NatJoints neem terreurdreigemente ernstig op

Argieffoto ter illustrasie van Sandton. (Foto: Unsplash)

Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NatJoints) het in ʼn verklaring dit duidelik gemaak dat hy alle dreigemente ernstig opneem en reeds teen-intelligensiemaatreëls gereed het om terrorismebedreigings te assesseer en te versag.

Die Amerikaanse ambassade het Woensdag die kennisgewing op sy webwerf geplaas oor ʼn moontlike terreuraanval wat vir die naweek in Sandton beplan word. Volgens die waarskuwing word die aanval moontlik vir Saterdag beplan.

“Die Amerikaanse dreigementwaarskuwing kom op ʼn tydstip dat verhoogde wetstoepassingsigbaarheid en geteikende operasies reeds ingestel is as deel van die veiliger feesseisoenveldtog wat op 15 Oktober vanjaar begin het. Alle manne is slaggereed en alle wetstoepassingsagentskappe het kragte saamgesnoer om te verseker dat Suid-Afrikaners en diegene wat in hierdie land woon veilig is,” sê lt.kol. Robert Netshiunda, polisiewoordvoerder.

“Die Suid-Afrikaanse Intelligensiegemeenskap het hul Amerikaanse eweknieë betrek met ʼn verwagting dat geloofwaardige inligting gedeel sal word. As deel van samewerkingsooreenkomste wat die wetstoepassingsagentskappe met verskeie buitelandse agentskappe het, word inligting oor aspekte van wedersydse kommer gedeel.”

NatJoints – wat bestaan uit verskeie staatsdepartemente onder leiding van die Staatsveiligheidsagentskap (SSA), Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) – sê hy vergader op ʼn gereelde grondslag rakende die veiligheid en sekerheid van die land.

“Die veiligheid en sekerheid van burgers bly vir ons ʼn topprioriteit en wetstoepassingsagentskappe het maatreëls om bedreigings vir nasionale veiligheid te hanteer.”

NatJoints is verantwoordelik vir die veiligheid en sekerheid van alle groot sport-, kultuur- en ontspanningsgeleenthede. Die land sal die naweek van 28 tot 30 Oktober meer as 500 geleenthede hê, meer as 200 daarvan sal in Gauteng aangebied word.

“Dit vereis verhoogde polisiesigbaarheid, padblokkades en soek-en-beslagleggingoperasies. Toeskouers, aanhangers en besoekers kan vertragings in die toegang tot die lokale en ander strategiese punte verwag. Ons doen ʼn beroep op lede van die publiek om geduld aan die dag te lê en met wetstoepassingsagentskappe saam te werk.”

Netshiunda sê NatJoints neem met kommer kennis van die verspreiding van vals of misleidende boodskappe oor moontlike teikens van terreuraanvalle.

“Die algemene publiek word ontmoedig om misleidende inligting op sosialemedia-platforms oor terreuraanvalle te deel om sodoende te verhoed dat onnodige paniek en alarm geskep word.

“NatJoints kan die versekering gee dat die intelligensiegemeenskap ywerig enige inligting voorhande opvolg, maar nie die waarheid van enige bedreiging in hierdie stadium bevestig het nie. Sekerheidsagentskappe bly op ʼn hoë gereedheidsgrondslag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

casper ·

Aag asseblief – Julle chief Ramamparra dink nie dis belangrik nie so vergeet daarvan toe !!

Samuel ·

Ons NatJoints is hopeloos. Die VSA en Brittanje moes lawaai maak.

Debbie ·

Ons army en polisie kon nie eers looters onder beheer hou nie wat nog van terroriste

Nettie ·

Is mense wat beplan om die byeenkomste by te woon, ingelig? Nie almal is op sosiale media of sien elke dag koerante nie. Hulle moet darem self kan besluite of dit vir hulle die risiko werd is of nie…

Papsak ·

Ag asb hier nie eers meer ordentlike army nie wat nog te se polisiemag ag moenie laat ek kraam nie asb patete ander lande weet meer wat in SA aan gaan en gebeur as die swape wat hier sit en eiers bak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.