Navorsing gedoen om vrugte langer smaakliker te laat bly

Foto ter illustrasie. (Foto: Raquel Martinez, Unsplash)

Boere en veral verbruikers van sagtevrugte kan uitsien na appels en pere wat in die nabye toekoms langer sal hou. Die Universiteit Stellenbosch (US) se departement Hortologie het ʼn na-oesfisiologie-navorsingsleerstoel in sagtevrugte gevul. Die werksaamhede daarvan staan onder leiding van dr. Elke Crouch, ʼn senior lektor by dieselfde departement.

Leiers in die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf is baie opgewonde oor hierdie inisiatief en is dit eens dat hulle kennis oor die hantering van sagtevrugte nadat dit geoes is wesenlik gaan verbeter en dat dit uiteindelik vir hulle van groot waarde sal wees.

Crouch fokus op maniere waarop fisiologiese probleme uitgeskakel kan word wat soms intree wanneer appels en pere, nadat dit gepluk is, ryp word of geberg word. Dit sluit interne verbruining en vlekke op die skille in.

Sy kyk ook na maniere om vrugte se gehalte te behou na afloop van die oes, tot verbruikers dit kan geniet. Haar werk fokus toenemend op siektes wat ontwikkel terwyl vrugte nog aan die boom is.

“Vir my lê die interessantheid daarin om uit te vind waarom iets verkeerd loop, en dan maniere te vind om dit reg te stel,” sê sy.

Crouch beklee sedert 2003 ʼn pos aan die US oor verwante na-oes-navorsing.

Dié navorsing word reeds sedert die 1980’s befonds danksy ʼn belegging wat uit ʼn skenking deur die vrugtebedryf se Molteno- en Lombardi-trust ontstaan het.

Hortgro, die bedryfsliggaam vir sagtevrugte in Suid-Afrika, het vanjaar ook begin om ʼn bydrae tot hierdie navorsing te maak. Dié besluit het uiteindelik tot die daarstelling van die leerstoel gelei.

Crouch sê die leerstoel is nie net ʼn geleentheid om waardevolle, praktiese navorsing te doen nie, maar ook een waardeur sy toekomstige leiers in die bedryf kan oplei. Sy streef ook daarna om meer interaksie met die vrugtebedryf en ander plaaslike en internasionale navorsingsgenote te hê.

Dr Elke Crouch (Foto: Engela Duvenage)

“Die toekoms van navorsing is beslis om toenemend oor grense heen te werk. Ons moet saamwerk in ons soeke na oplossings vir byvoorbeeld die impak wat klimaatsverandering op die gehalte van vrugte kan hê, en die hantering en analise van groot datastelle daaroor,” vertel sy.

Die sagtevrugtebedryf deel ook haar visie. Volgens prof. Wiehann Steyn, hoofbestuurder van Hortgro Science, is hul steun aan die nuwe leerstoel maklik regverdigbaar, gegewe die hoë gehalte van praktiese navorsing wat Crouch reeds jare lank aan die bedryf lewer. Hy hoop dit sal haar loopbaan as senior akademikus bevorder.

Hy beskryf Crouch as ʼn passievolle, gedetailleerde navorser “wat altyd 110% gee en daarby ook ʼn baie goeie dosent is wat al ʼn geslag studente begeester het om ʼn loopbaan in na-oes-verwante aspekte in die vrugtebedryf te volg.

“Na-oes-fisiologie is ʼn kritieke vakgebied, maar geniet min plaaslike kapasiteit. Deur dié leerstoel te ondersteun wil Hortgro verseker dat die bedryf op genoegsame kapasiteit deur middel van kenners en kennis kan staatmaak om tergende bedryfsprobleme te hanteer,” sê Steyn.

“Dis ʼn onaangename verrassing om in ʼn skynbaar perfekte vrug te byt en dan te sien dat die binnekant verbruin het. Dit smaak ook sleg. Die koste daarvan vir ons bedryf is enorm – in die verlies aan inkomste sowel as markaansien.”

Crouch en haar span het reeds talle verslae gepubliseer. Dit sluit een in oor die regte metodes van die langdurige berging van Cripps Pink‑ en Granny Smith-appels in koelkamers met ʼn beheerde atmosfeer.

ʼn Ander een kyk weer na hoe die hoeveelheid skadu wat Forelle-pere kry, melerigheid in dié vrugte veroorsaak en na maniere hoe om dit uit te skakel.

Sy het ook riglyne help opstel vir die oes en na-oes-bestuur van appelkultivars soos Fuji en Cripps Pink om interne verbruining te voorkom.

Saam met ʼn na-oes-navorsingspan van die Universiteit van Leuven in België, bestudeer Crouch tans gasdiffusie in appels en pere om verskeie na-oes-defekte in die vrugte beter te verstaan en hoe dit hanteer kan word. Onder haar plaaslike medewerkers tel kollegas aan die Universiteit Stellenbosch, ExperiCo Agri-Research Solutions, die Landbounavorsingsraad en die Universiteit van Wes-Kaapland.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Kan US nie eerder navorsing doen oor hoe om suur vrugte soet te maak nie. Ek is al baie jare moeg daarvan om geld te mors op plaaslik geproduseerde suur vrugte.

Anoniem ·

Sommige varsprodukte handelaars se kommoditeite herinner my aan varksool.

Blikkies ·

Klink alles goed en wel en lekker, dit is seker die pad vorentoe, ek vra net, sal daar dalk enige negatiewe impak van die metodes en veral stowwe in die proses vir die mens inhou? kort of lang termyn. Dit is dan nie meer organies nie en word wetenskaplik aangepas en verander?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.