Natuurlike immuniteit dalk beter as entstof?

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Al meer navorsing dui daarop dat dié wat reeds Covid-19 onder lede gehad het, ’n genoegsame weerstand teen die virus opgedoen het wat die toedien van die entstof oorbodig maak. Sommige kenners meen selfs dat natuurlike teenliggame teen Covid-19 selfs sterker is en langer hou as dié wat deur die entstof verskaf word.

Sommige dokters is egter steeds van mening dat dit nodig is om die entstof te kry, al het ’n persoon reeds herstel van Covid-19.

Dié kwessie is onlangs op die spits gedryf toe ’n Amerikaanse professor die hof genader het, toe die George Mason Universiteit in Virginia al sy werknemers wou dwing om die inenting te kry. Todd Zywicki het in hofstukke aangevoer dat hy reeds Covid-19 onder lede gehad het, en dus ʼn natuurlike weerstand teen die siekte opgebou het. Hy het gevra dat die universiteit hom van die beleid kwytskeld en die hof het in sy guns beslis.

Die nie-winsgewende organisasie New Civil Liberties Alliance, wat Zywicki verteenwoordig het, het na afloop van die uitspraak gesê dit is kommerwekkend dat talle organisasies en instellings weier om wetenskaplike bewyse te aanvaar dat natuurlike immuniteit net so sterk of selfs sterker is as dit wat deur die entstof verskaf word.

Al meer navorsing oor natuurlike immuniteit

Navorsing wat in Junie vanjaar in die joernaal MedRxiv gepubliseer is, dui daarop dat individue wat reeds Covid-19 onder lede gehad het, waarskynlik nie sal baat by die Covid-19-inenting nie. Die navorsing het 52 000 gesondheidswerkers in die VSA ingesluit. Net meer as 3 800 van dié wat aan die navorsing deelgeneem het, het reeds Covid-19 opgedoen.

Die navorsing het bevind dat geen van die deelnemers wat voorheen Covid-19 opgedoen het, weer Covid-19 oor ʼn tydperk van vyf maande opgedoen het nie. “Die inenting van dié wat nog nie Covid-19 opgedoen het nie, kan dus met sekerheid geprioritiseer word.”

(Argieffoto: Unsplash)

Nog ʼn navorsingstudie wat in Maart vanjaar in The Lancet gepubliseer is, dui daarop dat persone wat reeds Covid-19 opgedoen het, slegs ʼn 15% kans het om dit weer op te doen. Dié navorsing is gedoen deur die Covid-19-toetsuitlsae vir 4 miljoen mense in Denemarke te ontleed.

Navorsing wat in April ook in MedRxiv gepubliseer het, dui daarop dat pasiënte wat Covid-19 opdoen, effektiewe weerstand op die lang duur teen Covid-19 opdoen. Soortgelyke navorsing in Clinical Microbiology and Infection het bevind dat dié weerstand ten minste 12 maande kan hou. Hierteenoor waarsku wetenskaplikes dat dit wil voorkom of die inenting teen Covid-19 net sowat ses maande hou.

Dr. Naseeba Kathrada, ’n algemene praktisyn van KwaZulu-Natal en stigter van die I Can Make a Difference-doktersgroep wat hom beywer vir die gebruik van ivermektien as behandeling vir Covid-19, meen ook natuurlike immuniteit is beter as die immuniteit wat die entstof bied.

Sy sê dit is nie nodig om jou te laat inent as jy reeds van Covid-19 herstel het nie en dat natuurlike immuniteit eintlik beter is, aangesien die risiko van newe-effekte nie bestaan soos in die geval van die entstof nie.

Nie almal stem saam nie

Sommige Suid-Afrikaanse medici hou egter vol dat mense steeds teen Covid-19 ingeënt behoort te word, al het hulle die virus voorheen onder lede gehad.

Dr. Angelique Coetzee, nasionale voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), het vandeesweek aan Maroela Media gesê dit is ongelukkig nog nie duidelik hoe lank hierdie sogenaamde natuurlike immuniteit teen Covid-19 hou nie.

Sy sê vyf van haar pasiënte wat verlede jaar rondom Junie Covid-19 opgedoen het, het weer tydens die derde golf positief getoets vir die virus.

Dit is egter algemeen bekend dat die Covid-19-entstof ook nie waarborg dat pasiënte nié Covid-19 sal opdoen nie, maar beskerm pasiënte in meeste gevalle teen ernstige siekte of sterfte.

(Argieffoto: Unsplash)

Kathrada gee toe dat dit nie in die stadium duidelik is hoe lank natuurlike teenliggame beskerming teen Covid-19 sal bied nie, maar glo dit sal veel langer hou as die immuniteit wat die entstof bied. “Ons weet nog min van die entstof, maar dit is algemeen bekend dat sommige teenliggame – nie noodwendig teen Covid-19 nie – ’n leeftyd kan hou.”

Sy sê ’n ingeënte persoon sal ná die entstof aanvanklik ’n hoë aantal teenliggame hê, maar dat dié immuniteit eindelik stelselmatig begin afneem.

Coetzee verwys om die beurt na onlangse navorsing deur die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) waarin daar bevind dat die immuniteit wat die entstof bied 2,3 keer beter is as natuurlike immuniteit.

Die navorsing is in Julie onder pasiënte in die Amerikaanse deelstaat Kentucky gedoen en toon dat diegene wat nie ingeënt is nie, meer as twee keer méér geneig is om weer Covid-19 op te doen vergeleke met dié wat volledig ingeënt is nadat hulle vantevore die virus opgedoen het.

Coetzee sê die nuwe variante van Covid-19 is ook problematies aangesien pasiënte wat in die eerste virusvlaag positief getoets het, dalk nie ’n voldoende immuunrespons teen die nuwe variante het nie. Dit terwyl toetse reeds getoon het dat die Pfizer-entstof beskerming teen alle bestaande variante bied.

Sy verwys spesifiek na die Beta- en Delta-virusvariante wat die oorspronklike teenliggame van die variant wat in Maart verlede jaar voorgekom het kan omseil.

Coetzee glo dus pasiënte kan hulle beslis laat inent selfs nadat hulle Covid-19 opgedoen het. “Dit is in dié stadium net veiliger om jou te laat inent en jou immuunstelsel ’n hupstoot te gee.”

Dr. Cloete Jansen van Vuuren, spesialis in oordraagbare siektes en hoof van die departement van interne geneeskunde by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein, meen ook dat die entstof groter immuniteit as natuurlike teenliggame kan bied.

“Die entstof gee ook vir jou ’n breë spektrum van immuniteit omdat dit al die variante dek. Daar is by my geen twyfel nie dat dit voordele inhou om ingeënt te word al het jy al Covid-19 gehad.”

Kathrada beveel aan dat pasiënte ’n Rapid Antigen-toets ondergaan om te bepaal of hulle oor teenliggame teen Covid-19 beskik, aangesien ʼn PCR-toets (ook bekend as polimerase-kettingreaksietoets) volgens haar nie altyd so akkuraat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.