NDBV dien klagte in oor tiers in aanhouding

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het strafregtelike klagte teen ʼn wildplaas in Noordwes ingedien nadat tiers op dié plaas sonder water in vuil skuilings aangehou is.

Ondersoekers van die NDBV het in November vanjaar die wildplaas in die buitewyke van Klerksdorp besoek nadat hulle inligting rakende die haglike toestande van dié plaas ontvang het.

“Dit het voorgekom of die tiers op die eiendom aan hitte-uitputting ly en in vuil en onhigiëniese toestande leef. Dit was duidelik dat hul skuilings vir ʼn geruime tyd nie skoongemaak is nie,” sê die NDBV in ʼn verklaring.

Tot die organisasie se afgryse is dié diere in onvoldoende skuilings aangehou sonder skoon water of voldoende badgeriewe.

Die NDBV wys daarop dat die aanhouding van tiers ʼn oortreding van die Dierebeskermingswet is. Die vereniging beskuldig die eienaars van die plaas ook daarvan dat hulle nie die voorwaardes van hul permit deur die Noordwes-departement vir ekonomiese ontwikkeling, omgewing, bewaring en toerisme nagekom het nie.

Die NDBV het nou ʼn waarskuwing aan die eienaars gerig en strafregtelike klagte teen hulle uitgereik.

Hulle het ook die departement genader om duidelikheid oor die permitvoorwaardes en die pad vorentoe vir die tiers te kry. Daar is tot dusver egter geen duidelike antwoord hieroor ontvang nie.

Volgens die organisasie is tiers ʼn eksotiese spesie en dus nie ten volle aangepas om die hoë temperature gedurende die somermaande in Noordwes te hanteer nie.

“Om tiers in hierdie toestande aan te hou is onaanvaarbaar en dit is in werklikheid ʼn uitstekende voorbeeld van waarom ons nié eksotiese spesies in Suid-Afrika of enige wilde dier in aanhouding moet hou nie,” sê Douglas Wolhuter, die NDBV se bestuurder van die wildbewaringseenheid.

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) ondersoek nou die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Adel ·

Ja nee wat ek stem, gooi hulle saam met die honger tiere in daai hokke!! Sulke mense hoort nie in ons samelewing nie, eintlik stem ek glad nie saam met enige diere in hokke nie!!!!

toy ·

Ek wil nou nie ook ‘n pyn wees nie, maar ek ken net van ‘n tier of tiere.

Anja van der Merwe ·

Dagsê toy

Dankie vir jou kommentaar. Volgens die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) word albei meervoudsvorme, naamlike “tiere” en “tiers” erken. Dit is dus nie ‘n spelfout nie. Jy sal dieselfde meervoudsvorme ook in die HAT en WAT opspoor.

Dankie.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Karolis ·

Hoe kan ons maak dat plaasmoorde ook prioriteitsmisdaadondersoeke verdien?
Wat van ons noem die Boere ook tiere?

Emma ·

Kan die blerrie mensdom nie na ons diere ordentlik kyk nie. Gister was dit die klein olifantjies vandag weer tiere aggenee man as jy diere wil aanhou moet jy na hulle omsien. Plekke skoon hou en goeie voeding. My sin raak nou op van die mense.

George ·

Sou dink die NDBV sou die mishandelde diere onmiddellik verwyder het na ‘n beter plek.

J ·

Groot nuus, wat het van een van ons ANC se diereverwaarlosing saak geword

Tamara ·

Wat van mense wat tiere by hulle huise aanhou?? Permit of nie, dis nie reg nie, hierdie is groot wilde diere, hulle behoort in die wild. Mense is vertraag, soek alles wat mooi is om mak te maak of geld te maak of om te eet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.