Navorser onthul SA se groot rol in stryd teen Covid-19

Prof. Linda-Gail Bekker. (Foto: Robin van Lonkhuijsen/ANP/AFP)

Die Kaapse Persklub het Woensdag die merkwaardige grootliks onvertelde verhaal gehoor van die sentrale rol wat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes en landsburgers speel in die wêreldwye stryd teen Covid-19.

Aan die woord was prof. Linda-Gail Bekker van die mediese fakulteit aan die Universiteit van Kaapstad, wat saam met haar kollegas prof. Glenda Gray en prof. Shabir Mahdi van die Universiteit van die Witwatersrand hul wêreldwye kontakte gebruik het om vir Suid-Afrika entstof teen Covid-19 te verkry te midde van die storm en drang van wêreldwye en plaaslike entstofverkryging.

Daarmee het sy die sluier gelig rakende ’n avontuurlike, riskante en suksesvolle projek van dag en nag werk aan entstofverkryging in landsbelang vir die red van lewens terwyl ander gekla, stilgesit, gewag of hulself met ander dinge ingespuit het.

Ten wortel van die verhaal lê die wêreldwye netwerk van viroloë wat sedert die 1980’s onverpoosd werk om genesing van ’n ander oordraagbare siekte, MIV/vigs, te vind.

En in die middel van daardie netwerk is dr. Anthony Fauci, nou al tagtig jaar oud en hoof van die Amerikaanse Instituut vir Oordraagbare Siektes, hoof‑ mediese adviseur vir pres. Joe Biden en pionier en grondlegger van die Amerikaanse stryd teen MIV/vigs in die 1980’s, in stryd met die voormalige Amerikaanse president, Ronald Reagan, soos gedokumenteer in Randy Shilts se boek And the Band Played On.

Bekker en Fauci ken mekaar al van daardie dae af, en Fauci se fokus op Suid-Afrika is versterk tydens die stryd teen oudpres. Thabo Mbeki se werklikheidsontkenning oor MIV/vigs. Dit het voortgeduur tydens die vestiging van Suid-Afrika se antiretrovirale program, wat tans die omvattendste ter wêreld is.

Oor die afgelope veertig jaar het Fauci dus geduldig wêreldwyd ’n netwerk geskep sodat beter gereageer kon word op die volgende groot virologiese uitbreking as wat met MIV/vigs die geval was, want so iets sou wel een of ander tyd kom.

Daar was ’n tikkie bitterheid by Bekker te bespeur toe sy verduidelik het dat een van die verskille tussen die 40 jaar waarin geen genesing (wel voorkomende profilakse en onderdrukking) van MIV/vigs gevind kon word nie en die ontwikkeling van ’n entstof teen Covid-19 binne 11 maande, die besteding van $39 miljard aan ’n entstof teen Covid-19 is.

Dit is vyftig keer meer as wat al ooit aan MIV/vigsnavorsing bestee is, het Bekker opgemerk.

Fauci se wêreldwye netwerk is geaktiveer kort nadat die eerste Covid-19-identifikasie in Januarie verlede jaar in China gekarteer is. Kliniese toetse is ook in Suid-Afrika, as een van Fauci se sleutelpunte, gedoen. Spoed en fokus was belangrik sodat die belowendste entstowwe geprioritiseer kon word eerder as om die pogings te versplinter.

Daar is dus aanvanklik vier toetse van 30 000 mense elk gelyktydig wêreldwyd gedoen, met die aanvanklike fokus – soos geleer uit die MIV/vigs-ervaring – op die voorkoming van sterftes en gevalle in intensiewe sorg eerder as om alle aspekte te probeer hanteer.

Nog ’n belangrike les uit daardie MIV/vigs-ervaring – en ook die stryd teen tuberkulose – was om reguleerders aan boord te kry om die goedkeuring van die belowende entstowwe te bespoedig, wat ’n groot rol in die sukses van toetsprogramme gespeel het.

Bekker het hulde gebring aan die maatskappy Johnson & Johnson en aan Fauci, wat die enigste was om Suid-Afrika se uitstekende kundigheid en rekord in ag te neem en van die begin af die land by die proses te betrek. Pfizer het later gevolg en Moderna gaan dit waarskynlik binnekort doen.

Vanaf Oktober verlede jaar het Suid-Afrika ongeveer ’n sesde van die kliniese toetse wêreldwyd uitgevoer.

Baie hiervan was danksy die werk van prof. Shabir Mahdi by Wits, wat dag en nag gewerk het om besluitnemers van Suid-Afrika se geskiktheid te oortuig.

Nog ’n bydraende rol was volgens Bekker die sterk politieke leiding wat uitgegaan het van die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, wat tans in die pekel is en wie se afwesigheid volgens Bekker hopelik nie ’n verslapping van die regering se fokus in die hand sal werk nie.

’n Beslissende oomblik was toe dit voeër vanjaar aan die lig gekom het ’n groot hoeveelheid Johnson & Johnson-dosisse wat vir kliniese toetse bestem was, wêreldwyd verlore sou gaan omdat dit nie gebruik sou word nie.

Die Suid-Afrikaners het aan die werk gespring en met Fauci se hulp 500 000 dosisse bekom waarmee die meeste van die land se gesondheidswerkers sedertdien ingespuit is. Hiervoor was die steun van die regering en die reguleerder Sahpra volgens Bekker onontbeerlik en bepalend.

Een van die groot twispunte oor die vertraging met die aanvang van Suid-Afrika se inentingsprogram was die besluit in Maart om ’n miljoen dosisse Astra Zeneca-entstof wat in die land aangekom het, nie te gebruik nie nadat ’n platgeslaande Mahdi bevind het dit is nie doeltreffend teen die Suid-Afrikaanse Covid-variant nie.

Die entstof is aan ander Afrikalande verkoop waar die variant nie voorkom nie, ’n besluit wat sedertdien in baie kringe gekritiseer is.

Bekker het haar steun aan die besluit toegesê, gegrond op die inligting wat destyds beskikbaar was, en gesê dit was die enigste verantwoordelike besluit om te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Madelein ·

Ek sal nou nie vir Fauci ophemel nie siende dat dit nou begin uitkom dat hy ‘n sleutel was wat geld by die Wuhan lab gekry het om ‘Gain of function’ te doen op die Covid virus. Laat dit uitkom hoe hy die Chinese gehelp het om hierdie virus wat nooit draagbaar was na mense wel draagbaar gemaak het. Dit is net ‘n skande hoe hy met die hulp van Facebook, Twitter, Youtube en MSM hierdie nuus geblok het en nog steeds dit probeer doen.

Hennie ·

“ander dinge ingespuit het”… Verwys dit na Ivermectin? So slim antie en sy dink inenting is die Alfa en Omega van COVID 19? Beslis nie!

tweeling ·

As jy beter weet is dit reg, niemand dink die inenting is die A en O van Covid 19 nie maar daar moet iewers begin word en dit help nie mense kritiseer net links en regs maar maak geen positiewe bydrae nie. Moenie jou laat inent nie Hennie, dis die regte ding om te doen, volgens jou

annie ·

Fauci glo hy is ‘n towenaar en alwetend. So ook sy medewerkers. Nie almal is so beìnduk met hulle as hulself nie.

Boerkind ·

Ek sou nie na Fauci verwys het as ek sy was nie… hou maar die internet dop tov die opspraakwekkende en insiggewende getuienis rakende Gain Of Function wat nou oral uit sy eposse opduik. Dalk ‘n ou wolf in skaapsklere??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.