Navorsingsprojek oor Kaapse floristiese streek ‘eerste in SA’

(Foto: Wikipedia)

ʼn Vliegtuig wat spesiale data vir ʼn nuwe biodiversiteitsnavorsingsprojek insamel, sal Dinsdag in Kaapstad gelanseer word. Dié navorsingsprojek, bekend as BioSCape, is daarop gerig om die biodiversiteit van die Kaapse floristiese streek te bestudeer om sodoende die natuur se bydraes tot die mens beter te verstaan.

Dr. Jasper Slingsby, die Suid-Afrikaanse hoofwetenskaplike en ook dosent aan die Universiteit van Kaapstad, sê die projek sal tot 2024 duur, waarvan die meeste data vanaf middel Oktober tot middel Desember vanjaar ingesamel sal word.

“Data sal deur satelliete en vliegtuie ingesamel en met veldwaarnemings verbind word om sodoende die biodiversiteit van die Kaapse floristiese streek te ontleed. Dit sal gedurende dieselfde tydperk plaasvind as die lugopnames wat deur die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (Nasa) se vliegtuie en instrumentspanne gedoen word.”

Hy sê die data sal deel vorm van ʼn groot verskeidenheid van biodiversiteitverwante veldwaarnemings van plantegroei-opnames, metings van plant- en waterspektrale reflektansie, fitoplankton-monsters, opnames van voël- en paddaroepe, asook DNS-monsters van die omgewings.

“BioSCape is ʼn unieke en opwindende projek wat sal help om nuwe insig oor die biodiversiteit van een van die mees diverse streke op aarde te openbaar en nuwe gereedskap vir die kartering en monitering daarvan te verskaf,” sê Slingsby.

Hy meen die projek sal die wêreld ook bevoordeel “deur ons begrip van biodiversiteit te verbeter en die ontwikkeling van nuwe tegnologieë te fasiliteer”.

“Die projek sal help om die natuur se bydraes tot mense te monitor en te bestuur, asook om die uitwerking van klimaatsverandering op biodiversiteit beter te verstaan.”

Die Nasionale Navorsingstigting, deur sy Suid-Afrikaanse omgewingswaarnemingsnetwerk (NRF-SAEON) se sake-eenheid, is ʼn vennoot van die navorsingsprojek.

“Hierdie voorpuntprojek is ʼn bewys van die wêreldklas-biodiversiteitsnavorsing wat in Suid-Afrika gedoen word. Ons is daartoe verbind om by te dra tot die insameling van data en die gebruik van die inligting wat deur BioSCape ingesamel word om omgewingsbestuursbesluite in die streek te verbeter,” het dr. Mary-Jane Bopape, besturende direkteur by NRF-SAEON, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Lees Ramaphosa en sy kaders ook hierdie nuus, dat hulle kan sien daar is ook voortreflikheid in SA,, nie net diefstal en korrupsie nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.