NDBV na polisie oor uitgeteerde perde

Foto: NDBV

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) sal vandeesweek strafregtelike klagte teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) by die polisie indien in verband met die talle uitgehongerde perde wat by ʼn weermagbasis in Potchefstroom in Noordwes aangetref is.

Meg Wilson, kommunikasiebestuurder van die NDBV, het gesê die vereniging is tans in die proses om die aanklagte aanhangig te maak. “Ons sal vandeesweek die klagte indien. Die rede [vir die vertraging om die klagte aanhangig te maak], is omdat ons nie bloot na ʼn polisiestasie toe gaan en klagte indien nie. Ons formuleer ʼn algehele dossier vir die SAPD,” het Wilson gesê.

Maroela Media het vroeër berig inspekteurs van die NDBV het verlede maand 169 perde by die weermag se spesialisinfanterie-eenheid (Saasic) aangetref. Die diere is glo aangeskaf om met grenspatrollies te help.

Die perde was egter in ʼn erg verwaarloosde en uitgehongerde toestand. Die NDBV het vroeër gesê van die perde was só honger dat hulle grond en hul eie ontlasting begin vreet het. Altesaam 25 van die perde was so verswak dat hulle van kant gemaak moes word.

Genl. Solly Shoke, die hoof van die SANW, het in reaksie hierop beveel dat 80 van die perde van die Potchefstroom-basis na ʼn “beter fasiliteit” in Rooiwal, noord van Pretoria, geskuif moet word. Die SANW het gesê hy het die hulp van die Militêre Veeartsenykundige Instituut (MVI) ingeroep om die toestand van die diere wat in aanhouding is na te gaan.

Foto: NDBV

ʼn Ondersoek is glo ook van stapel gestuur om te bepaal wie aanspreeklik gehou moet word vir die mishandeling van die weermag se “vierpotige soldate”.

Die NDBV het egter Woensdag gesê hy is nie bewus van sodanige ondersoek nie. “Die hoof van die SANW, aan wie ons ʼn brief gerig het, het nie ontvangs van die brief erken of enigsins gereageer op die ernstige besware wat ons daarin geopper het nie. So, ons is geensins by daardie proses betrek nie,” het Wilson gesê.

Die weermagvakbond het gesê die kwessie rakende die perde word “baie geheim gehou”.

“Diere is weerloos teenoor die swak voorsieningskettingbestuur van die weermag, wat bekend is daarvoor dat hulle verskaffers laat betaal of glad nie betaal nie. Dit beteken die soldate op grondvlak is nie in staat om na die diere om te sien nie en word in ʼn benarde posisie geplaas,” het Pikkie Greef, nasionale sekretaris van Sandu, gesê.

“Die opdrag- en beheermeganismes is swak, en daarom ly almal wat deel uitmaak van die bevelsorde daaronder, veral die diere.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

sandra ·

Dit laat my terugdink aan ‘n soortgelyke geval nie te lank gelede in KZN waar die polisiehonde ook honger gely het, Weereens die diere wat ly, die base se pense is volgestop. Wat het van daardie saak geword? Toe die publiek wou hand bysit is hulle summier weggewys

So gaan ons onder…

Chantell ·

Dis n skande eerlik. Ek kry so skaam om myself n Suid Afrikaner te noem

Pieter ·

En wat as die BEE gekontrakteerde “PDI’s” nie hulle kontrakte nakom om voer op die bespreekte tyd beskikbaar te hê nie

kallie ·

Ek is so geskok hieroor.Toe ek jare gelede my diensplig net “langsaan” by 14 Veld gedoen het was hierdie ‘n Elite eenheid. Ek kan nie glo wat ek nou hoor en sien nie. Ons hele Weermag sien seker so daar uit . Wat ‘n skande! Nie net vir die weermag nie ,maar in die oë van die wêreld. Geen mens en dier word meer in hierdie land van skades en skandes ontsien nie,bly die NDBV het ingegryp.

Ben ·

Hulle voer vere vir ‘n mens se lewe – dink net hoe perde moet ly.

Hartseer ·

Ek hoor die honde by die honde eenhede word ook vreeslik mishandel, stel asb ondersoek in as dit moontlik is.

