Deur Megan Gittins
Bevindinge van ʼn interdissiplinêre navorsingstudie by die Universiteit Stellenbosch (US) toon dat byprodukte van sitrus en druiwe, wat meestal as afval beskou word, moontlik in die produksie van natuurlike voedselpreserveermiddels gebruik kan word.
“Ons navorsing toon dat die gebruik van byprodukte van sitrus en wyn wat ryk is aan bioaktiewe komponente ’n doeltreffende, goedkoop, maklik beskikbare en omgewingsvriendelike platform vir die produksie van natuurlike en volhoubare voedselpreserveermiddels kan bied,” sê dr. Cletos Mapiye van die US se Departement Veekundige Wetenskappe.
Begrip oor die fitochemiese samestelling (biologies-aktiewe verbindings), antioksidante, antimikrobiese doelmatigheid, veiligheid en stabiliteit van hierdie byprodukte gedurende die voedselverwerkingsproses is uiters belangrik vir die suksesvolle aanvaarding van natuurlike preserveermiddels, verduidelik Mapiye.
“Bioaktiewe fitochemikalieë speel ’n belangrike rol in die preservering van voedsel deur die geur, kleur, tekstuur en voedingstowwe te behou; terselfdertyd verminder dit ook die moontlikheid om ’n siekte deur voedsel op te doen. Dit kan potensieel ook bydra tot die voorkoming van kroniese siektes danksy die antioksidant-eienskappe,” sê hy.
Die druiwepitte en -afval sowel as die skil en pulp van mandarynlemoene wat in Suid-Afrika gekweek is, is deur die navorsers ontleed om die fitochemiese samestelling, antioksidant- en antimikrobiese eienskappe te onthul.
“Oor die algemeen het druifpit-ekstrakte die hoogste antioksidant-aktiwiteit van al die ekstrakte wat getoets is. Antimikrobiese aktiwiteite het die meeste in ekstrakte van mandarynlemoenskil en -pulp voorgekom, gevolg deur die ekstrakte van druiwepitte en -pulp.
“Ekstrakte verkry uit druiwepitte en mandarynlemoenskil en -pulp kan individueel of gekombineerd as uitstekende antioksidante en antimikrobiese bronne vir die moontlike aanwending in voedsel oorweeg word,” sê Mapiye
Hy verduidelik dat dié byprodukte ʼn lewensvatbare alternatief vir sintetiese preserveermiddels kan bied. “Danksy hul antimikrobiese eienskappe kan mandarynlemoenskil en -pulp ’n geskikte alternatief vir sulfate bied en sodoende die allergierisiko’s wat die gebruik van sintetiese preserveermiddels inhou, verminder,” sê hy.
Danksy verbruikers se gesondheidsbewustheid, vermy hulle sintetiese gepreserveerde voedsel wat moontlik natuurlike preserveermiddels ʼn hupstoot in die voedselbedryf kan gee. Dit kan ook ʼn bydrae tot volhoubare voedselstelsels maak aangesien ʼn groot aantal voedsel op ʼn jaarlikse basis gemors word.
“Voedselbederwing lewer ’n groot bydrae tot die verlies of vermorsing van sowat 1,6 miljard ton voedsel per jaar. In Suid-Afrika beloop na-oes voedselverliese en vermorsing tot 10 miljoen ton per jaar,” sê Mapiye.
Hy beklemtoon dat minstens 40% van die miljoen ton mandarynlemoene wat jaarliks geproduseer word, vir die produksie van lemoensap gebruik word. Dit beteken dat tussen 50% en 70% van alle skille, pulp en pitte verlore gaan.
“Daarby word 1,5 miljoen ton druiwe vir die maak van wyn geproduseer, met druiwe-afval wat 20% tot 25% van die gepersde druiwe op ’n droë-inhoudgrondslag uitmaak,” sê hy.
Omdat daar ʼn gebrek aan navorsing oor die preserveringsvermoë van druiwe- en sitrusbyprodukte in Suid-Afrika is, moet die bioaktiwiteit en ware voordele hiervan eers vasgestel word voordat dit op voedsel toegepas kan word.
“Verdere navorsing om die veiligheid en doeltreffendheid van sulke produkte in voedsel geldig te verklaar, is nodig,” voeg Mapiye by.
‘n Mooi Afrikaanse term vir die Engelse ‘by-product’ is ‘neweproduk’. Dis ‘n algemene term wat ter sprake kom by die berekening van produkte se vervaardigingskoste.
Baie dankie AJ – ek stem saam dat neweproduk baie beter klink as byproduk.