Navorsing nodig oor minder werksure vir SA’ners

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Brad Neathery/Unsplash)

ʼn Onlangse studie oor uitbranding in die werksplek het aanleiding gegee tot ʼn parlementêre vraag aan die departement van arbeid en indiensneming oor die kwessie of die aantal werksure vir Suid-Afrikaners verminder moet word.

Die studie is deur die Vereniging vir Bedryfs- en Organisasiesielkunde in Suid-Afrika (Siopsa) gedoen en dui aan dat Suid-Afrikaners van die langste werksure ter wêreld het.

Die studie verwys na data wat daarop dui dat die meerderheid van Suid-Afrikaanse werknemers tussen 40 uur en 48 uur per week werk. ʼn Vyfde (21%) van die arbeidsmag staan meer as 49 uur per week aan werk af. Dít terwyl die meeste ontwikkelde lande se werkers tussen 30 en 35 uur per week werk.

Luidens die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (BCEA) mag Suid-Afrikaners nie langer as 45 uur per week werk nie. Die werksdag mag ook nie langer as nege uur wees indien werkers vyf dae of minder werk nie, en nie langer as agt uur indien hulle meer as vyf dae per week werk nie.

Die wet stel die algehele mikpunt as 40 uur per week.

Die departement van indiensneming en arbeid sê nou daar is ruimte om verdere navorsing oor die vermindering van werksure in Suid-Afrika te doen.

In ʼn antwoord op ʼn parlementêre vraag deur Siphosethu Ngcobo, LP en lid van die Inkatha Vryheidsparty (IVP), verlede week, het die departement gesê dat internasionale arbeidspraktyke voorsiening maak vir die “progressiewe vermindering van werksure, waar toepaslik, sonder ʼn gepaardgaande verlaging in lone”.

Navorsing in ʼn plaaslike konteks ontbreek egter, het die departement gesê.

Die Kommissie vir Diensvoorwaardes – wat sedertdien ontbind is – het die moontlikheid vir verminderde werksure reeds in 2014 ondersoek. Navorsing tussen 2006 en 2012 het toe ook vordering in die vermindering van werksure vir sekere bedrywe getoon:

  • Die tekstiel- en konstruksiebedryf is as geheel in ooreenstemming gebring met die mikpunt van 40 uur per week.
  • Werkers in die glassektor het tussen 40 en 42 uur gewerk.
  • Die suikervervaardigingsbedryf se werksure is van 46 uur tot 43 uur verminder.
  • Werkers in die metaal- en ingenieursbedryf werk sedert 2002 40 uur per week.
  • 99% van staatsdienswerkers werk 40 uur per week.

Sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie het Suid-Afrikaners se werkskultuur egter aansienlik verander, maar geen opvolgstudies hieroor is al gedoen nie. Die departement erken dus die behoefte vir verdere navorsing om die vordering in die vermindering van werksure vas te stel.

“Die haalbaarheid van die vermindering van werksure en die onvoorsiene gevolge wat daaruit mag voortspruit, moet ook ondersoek word, veral in sektore waar die minimum loon ter sprake is,” het die departement gesê.

Volgens die departement sal die werksure-kwessie ook  by die volgende vergadering van die nasionale ekonomiese ontwikkeling en arbeidsraad (Nedlac) se taakspan vir arbeidsreghervorming bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lillian ·

Ag asseblief, hier is baie wat so lui is om hul werk hy die kantoor te doen hul nog moet net omval en stink, wat nog te sê van die huis af werk.

Eugene ·

Hoe lag ek nou. Sommige suid-afrikaners wil geld verdien, maar wil nie werk nie.

Francois ·

Ag asseblief. Watter werkgewers gaan hulle mense minder laat werk maar dieselfde salaris betaal. Ek as n werkgewer gaan nie minder produktiwiteit beloon mwt volle salaris nie. Jy word betaal vir die tyd wat jy werk en klaar

Catharina Maria ·

Werksure en ure gewerk is nie noodwendig dieselfde nie

Herman L ·

Ontwikkelde lande kan bekostig om minder ure te werk, want hulle doen hulle werk tydens werksure. Toe die plaaslike staatsdiensinpekteur vra hoeveel mense werk hier? Kom die antwoord: Ongeveer 30%.

Rina ·

Hierdie idee gaan nie werk vir 90% van SA se mense nie. hier kom weer eise op groot skaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.