Nat naweek hiér verwag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Wydverspreide reën- en donderbuie word weens ʼn sterk afsnylaagdrukstelsel van Sondag in dele van die Vrystaat, Lesotho, Noord- en Oos-Kaap verwag, wat teen Maandag ook na die Wes-Kaap sal versprei.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal dié reënweer na verwagting tot Woensdag in hierdie provinsies voorkom. Die stert van die afsnylaagdrukstelsel sal teen dan steeds reënval oor die Wes-Kaap tot gevolg hê, terwyl reënval en koeler temperature in KwaZulu-Natal en Mpumalanga tot gevolg sal hê.

Die weerdiens waarsku teen kitsvloede wat op plekke moontlik kan voorkom weens die swaar reën.

Hannelee Doubell, woordvoerder van weerdiens, sê die reënweer word deur ʼn afsnylaagdrukstelsel veroorsaak wat teen Sondag langs die weskus van die land sal ontwikkel.

“Afsnylaagdrukstelsels is wispelturig en soms moeilik om te voorspel. Hoewel die jongste numeriese weervoorspellingsmodelle nie ooreenstem met die intensiteit, posisie en verwagte ontwikkeling van die afsnylaagdrukstelsel nie, het soortgelyke weerstelsels in die verlede sporadies intense reënval tot gevolg gehad, wat tot oorstromings gelei het,” sê Doubell.

“Gegewe die onlangse reënval en verhoogde grondvog oor dele van die Wes- en Oos-Kaap, kan sporadiese swaar reënval die moontlikheid van oorstromings verhoog.”

Die weerdiens sal in die loop van die naweek gereeld weerwaarskuwings en opgedateerde weervoorspellings uitreik om die publiek op die hoogte te hou.

Volgens die weerdiens sal die reën met koue weerstoestande gepaardgaan, met ʼn verwagte maksimum temperatuur van tussen 10 °C en 16 °C wat Maandag in die binneland van die Kaapprovinsies en dele van die Vrystaat kan voorkom.

Maksimumtemperature kan tot onder 10 °C daal in die suidelike dele van die Namakwa-distrik in die Noord-Kaap en die noordelike binneland in die Wes-Kaap.

“Veeboere moet seker maak dat hul vee teen die uiters koue en nat weer beskerm is.”

Sterk winde en rowwe seetoestande (met golwe van tot 5 m hoog) word ook Maandag langs die Wes-Kaapse kus tussen Saldanhabaai en Plettenbergbaai verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.