Natasha Joubert wens Mej. Heelal-wenner geluk

Natasha Joubert tydens die uitdunrondes in haar aandrok. (Foto: Verskaf/Mej. Suid-Afrika Organisasie)

Natasha Joubert, Mej. Heelal Suid-Afrika, het die nuwe Mej. Heelal-kroonwenner geluk gewens nadat Andrea Meza (26) van Mexiko gisteraand in Florida in die VSA gekroon is.

Julia Gama van Brasilië en Janick Maceta Del Castillo van Peru is onderskeidelik as die eerste en tweede prinsesse aangewys.

Joubert (23), wat glo tydens uitdunrondes ʼn gunsteling was om met die kroon weg te stap, het nie die top-21 gehaal nie.

“Ek wil eerstens vir Andrea geluk wens. Sy is ʼn waardige wenner wat ʼn wonderlike Mej. Heelal gaan wees in ʼn tyd wat ons dit die meeste nodig het,” het Joubert na afloop van die geleentheid gesê.

“Voordat ek aan die kompetisie deelgeneem het, het ek reeds geweet dat ek groot skoene het om te vul en dat ek my beste moet gee. Ek hoop dat Suid-Afrikaners steeds trots is op my, al het ek nie ʼn plasing gekry nie. Ek wil almal bedank vir hulle wonderlike ondersteuning. Die Mej. Heelal-ervaring is iets wat ek nooit sal vergeet nie.”

Mej. Heelal 2019, Suid-Afrika se Zozibini Tunzi, het Meza tydens die 69ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie gekroon. Tunzi was weens die Covid-19-pandemie die kroondraer wat die langste die titel gehou het in die geskiedenis van die kompetisie, aangesien die kompetisie nie verlede jaar kon plaasvind nie.

Suid-Afrika se Demi-Leigh Tebow (née Nel-Peters), wat in 2017 as Mej. Heelal gekroon is, het as ʼn ontleder en kommentator by die geleentheid opgetree.

Stephanie Weil, hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, sê die organisasie is trots op Joubert. “Ons is trots op haar en hoe sy ons as ʼn organisasie en ʼn land verteenwoordig het op ʼn wêreldverhoog. Ons glo dat sy Suid-Afrikaners trots gemaak het en dat haar vertoning uitmuntend was van begin tot einde. Ons sien uit daarna om haar tuis te verwelkom waar haar reis as Mej. Heelal Suid-Afrika sal voortgaan.”

Die Mej. Heelal-geleentheid word weer vanaand, Maandag 17 Mei, om 21:30 op 1 Magic, DStv-kanaal 103, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

Ek verstaan die besigheid maar sleg…hoe word dit beoordeel? Etniese groepe sien tog skoonheid verskillend, is daar kategorieë? Dis interessant maar ek verstaan iets verkeerd, is daar ‘n Mej. Heelal in die ooste ook? Daar gaan duidelik baie werk in die kompetisie… is seker net gladnie in my verwysingsraamwerk nie.

Antoinette ·

Natuurlik is ons baie trots op jou. Jy is pragtig. Net jammer van die aaklige rok wat jy moes dra.

Gert K ·

Ek is trots op jou meisiekind, en in my oë is jy die wenner!!

Samuel ·

Dit gaan seker nie altyd net oor skoonheid nie, maar Natasha, ons SA’ners is trots op jou

David ·

Ek kannie sien hoe het sy nie gewen nie. Miskien is hulle smaak maar anders as myne.

Santie Gildenhuys ·

Die “allermooiste” is ‘n relatiewe begrip. Soveel hoofde, soveel sinne en smake! Ons moet onthou dat elke land met groot verwagting sy top mej. Skoonheid stuur. Ek dink die beoordeling is ontsettend moeilik! Natasha, jy was ‘n stralende ambassadeur vir ons land!

Karina ·

Natasha jy is ‘n pragtige mens, innerlik en uiterlik. Daar was regtig mooi meisies, nie almal kan wen nie. My hart was seer toe jy nie ingekom het nie, maar daar is ‘n rede daarvoor ook. Dalk is dit nie jou bestemde pad nie, jou pad is vorentoe en gaan nog beter uitwerk as die Mej Heelal Kroon. Sterkte, ek is baie trots op jou. Jy het gestraal in elke opsig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.