Helena Smith ·

Ek stel voor jy lig sou gou as moontlik die Potchefstroom DBV in sodat hulle na die honde kan gaan kyk. Hierdie blad is nie die regte forum nie.

Hartseer ·

Die honde eenhede reg oor die land. Asb stel ondersoek in as iemand kan. Ek gee nie om of dit die regte forum is of nie, my kommentaar dien as bewusmaking.

zoom zoom ·

Plaas koop hulle Kos vir die perde maar nee gebruik eerder geld om party te hou en nuwe voertuie vir elke lid in die weermag te koop en die net die beste duitse karre vir die top brass. Is daar ‘n nommer waar ‘n persoon misbruik van weermag voertuie kan aanmeld???? Of is dit elke lid in die weermag se reg om voertuie te gebruik vir watter rede ookal amptelik en vir privaat vervoer

Amelia ·

Ek is so lief vir diere en alhoewel ek niks weet van perde se versorging nie, kan hul regtig eerder 2 perde na my blyplek toe laat kom. Ek dink regtig ek het genoeg gras vir 2 perde. Ons het n geseende jaar gehad wat reen aanbetref. Asb as mense maar net ook wil vra. Dink net as almal in dai omgewing hul grassnysels daar kon gaan aflaai het. (Net n gedagte)

Amelia ·

dalk moet Afriforum die foto”s ook aan die buiteland bekendmaak.

H ·

Dis n skande man!!! Soos Gandhi sè: The greatness of a nation can be judged by the way its animals are treated. Nog n bewys van die land se rommel gemors status!!!!!!

JK ·

Ek was in die berede eendheid na my diensplig jare, ons perde het van Potch gekom. Dit is baie hartseer en verstaan nie hoekom gee hulle die perde nie weg nie. Is seker boere sal dit aanneem ?

Alida ·

As mens na hulle lede kyk wat sulke walglike uitsprake maak lyk dit nie of hulle honger ly nie. Vieslike vieslike skande.

Michael ·

As jy nie eers na jou self kan omsien nie wat nog van die arme diere so n hartseer verhaal.

Grant ·

Skandelik en pateties. Afriforum – praat asseblief ook vir die diere wat geen stem het nie. Mense kan nog praat. As mens maar kyk na die hoës in die Weermag en hulle uitsprake teenoor mense, is dit nie verbasend dat daar nie eens versorging vir die perde is nie. Die blaam sal net aangeskuif word, want niemand sal verantwoordelikheid neem nie. Dis te maklik om die blaam te skuif of sommer net te sê dis “Apartheid” se skuld. Dis ‘n Wit perd in die foto – ek beskou dit as ‘n rassistiese daad.

fm ·

Dit is verskriklik wreed en onmenslik. Diere verdien beter as dit. Asseblief mag iets goeds met hierdie uitgeteerde en mishandelde perde gebeur. My magtig, dit is mos loutere hel vir die arme diere om so behandel te word!!!!

M'Lady ·

“Animals run no risk of going to hell. They are already there.” Victor Hugo.

Joe ·

Ek sal so graag daardie arme diere wil help, en ek vermoed menige ander mense in en om voel dieselfde.
Wonder net hoe en of ‘n mens kan betrokke raak as vrywilliger.

Oujongvrou ·

Hierdie is die voorbeeld wat gestel word onder die ANC regering. Geen respek vir mense lewens nie ( anders sou hulle plan maak met die kriminele in die land) so hoe sou hulle respek he vir God se skepsels, naamlik diere. Daar sal rekenskap gegee moet word in die hemel oor die dinge wat aangaan op aarde.

Oom Kalahari ·

As hul nie eers hierdie prag diere (perde) in ‘n weermag basis waar hul finansieel sterk is kan versorg nie, hoe wil hul dan ‘n plaas met diere versorg. Sekerlik is die Weermag van fondse voorsien vir die diere se versorging. Tot menigte van hul voertuie is al skroot en in swak toestand, maar hul het miljoene Rande aan Kubane spandeer vir opleiding wat niks opgelewer het nie terwil duisende gekwalifiseerde vakmanne in SA weerhou word omdat hul blank is. Daar is baie plaas boere wat graag hierdie perde en hul versorging sal wil oorneem. Hierdie land het sedert 2000 heeltemal agteruit gegaan en is nou ashoop status.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.