Naweekweer: Reënvoorspelling nóg sterker vir dele van SA

Foto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD) het nog ʼn verklaring uitgereik waarin hy sê die reënvalvooruitsigte vir die oostelike en noordelike dele van die land sal dié naweek aansienlik toeneem.

Dit kan selfs Sondag tot vloede in sommige dele van KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo lei.

ʼn Kouefront sal Saterdag oor die suidelike dele van die land beweeg. Mkhushulwa William Msimanga, weervoorspeller by die SAWD, het gesê koue, reënerige en bewolkte toestande sal Saterdag oor die westelike dele van die Noord-Kaap en die Wes- en Oos-Kaap heers en Sondag begin opklaar.

“KwaZulu-Natal sal egter bewolk bly tot Maandag.

“Gedurende die naweek sal koel, nat lug na KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo beweeg. Tropiese vog is reeds in sirkulasie oor die noordelike provinsies en dus sal reënbuie en donderstorms oor die oostelike dele van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, die oostelike Vrystaat, Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo voorkom.”

Msimanga het gewaarsku dat swaar reën en vloede Sondag in plekke in KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo verwag kan word.

Ander potensieel gevaarlike weerverskynsels kan egter saam met die stelsel voorkom. Mense word gewaarsku om bewus te wees van gelokaliseerde vloede veral in laagliggende omgewings en afgeraai om laagwaterbrûe te gebruik.

Gauteng, KwaZulu-Natal, oostelike dele van die Vrystaat en Noordwes sal Maandag waarskynlik slegs geïsoleerde buie en donderstorms beleef.

Die grootste deel van die land se weerstoestande sal teen Dinsdag weer terugkeer na normaal met “reënbuie hier en daar”.

  • Vir Saterdag is daar ʼn waak uitgereik deur die SAWD vir erge donderstorms oor die suidwestelike dele van KwaZulu-Natal en die noordoostelike dele van die Vrystaat.
  • Vir Sondag word swaar reën wat na vloede kan lei vir plekke in KwaZulu-Natal, die oostelike dele van Mpumalanga en die Limpopo-provinsie verwag.

Die SAWD sal die situasie monitor en die publiek op die hoogte hou van enige veranderinge in die voorspelling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.