Nat, koue weer vir Kaap voorspel

Argieffoto.

Kapenaars word aangeraai om hul warm klere nader te trek met die oog op ʼn sterk kouefront wat op pad is en wat na verwagting met stormsterk wind en swaar reënval gepaard kan gaan.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gesê die kouefront sal die Wes-Kaap teen Donderdag tref waarna dit na die Namakwa-distrik van die Noord-Kaap gaan beweeg.

Die weerdiens het gewaarsku dat ʼn noordwestewind van 65 km/h tot 70 km/h teen Donderdag tussen Kaap Columbine en Kaap Agulhas kan voorkom.

ʼn Sterk noordwestewind van 50 km/h tot 70 km/h word ook teen Donderdag en Vrydag in die Namakwa-distrik verwag.

Swaar reënval wat tot oorstromings kan lei word Donderdag en Vrydag vir Kaapstad, die Kaapse Wynlande, westelike dele van die Overberg-distrik en die Weskus voorspel.

Die kouefront gaan teen Vrydag die suidoostelike gedeeltes van die land tref waar ʼn stormsterkte wind en rowwe seetoestande verwag kan word.

Temperature oor die hoogliggende dele van die Wes- en Oos-Kaap en die suide van die Noord-Kaap sal na verwagting aansienlik daal en tot uiters koue toestande lei.

Teen Saterdag behoort die kouefront die land te verlaat en die koue, droë lug sal na die binneland versprei wat koue toestande in die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga kan veroorsaak.

Intussen het die Stad Kaapstad en die provinsiale departement van water en sanitasie inwoners versoek om ondanks die onlangse reën steeds spaarsamig met water te werk.

Die gemiddelde damvlakke in die provinsie het teen Maandag op 31,51% gestaan in vergelyking met 20,97% verlede jaar dié tyd.

“Verlede week se reën het ʼn bietjie verligting gebring en damvlakke het stadig gestyg. Daar is egter nog baie meer reën nodig om ʼn merkbare verskil in damvlakke te maak,” het Rashid Khan, die departement se streekshoof, gesê.

Khan het gesê die departement sal dit slegs oorweeg om die huidige waterbeperkings op te hef wanneer die provinsie voldoende reën gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nettie ·

Nee man, dié kouefronte maak nie reg nie. Die Weerdiens voorspel koue en reën en dan sien ons hier in die Noord-Boland streek net so ‘n paar wolkies oor die berg loer, voor die wind dit sommer skoon weer terugwaai Paarl en Kaap se kant toe! Maar ja, iemand het eendag vir my gesê: “Worcester is Die Vet Kol – kom die reënwolke so oor die berg daar anderkant Rawsonville af, skrik dit vir Die Vet Kol en draai dan summier terug”.

sandra ·

Ek stel voor dat die waterbeperkings net verlig, maar nie opgehef moet word nie. Ons het almal nou al daaraan gewoond geraak om met die kommetjie in die stort te staan en daardie water elders te gebruik. Dit is nou al ‘n gewoonte, en ‘n goeie 1 daarby. Dieselfde geld vir die water in die kombuis, dit word in ‘n kommetjie getap en die, nie te vuil water, word op die plante uitgegooi. Gelukkig het ek nie ‘n tuin wat in stand gehou moet word nie, maar dieselfde reel kan daar ook geld, ek weet van mense wat dromme opgesit het vir gryswater en hul tuine pragtig in stand kon hou. ons moet meet WATERWISE raak.

John ·

Trek maar warm aan na Saterdag se Bokkestryd. Bloemfonteiners weet glo al dat as iets noemenswaardig in die stad sou plaasvind die Kaapse yswinde saam opruk en dan is bibber en beef almal se voorland. Hoekom? Dalk het dit te doen met daai een wedstryd toe Oom Danie C se span die’ dag nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.