Nathaniel Julies: Vrae oor beamptes se agtergrond, misdaadrekords

Sers. Simon Ndyalvane and konst. Caylene Whiteboy gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Timothy Bernard/African News Agency)

Die DA sê hy gaan in die parlement vrae aan die polisie rig om meer te wete te kom oor die agtergrond en misdaadrekords van die drie polisiebeamptes wat beskuldig word van die moord op 16-jarige Nathaniel Julies van Eldoradopark.

Dié stap kom in die lig van bewerings dat een van die beamptes drie keer vantevore skuldig bevind is op strafregtelike aanklagte waaronder aanranding, aanranding met die doel om ernstig te beseer en kwaadwillige saakbeskadiging.

“Dit is uiters problematies aangesien iemand met ʼn kriminele rekord ingevolge die wet nie in aanmerking mag kom om ʼn polisiebeampte te word nie. Dit dui weereens op die polisie se versuim om die misdaadrekords van nuwe rekrute na te gaan,” sê Okkie Terblanche, die DA se adjunk-skaduminister vir polisie.

Voster Netshiongolo
gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Timothy Bernard/African news Agency)

Volgens Terblanche sterf al meer onskuldige mense aan die hand van polisiebeamptes.

“Ons het tydens die afsonderingstydperk gesien hoe die polisie en ander wetstoepassingsbeamptes gewelddadig op Suid-Afrikaners toeslaan omdat hulle bloot in hul eie voortuin gesit het. En in die geval van Nataniël, omdat hy bloot ʼn koekie geëet het.”

Die DA doen nou opnuut ʼn beroep op die polisie om polisiebeamptes met misdaadrekords uit die polisiediens te verwyder en die veiligheid van alle Suid-Afrikaners te verseker.

Nathaniel Julies (Foto: Twitter)

Simon “Scorpion” Ndyalvane, Caylene Whiteboy en Voster Netshiongolo word beskuldig van die moord op die 16-jarige Nathaniel, asook dat hulle met bewyse wou peuter.

Maroela Media het vroeër berig Nathaniel is verlede maand glo tydens ʼn skietery tussen ʼn bende en die polisie gewond waarna hy later die dag in ʼn hospitaal dood is.

Die familie van Nathaniel, ʼn kind met Down se sindroom, voer aan hy is dood omdat hy nie op versoeke van die polisie gereageer het nie. Hulle sê egter weens die sindroom kón hy nie reageer nie.

Die seun was op pad om te gaan koekies koop toe hy doodgeskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Persheks Adri ·

Julle gaan 99% van die mag moet weg jaag! Amper die hele lot het rekords en misbruik hul mag. Useless verby om die minste te sê

Annelize ·

Maar is dit nie ‘n vereiste dat jy ‘n stewige misdaadrekord moet he voor jy in aanmerking kom vir die Polisiediens of Parlement nie? Vra namens ‘n vriend.

Mudguard ·

My vriend in die polisie sè julle almal lieg. Jy word n sersant as jy kan lees en skryf. Jy word n kaptein as jy kan lees OF skryf. Jy word minister van polisie as jy iemand ken wat kan lees en skryf

Johann ·

Dis juis n voor vereiste. Niem dit indiens opleiding. Goe meer jy self gepleeg het…hoe groter jou rang.

twaalfboor ·

Ek het 35 jaar diens in die polisie en is ń vol kolonel. Verwys julle hierbo na my? Versigtig om te veralgemeen. Daar is meer polisiebeamptes wat getrou en met passie hulle werk doen as wat julle dink. Sal vir julle korrupte en ongewensde karrakters in die privaat sektor ook uitwys en die sektor veralgemeen.
Praat namens baie vriende.

my opinie ·

More Kolonel.
Ek stem saam Kol….
Die publiek kan so verAlgemeen. Ek lag maar net vir van hulle.

Scalla ·

Twaalboor, dankie vir die ouer pligsgetroue mense in die mag, ek stem een honderd persent saam met jou, jou diensjare spreek boekdele, daar was nog wet en orde met jou aanstelling en jy moes aan sekere vereistes en kriteria voldoen om bevordering te kry, vandag is dit onbevoegde politieke aanstellings. Onthou een vrot appel maak die kissie sleg.

Johannes Andreas ·

3 keer vantevore strafregtelik skuldig bevind, maar sê niks van vonnisse nie? Of is die uitsprake nog steeds hangend? Of het ‘die stelsel’ weer gerieflikheidshalwe gefaal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.