Natu-adjunk ontvang doodsdreigement ná ‘sluipmoordpoging’

Allen Thompson. Foto: ANA.

Allen Thompson, adjunkpresident van die National Teacher’s Union (Natu), het Donderdag gesê hy het ʼn doodsdreigement ontvang sedert hy verlede maand ʼn mislukte “sluipmoordpoging” oorleef het.

Thompson het aan African News Agency gesê die dreigement is per telefoon aan hom gerig en is reeds by die polisie aangemeld. “Sedert die aanval het ek een lewensdreigement ontvang, maar niks wat gereeld was nie.”

Natu het op die aand van die mislukte aanval vir Thompson privaatsekuriteit aangestel, asook privaatondersoekers aangestel om te help met die saak

“Ons glo steeds dit was ʼn sluipmoordpoging wat op die laaste minuut van stryk gebring is en ons wag vir meer stukkies van die legkaart om inmekaar te steek. Ons wag vir die polisie om vir ons meer inligting te gee ná hul ondersoek. Hulle moet ʼn omvattende ondersoek doen, maar ook bewus wees van ons vermoede dat dit ʼn poging tot sluipmoord was.” het Thompson gesê.

Thompson het gesê hy is in kennis gestel dat sy saak na die polisie se provinsiale taakspan oorgeplaas is.

Maroela Media het vroeër berig Thompson is 11 Mei deur ʼn groep “swaar gewapende” mans aangeval toe hy van Natu se hoofkantoor in Empangeni na Durban gereis het.

Die verdagtes het hom in ʼn lokval gelei toe hy die N2-afrit neem. Die koeël het deur die voorruit gebars en hom in die skouer getref. Hy kon daarin slaag om deur die verkeer te vleg en homself na die uMhlanga hospitaal te neem – alles terwyl sy aanvallers hom steeds agtervolg.

Siphosethu Ngcobo, Natu-president, het gesê die verdagtes het hom agternagesit met die bedoeling “om hom dood te maak”, maar hy het onder hulle uitgejaag en by die hospitaal ingehardloop. Hierna het die verdagtes, met klapmusse aan, glo ook die hospitaal binnegestorm, maar nie daarin geslaag om Thompson op te spoor nie.

Die verdagtes het volgens hom daarna Thompson se voertuig “geplunder”. “Die verdagtes het weggekom met sy dokumente, ʼn onbekende bedrag geld, twee skootrekenaars en baie belangrike inligting wat beskou word as die hoofsleutel tot die naderende forensiese ondersoeke rakende die KZN-onderwysdepartement.”

Natu vra dat die KwaZulu-Natalse departement van onderwys onder Afdeling 100 geplaas word – dit beteken dat die nasionale departement hul administrasie sal moet oorneem.

Een van die kwessies wat Natu aanspreek is die R40 miljoen wat die departement aan sanitêre ware vir publieke skole spandeer het. Hulle voer aan dié sanitêre ware, wat in skole ophoop as gevolg van ʼn reuse-ooraanbod, dra nie eens die goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) weg nie.

Natu beweer ook die provinsie se multimiljoenrand-skoolvoedingsprogram moet ondersoek word vir ongerymdhede.

Thompson het aan ANA gesê hulle het dit by die laaste vergadering met die provinsiale onderwysdepartement duidelik gemaak dat hul lede oortuig is daarvan dat hulle iets te doen gehad het met die poging om sy lewe te neem.

“Die departement het die aantyging verwerp en gesê hulle sal tydens die polisieondersoek vrygespreek word,” het Thompson gesê.

Kol. Thembeka Mbhele, woordvoerder van die polisie, het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie en die polisie in Durban-Noord ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanzie ·

Skrikwekkend. Lyk vir my KZN is die plek om te vermy. Alles wat sleg is gebeur daar. Blyk ook dat wanneer jy jou werk eerlik en reg wil doen, die “ander kant van die draad” net eenvoudig ontslae van jou sal raak.

Ralph ·

KZN is mos Zuma se riool hool. Hy het hul dan toestemming gegee om aan te gaan met korrupsie en plunder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.