Navorsing: SA onnies oorwerk, te laag geskat

onderwys-skool-skole-onderrig-argieffoto

(Foto ter illustrasie: Unsplash)

Onderwysers in Suid-Afrika is nie net oorwerk nie, maar word ook met allerlei nietighede opgesaal wat dit moeilik maak om werklik aandag aan leerders te gee.

Só blyk dit uit navorsing wat in Julie vanjaar deur die skryfbehoeftevervaardiger BIC in samewerking met die private navorsingslaboratorium Big Mama’s Famous Truth Shop van stapel gestuur is.

Daar is ook bevind dat onderwysers verskeie rolle in leerders se lewe vervul en dat onderwysers ’n behoefte het aan hoërgehalte kurrikulums en stimulerende inhoud. Dit blyk egter dat hulpbronne ver tekortskiet.

Volgens Wendy Cochrane, stigter van Big Mama’s Famous Truth Shop, het 30 onderwysers van Johannesburg (10), Kaapstad (10) en Durban (10) aan die navorsing deelgeneem.

Uit dié steekproef was 14 onderwysers aan private skole verbonde, 13 aan gedeeltelik gefinansierde skole (kwintiel 5) en drie aan staatsgefinansierde skole (kwintiel 1 tot 3).

Die opname is telefonies en deur middel van Zoom- en Whatsapp-onderhoude voltooi met die doel om oplossings te vind vir die talle uitdagings waardeur onderwysers elke dag, ook te midde die Covid-19-pandemie, in die gesig gestaar word.

Luidens die bevindings speel onderwysers ʼn multidimensionele rol in leerders se lewens en voel hulle dikwels ongewaardeerd.

“Onderwysers vervul dikwels ook die rol van sosiale werkers en vul gapings wat deur ouers gelaat is.

“Dit het aan die lig gekom dat ouers ʼn bron van druk kan wees vanweë eise en verwagtings wat aan leerders gestel word. Daar ontstaan egter dan ʼn gaping omdat hulle [die ouers] te besig is of nie toegerus is om die nodige aandag aan hul kinders te gee nie,” sê Cochrane.

Daar is voorts bevind dat die gaping tussen behoeftige en bevoorregte leerders al hoe groter word.

“Die pandemie het verder lig op ongelykhede en onbevoegdhede in die staat se onderrigstelsel gewerp.

“Die verskil in hulpbronne, aantal leerders per onderwyser en selfs die beskikbaarheid van basiese skryfbehoeftes is kommerwekkend.”

Volgens Cochcrane sukkel gedeeltelik gefinansierde skole ook met ʼn tekort aan hulpbronne weens die groot getal leerders waarmee hulle moet werk.

Boonop blyk dit dat die KABV-kurrikulum (bekend as CAPS) veel te wense laat.

Onderwysers beskryf die kurrikulum as “saai en oninspirerend” en sê dit dra by tot die reeds bestaande gapings, aangesien onderwysers innoverende maniere moet vind om die inhoud aan te bied.

“Onderwysers het behoefte aan hoërgehalte, vernuwende, innemende onderrigmiddels en -hulpbronne.

“Hulle [onderwysers] is selfgeleerde inhoudskeppers wat daarin volhard om uitdagings te oorkom. Hulle soek gedurig inspirerende platforms en maniere om hul lesse meer innemend en opwindend te maak.”

Uitdagings weens die Covid-19-pandemie

Cochrane beskryf onderwysers as die onbesonge helde van die Covid-19-pandemie – mense wat regdeur inperkings gewerk het, nuwe tegnologie moes aanleer en inhoud vir afstandleer moes ontwikkel.

“Die navorsing toon aan dat onderwysers oornag na digitale metodes moes oorskakel. Selfoondata blyk een van die grootste uitdagings te wees aangesien dit baie duur in Suid-Afrika is.”

Nóg uitdagings, sê Cochrane, is skole wat digitaal en tegnologies agter is en nie op die nuwe situasie weens die pandemie voorbereid was nie.

“Onderwysers moes baie kreatief raak. Boonop blyk die verwagting om punte hoog te hou, ondanks die reuse data- en tegnologiese uitdagings, ʼn groot bron van stres onder onderwysers te wees.”

Onderwysers moet terselfdertyd ander Covid-19-verwante uitdagings bemeester, waaronder die leer en handhawing van sosiale afstand, die toepassing van higiëne protokolle en die verligting van angs onder leerders wat ook deur die pandemie meegebring is.

Volgens Cochrane het die navorsing benewens die talle uitdagings egter ook positiewe elemente uitgelig.

“Die pandemie en inperking het aan onderwysers die geleentheid gebied om nouer saam te werk as ooit tevore.

“Dit is grootliks die resultaat van versnelde persoonlike groei en vaardigheidsontwikkeling. Kleiner klaskamers het ook meer individuele aandag aan leerders moontlik gemaak.”

BIC het na afloop van die navorsing ’n aanlyn platform op die been gebring waar onderwysers bymekaar kan kom om uitdagings sáám te oorbrug, ervarings te deel en oplossings te vind.

“Ons is baie opgewonde oor die nuwe platform wat onderwysers regoor die land kan help om meer effektiewe en innoverende onderrigtegnieke te ontwikkel, by mekaar te leer en mekaar te ondersteun,” sê Kutlwano Tshetlhane, bemarkingsbestuurder by BIC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Flip

Die gaping tussen behoeftige en bevoorregte kinders sal aanhou om groter te word vir solank as wat daar nie gesins beplanning is nie.

Tiptol

Dit geld net vir onnies wat hul werk ernstig opneem. En ons weet wie hulle is.

Catherina

Stem saam. Hardwerkende onderwysers totaal oorlaai

Kortbroek en plakkies

Ek voel jammer vir onderwysers wat hulle alles gee en hulle is so belangrk in die latere jare se ontwikkeling. Ek was nog bevoorreg om my skoolloopbaan te voltooi in die jare toe daar nog respek vir onderwysers was en daar dissipline in die skole was. Hoe moeilik moet dit nie wees om ondderrig te gee en jy word behandel sonder respek en hoe dissiplineer jy die kinders wat hul eie wil afdwing end maak nes hulle doen met baie keer die ouers se goedkeuring. Skole doen weg van Christen waardes wat probleme veroorsaak. Ek is nie die grootste kerkganger… Lees meer »

Swerwer

Hou op om verskoning te soek vir ‘n mislukte onderwys stelsel. Stel liewer opgeleide,bevoegde persone aan en begin sommer by die Minister van Onderwys en jul sal resultate sien. Maar BBBEE het die land kom op ………………………………..