Nat weer lei tot ongelukke op KZN-paaie

Een persoon is dood en een ernstig beseer (Foto: Verskaf(

Nooddienste aan die KwaZulu-Natalse kus is Vrydagoggend besiggehou met padongelukke en waarsku motoriste weer eens om versigtig in die nat weersomstandighede te ry.

Volgens Robert Mckenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, is een persoon vroeg op Oukersaand dood en een ernstig beseer nadat twee ligte motors op die R102 in Mtwalume, aan die Suidkus, gebots het.

By paramedici se aankoms op die toneel was die twee motors omtrent opgefrommel. Een motor is in die pad aangetref terwyl die ander langs die pad gestaan het.

Een van die motors is in die pad aangetref (Foto: Verskaf)

“Die beseerde persoon is per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere mediese sorg,” het McKenzie bevestig.

Die omstandighede rondom die ongeluk word ondersoek.

Die vrou het vermoedelik beheer oor die motor verloor (Foto: Verskaf)

In ʼn afsonderlike voorval op die M7 digby Bellvilleweg in Queensburgh moes ʼn vrou uit ʼn motorwrak bevry word nadat sy teen ʼn padversperring vasgery het.

Volgens Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, het die vrou omstreeks 08:00 vermoedelik beheer oor haar motor verloor en teen die padversperring gebots.

“Die vrou was vasgekeer in die motor en moet met gespesialiseerde toerusting uit die motor bevry word. Sy was ernstig beseer en paramedici moes haar op die toneel stabiliseer voordat sy hospitaal toe geneem is,” het Van Reenen gesê.

Die vrou se motor was die enigste voertuig in die ongeluk betrokke.

McKenzie het weer eens ʼn beroep op motoriste gedoen om hul spoed te verminder op die nat paaie en ʼn veilige volgafstand te handhaaf.

“Motoriste moet ook nie alkohol inneem wanneer hulle agter die stuur inskuif nie,” het hy benadruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.