Natuurbewaarder Ian Player oorlede

Gary en Ian Player

Gary en Ian Player

Die bekende natuurbewaarder dr. Ian Player, broer van golfspeler Gary Player, is Sondag in die Karkloof-vallei in KwaZulu-Natal oorlede, het die Wildernis-stigting gesê.

“Player (87) is omstreeks 12:00 vreedsaam oorlede na ʼn kort siekte,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. “Hy het sy lewe toegewei aan natuurbewaring en veral die bewaring van renosters.”

Gerugte oor Player se afsterwe het Vrydag die ronde gedoen toe Gary op Twitter geskryf het: “My geliefde broer Ian het sy kano op die rivier van die lewe laat vaar en hy sal binnekort na die anderkant geneem word. Ek gaan jou mis. Liefde.” Project Rhino KZN se woordvoerder, Sheelagh Antrobus, het kort daarna bevestig die twiet was ʼn misverstand.

Player, wat daarvoor bekend staan dat hy die witrenosters van uitsterwing in KwaZulu-Natal in die 1950’s gered het, het verlede Donderdag ʼn beroerte gehad. Hy het op talle parkerade gedien tydens sy leeftyd, insluitend SANParke. Hy het ook ʼn aantal bewaringsorganisasies op die been gebring en boeke geskryf, insluitend een wat sy passie vir kanovaart beskryf, Men, Rivers and Canoes, en ʼn biografie genaamd Into the River of Life.

Hy word oorleef deur sy vrou, twee seuns en ʼn dogter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.