Nat paar dae lê vir SA voor

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Diegene wat in die sentrale, suidelike en oostelike dele van die land woon, moet die sambrele uithaal want ʼn hele paar reëndae lê voor.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê daar word van Woensdag reën oor groot dele van die land voorspel, wat moontlik ook tot wydverspreide oorstromings in laagliggende gebiede kan lei.

Volgens Wayne Venter, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, word die naderende reënweer toegeskryf aan ʼn laagdrukstelsel wat na verwagting oor die westelike dele van die binneland sal ontwikkel.

“Die stelsel sal van Woensdag af na die sentrale binneland beweeg waar dit van Donderdag tot Saterdag sal stilstaan ​​voor dit Sondag verdwyn,” sê hy.

Hoewel die laagdrukstelsel eers later vandeesweek ten volle ontwikkel, word reën al van Maandag in die westelike dele van die land verwag. Dit sal dan ooswaarts versprei. Swaar reën- en donderbuie word Dinsdagmiddag oor die binneland van die Oos-Kaap voorspel.

“Dit is eers wanneer die laagdrukstelsel Woensdag ontwikkel wat die reënval wydverspreid sal word, met die moontlikheid van swaar reënval oor groot dele van die land. Die Wes- en Noord-Kaap sal hierdie toestande vryspring,” sê hy.

Weens die groot gebied wat deur die stelsel geraak word, kan koeler temperature ook deur die dag oor groot dele van Suid-Afrika verwag word.

Die temperature kan tot so mate daal dat plekke soos Pretoria, Durban en Oos-Londen se maksimum temperature met meer as 5 °C kan daal, van temperature in die middel tot hoë 30 °C tot tussen 22 °C en 26 °C.

Hoewel talle gebiede smag na meer reën en koeler temperature, maan Venter dat laagdrukstelsels berug is vir verwoestende weerstoestande, soos swaar reën en oorstromings, wat dit kan meebring.

“As gevolg van die stadige beweging van hierdie stelsel kan aanhoudende reënval vir etlike dae tot wydverspreide oorstromings oor die sentrale, suidelike en oostelike dele van die land lei.”

Die kans op reën vir Woensdag. (Foto: Skermskoot/Suid-Afrikaanse Weerdiens)

Die kans op reën vir Donderdag. (Foto: Skermskoot/Suid-Afrikaanse Weerdiens)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

RS ·

Ek wens julle mense wie die berigte skrywe wil reg skryf. “nat paar dae lê vir SA voor”. ….” sentrale, suidelike en oostelike dele van die land….daardie dele van die land maak nie die hele SA op die. Slegs dele van die land. Dus sê eerder “groot dele van SA”. Asb die ander dele van die land vrek van die hitte en droogte. Berig asb reg!

Christo ·

As julle so sê. Laasweek was daar talle waarskuwings uitgereik, maar dan val daar 2 druppels voor my deur.
Sal dit glo wanneer ek dit sien

Cherokee ·

As die reënvoorspelling 90% is, beteken dit steeds 10% kans op 2 druppels of minder. Blote rekenkunde.

Christo ·

Eks seker jou rekenkunde vertel jou ook dat `n waarskuwing vir hewige oorstromings uit 2 druppels bestaan

Samuel ·

Kom ons hoop dit reën nie net op TV nie. Die Oos-Kaap se kusgebiede kry nie reën nie en die droogte is baie erg. Port Elizabeth en Grahamstown is goeie voorbeelde.

Laeveld ·

Ek het al jare lank n onfeilbare reen aanwyser in my tuin, die “reenklip” as hy nat is reen dit, as hy droog is reen dit nie…100% akkuraat elke keer.

Papsak ·

Die weer al net do deur mekaar soos SA ek glo niks meer nie punt

Andre ·

Het julle al agter gekom.As dit droog is ,bid die mense vir reen.As dit bietjie te veel reen.Dan bid hulle dat dit ophou reen.Hoe ondankbaar is party mense?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.