Nat weer veroorsaak chaos op KZN-paaie

Die ongelukstoneel op die N2 naby die Tugela-brug. Foto: IPSS Medical Rescue

Nooddienste aan die KwaZulu-Natalse kus is Woensdagoggend besig gehou met talle padongelukke en ander voorvalle wat chaos op paaie veroorsaak het.

Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, het gesê in een van die voorvalle het ʼn motoris gesterf nadat ʼn vragmotor en motor reg van voor op die N2 naby die Tugela-brug gebots het. “Die vragmotor het as’t ware bo-op die motor beland en die bestuurder is in die wrak van die voertuig vasgekeer,” het Herbst gesê.

Beamptes van die Kwadukuza-brandweer moes meganiese toerusting gebruik om die bestuurder uit die wrak te bevry en hy is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die vragmotorbestuurder het geringe beserings opgedoen.

‘n Rotsstorting versper ‘n pad naby die Mandeni-gebied in KwaZulu-Natal. Foto: IPSS Medical Rescue

Die N2-Noord in die gebied is ʼn ruk vir verkeer gesluit terwyl die toneel opgeruim is.

In nog ʼn voorval is paramedici net ná 07:00 na ʼn toneel op die Dinkelmanweg naby Clermont in die noorde van Durban ontbied waar ʼn taxi en ʼn bakkie in ʼn botsing betrokke was.

Garrith Jamieson van Rescue Care Paramedici het gesê altesaam 14 mense is in die botsing beseer en moes op die toneel behandel en gestabiliseer word. Hulle is daarna na verskillende Durbanse hospitale geneem.

‘n Pad in die Mandeni-gebied wat oorspoel het. Foto: IPSS Medical Rescue

Volgens Jamieson was dit egter nie die enigste voorval waarop Rescue Care-paramedici vanoggend gereageer het nie. Paramedici is kort ná 07:30 ook na ʼn toneel op die M7 naby die N3-afrit ontbied waar ʼn vragmotor en motor gebots het. Jamieson sê die vragmotor het omgeslaan en op sy kant tot stilstand gekom.

“Drie insittendes van die twee voertuie het matige beserings opgedoen en is na verskillende hospitale geneem.”

‘n Ongelukstoneel op die M13 naby die Westwood-winkelsentrum. Foto: Rescue Care

Op die M13 naby die Westwood-winkelsentrum het ʼn motor omgeslaan en op die middelman tot stilstand gekom. Die bestuurder het matige beserings opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem. Ongeveer ʼn uur later was paramedici ook op die toneel van ʼn botsing op die M13 naby Fields Hill waar een mens geringe beserings opgedoen het en ook na ʼn hospitaal geneem moes word.

Volgens Herbst het sommige paaie in die Mandeni-gebied oorspoel weens swaar reën in die gebied. Paramedici is na ʼn toneel ontbied waar ʼn man se motor gedeeltelik van ʼn laagliggende brug afgespoel is en die motoris op sy motor se dak vasgekeer is. Ten tyde van publikasie was nooddienste steeds besig op dié toneel en Maroela Media wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MG ·

Is dit nou Mandeni (onderaan die derde foto) of Mandini (laaste paragraaf?

Tania Heyns ·

Dagsê MG

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die vingerfout, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

marous ·

Berig sou beter gelees het as ” Motoriste kan nie bestuur in nat weersomstandighede”

Sê maar net ·

Ek sou hoop dit was ‘n mens en nie ‘n dier wat bestuur het en omgekom het in bogenoemde ongeluk. Artikel sal beter gelees word as daar geskryf word van “persoon” pleks van mens

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.