plekke verwag kan word.
  • Sondag sal seetoestande langs die kus tussen Port Alfred en Richardsbaai na verwagting onstuimig raak en sodoende die risiko van stormvloede langs die kuslyn vergroot. Dié toestande sal reeds teen Saterdag begin vorm. “Sterk tot stormsterk suidwestelike winde kan die toestande langs die kuslyn vererger,” het Rae en Ah Shene gesê.

Koue en nat toestande sal oor die binneland van die Wes- en Oos-Kaap oorheers, maar sneeuval word nie verwag nie. Swaar en beduidende reën kan oor die oostelike dele van die Wes-Kaap sowel as die hele Oos-Kaap voorkom.

“Swaar donderstorms en swaar reënval kan die komende naweek sporadies oor die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo voorkom,” het Rae en Ah Shene gesê.

“Sommige van die donderstorms oor die Hoëveld, waaronder die oostelike dele van die Vrystaat, Gauteng en die Hoëveld van Mpumalanga, kan moontlik ernstig raak en gepaardgaan met sterk, skadelike wind en groot haelkorrels.”

Die SAWD het gewaarsku dat dié reënval slegs korttermyn-verligting vir die Wes- en Oos-Kaap sal bied.

Die SAWD sal die situasie monitor en die publiek op die hoogte hou van enige veranderinge in die voorspelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

NAT ·

♪♪ Aag bring tog vir ons net so ‘n bietjie reen♫♫ dan sal ons Kapenaars ophou met ween♪♫ want dit is soooooo droog hier by ons.

Trappies ·

Kyk ek verstaan nie mooi SA weerdiens nie. Hier bo se hulle die Oos-Kaap kan sondag swaar reen verwag maar op n ander nuus platform se hulle (SA weerdiens) dit is fop nuus. Die Herald-fietsren kan maar voort gaan. Geen erinsige reen.

Wes-Kapenaar ·

Asseblief ons vra net ‘n bietjie reën vir die droog geteisterde dele van die land, veral in die Wes-Kaap het ons dit dringend nodig.

Wellingtonner ·

Ek sien so uit na die paar druppels reen wat wel dalk ???? gaan val!
Ons braai uit hier is Wellington in die Boland van die hitte en die droogte!

Piet Pompies ·

Voorspelling, soos in die woord weervoorspelling is inligting wat uit verskillende oorde geneem word en dan vir jou resultate lewer, dan die weervoorspelling wat on op TV sien en radio luister. Hierdie inligting wat geneem word is veranderbaar soos die dag verloop, dit word warm, lugdruk daal, kouefront kom aan land. Later in die dag word die inligting weer versamel en ‘n ander weervoorpelling uitgeryk. Dit bly ‘n voorspelling, die waarheid is wat jy tans en in die verlede ervaar het. Gebruik weervoorspelling bloot as ‘n riglyn.

druppels ·

Sien is dus glo wat die reen in die Kaap en Boland aanbetref.
Dit sal my riglyn wees.

jaco ·

weervoorspelling vir die Wes-Kaap is onnodig, want ‘n ANC-raadslid het so ‘n jaar gelede gesê die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste kiesers daar vir die DA stem. So om reën te kry, raai ek die DA-kiesers in die Wes-Kaap aan om eerder te stem vir ‘n party wat glo in:
korrupsie
swak staatshospitale
swak onderwys
radikale ekonomiese transformasie
regstellende aksie wat op die lange duur (blykbaar totdat Jesus kom volgens die ANC) minderheidsgroepe totaal gaan verarm
Dis n skande dat n politieke party sulke godslastering pleeg en dis vreemd dat die enkele Jode en Moslems in die ANC en die talle atheiste uit die SAKP al hierdie nonsense glo, of ten minste niks teen dit sê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.