Natasha Mans-moord: ‘Net span al nouer’

Natasha Mans (Foto: Verskaf aan Maroela Media)

Die private speurder wat met die ondersoek na die moord op Natasha Mans (41) help, het ʼn beloning van R20 000 uitgeloof vir inligting wat kan help in die ondersoek.

Leon Rossouw loof die beloning uit vir enige betroubare inligting wat hom kan help om die persoon of persone op te spoor wat betrokke is by die verdwyning van en moord op Mans.

Mans se lyk is op 13 Junie in Dennis Casten, haar vriend met wie sy ’n huis gedeel het, se erf in Groenvlei buite Bloemfontein gevind. Casten het haar liggaam onder ’n boom gevind nadat hy haar op 31 Mei as vermis aangemeld het.

Sy het ’n skietwond in haar bors gehad en ’n rewolwer, wat waarskynlik nie die moordwapen is nie, is langs haar lyk gevind. Die polisie het vroeër gesê hulle vermoed haar lyk is eers in ’n vrieskas gehou voordat dit onder die boom gelos is.

Volgens Rossouw het hy al baie inligting ontvang en leidrade opgevolg maar is die groot vraag hoe Mans van die huis af verdwyn het. Rossouw het ʼn volledige tydlyn saamgestel rakende die laaste drie uur wat Mans lewend gesien is. Dit is gedoen uit beeldmateriaal van verskeie kringtelevisiekameras in die omgewing.

Mans het op 31 Mei, die dag van haar verdwyning, met haar silwer Audi verskeie kere van die huis af gery en terugkeer. Volgens Rossouw het sy die eerste keer om 06:45 die huis verlaat waarna sy verskeie kere teruggekeer en weer gery het.

Sy het die laaste keer op pad huis toe by ʼn vulstasie lugtyd gekoop. Rossouw het gesê Mans is om 09:08 die laaste keer lewend gesien op kringtelevisiebeeldmateriaal waar sy in haar motor gery het en sowat 200 m weg van die huis af was. Die huis is in ʼn doodloopstraat, so Mans moes huis toe gery het.

Natasha Mans die oggend toe sy lugtyd gekoop het. Foto: Verskaf

Volgens Rossouw is al die voertuie en persone wat op die dag van Mans se verdwyning in die omgewing was, ook geïdentifiseer.

Rossouw het gesê daar is nog twee dinge wat hy besig is om op te volg en wat moontlik met die ondersoek kan help. Mans, wat ʼn skoonmaakdiens bedryf het, het glo op die betrokke dag skoonmakers na ʼn kliënt se huis op ʼn plaas buite die stad geneem. Rossouw kon egter nog nie uitvind wie die kliënt was nie.

“Die ander ding is ooggetuies wat beweer daar het op die dag van Mans se verdwyning ’n wit Ford Ranger-bakkie met ’n aluminiumkappie en twee insittendes in ’n veld in die Groenvlei-omgewing gestaan. Daar is glo gesien hoe die twee persone in die veld stap waarna die een persoon gery en kort daarna weer teruggekeer het. So ons is ook nog op soek na inligting hieroor.”

“Die vraag is dus nou wie het haar by die huis weggevat? Ons is besig om ʼn prentjie te begin vorm van wat gebeur het en mens kan sê die net begin elke dag al nouer span om die persoon of persone wat betrokke is.”

Enigeen met inligting word gevra om Rossouw te bel by 079 240 3491.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

OWO ·

So ‘n mooi vrou wat op ‘n jeugdige ouderdom haar lewe verloor het.Hierdie land is siek en in ‘n misdaad vodde toestand.

Nella ·

So hartseer wat met haar en haar dogter gebeur het. Bitter hartseer.

Essa ·

Dis opmerklik hoeveel keer families nou privaat ondersoekers se hulp inroep by moordsake. Die SAPD se mannekrag is waarskynlik te oorlaai met sake om vinnige resultate te kry. Voorspoed met jou ondersoek mnr. Rossouw, mag jy daarin slaag om geregtigheid te kry vir die slagoffer.

Poppie ·

Is sy nie dalk in die huis vermoor en haar lyk toe verwyder? Dalk deur die mense van die bakkie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.