NDBV vra aksie teen vervoer van lewende hawe

Marcelle Meredith, uitvoerende hoof van die NDBV (Foto: Jacques Naude/African News Agency/ANA)

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn standpunt in te neem teen dieremishandeling wanneer diere lewend op see uitgevoer word.

“Die Suid-Afrikaanse regering het die mag om ʼn einde te bring aan dié verskeping; hulle het ʼn verantwoordelikheid om seker te maak dat welsyn ʼn prioriteit geniet, veral in die lig van ons sukses onlangs in die hooggeregshof wat betref die uitreik van permitte,” het Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die NDBV, gesê.

Die NDBV versoek al ook die afgelope 10 jaar dat regulasies vir die uitvoer van lewende diere op die see deur die regering goedgekeur moet word kragtens artikel 10 van die Wet op Dierebeskerming. “Hierdie versoeke het op dowe ore geval.”

Meredith het gesê die organisasie het ook al verskeie kere versoek dat die vereistes van die ontvangerland se permitte bekend gemaak moet word, maar die regering en die uitvoermaatskappy is nie bereid om die regulasies te verskaf nie.

“Dit is hoog tyd dat die regering dit onwettig verklaar om diere lewend op die see uit te voer na enige bestemming waar die reis langer as sewe dae duur en onder sulke haglike toestande. ʼn Reis na die Midde-Ooste duur ongeveer drie weke.”

Volgens ʼn verklaring deur die verskepingsmaatskappy Al Mawashi (Edms) Bpk, is die reis slegs 16 dae lank. “Dit sluit nie die dae in die Suid-Afrikaanse hawe in waar die diere gelaai word of drie Midde-Oosterse hawens in waar hulle afgelaai word nie.”

Meredith het gesê die vragskip Al Shuwaikh spandeer, volgens Australiese regeringsdokumente, ongeveer twee dae in elke hawe in warm weerstoestande.

Al Mawashi het ook vrektestatistieke bekend gemaak vir hul beste “buite somer”-verslae. “Volgens verslae wat bekom is van die Australiese regering word honderde vermiste skape nie as vrektes beskou nie. Al Mawashi voer aan hulle duld nie swak behandeling van lewende hawe in enige deel van die verskaffingsketting in enige land waar hy handel dryf nie, en tog is hulle trots daarop om die statistiek bekend te maak wat dui op nagenoeg ʼn duisend vrektes aan boord hul skip in slegs vier reise in die ‘buite somer’-maande – en vrektes is nie die enigste teken van die welsyn van die diere nie.”

In November 2017 was daar 712 vrektes op een reis van die Al Shuwaikh – dit is ongeveer 29 diere wat per dag aan boord gevrek het. Ongeveer 198 skape word vermis. Die duur van die reis was 24 dae. In Junie 2018 is 609 vrektes aangemeld op ʼn reis van 30 dae – dit is 20 diere per dag. En in September 2018 is 658 vrektes aangemeld op ʼn reis van 24 dae – dit is 27 diere per dag met 38 skape wat vermis word.

“Al Mawashi voer aan hulle het deursigtig opgetree, en tog het hulle nie al hul statistiek bekend gemaak nie – veral nie die statistiek vir die somermaande nie. Die NDBV het ʼn lasbrief bekom om die maatskappy se voerkraal in die Oos-Kaap te deursoek. Die NDBV het twee waarskuwings uitgereik kragtens die Wet op Dierebeskerming vir die versuim om skuiling te bied vir die skape wat by die voerkraal gehou word.”

Meredith het gesê die maatskappy se bewering, dat hy aan hoë standaarde voldoen, is nietig verklaar deur ʼn verdoemende beëdigde verklaring wat deur een van die wêreld se mees ervare veeartse saamgestel is. “Die Australiese Maritieme Veiligheidsowerheid (Amsa) sal teen 31 Desember 2019 die gebruik van dubbelverdiepingskepe om diere mee te vervoer, uitfaseer. Die Al Shuweikh sal dus nie meer in Australiese water mag vaar nie, aangesien die Al Mawashi geen poging aangewend het om die skip te wysig nie.”

Die NDBV het ʼn veldtog van stapel gestuur teen die uitvoer van lewende hawe op die see en meer as 50 000 persone het reeds dié petisie onderteken. “Die NDBV glo dat die uitvoer van lewende hawe op see om geslag te word, heeltemal onaanvaarbaar en onnodig is. Suid-Afrika moet ʼn standpunt inneem teen dié afskuwelike en onnodige praktyk en eerder die vleis uitvoer. Dit beteken dat die diere nie onnodig sal ly nie en sal ook die land se sukkelende ekonomie ondersteun,” het Meredith bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Pieter ·

Die regering gee nie eers om vir ons landsburgers nie wat nog vir die diere dit is n skande

Dries ·

Die regering is n grap hulle het nie n saak met die diere in ons land ons moet maar op staan en baklei vir die diere want die anc gaan dit nie doen nie

a nee a ·

Ek raak nou moeg vir mense wat kla die regering moet iets doen. Verdomp hulle gaan nie. Ons moet dit self doen en self laat gebeur in jou eie onmiddellike omgewing

Neels ·

R50 000 “donasie” aan ‘n regeringsamptenaar dra BAIE meer gewig as 50 000 handtekeninge……

INA ·

Dis weersinwekkend om te sien hoé die arme diere mishandel word… Mag die Vader ons vergewe dat ons sò met die diere, (wat ons veronderstel is om op te pas) om gaan… Dis voorwaar ñ skande!!!

Alida X ·

Jammer as daar nie goed na die diere gekyk word nie.
Ek kan nie daarop kritiek lewer nie. Was nie aan boord om my te vergewis van omstandighede nie.
Was jy?
Groot bohaai oor 20 of 26 diere per dag wat op see vrek.
Onskuldige landsburgers word vermoor teen 58 persone per dag.

JohanL ·

Volgens insetsel op Carte Blanche en alle statistieke het ons wat daarteen is, wel ‘n saak. Mag net diegene wat aan boord was van die skip kommentaar lewer?

Kom ons konsentreer op die onderwerp. Die onskuldige landsburgers is ‘n ander onderwerp wat wel meer aandag verdien, maar hierdie berig gaan oor die vervoer van lewende hawe. Ons moet nie die twee verwar nie.

Helene ·

Fantasies NSPCA. Oefen druk uit. Dankie vr n handjievol mense wat n verskil probeer maak!!

gerrie ·

Die NBDV skep die indruk dat diere mishandel word. Die ware feite en behandeling van diere word nie gegee want dit skep nie sensasie. Mense wat sensasie skep om geld van publiek te kry vir eie selarisse.

Loeis ·

Die volgende vraag is hoe die diere in Midde-Oosterse lande geslag word.

Gaan kyk bietjie na Halal slaughter op Youtube.

Rupert Ashford ·

So koop jy Halal gesertifiseerde vleis in SA, Louis? Die probleem is ons is baie vinnig om op ‘n “bandwagon” te spring solank dit ons nie persoonlik affekteer nie – ons beursie of ons eie gerief moet net nie geraak word nie. Die vervoer van lewende diere na die midde-ooste is ‘n moeilike saak, maar daar is boere wie se finansiele welstand daaraan gekoppel is. Daar is nog ander industriee waar dieselfde dinge gebeur.

R. Burger ·

Ek sal beslis n petisie teken teen sulke uitvoere. Die welsyn van diere was nog nooit 1ste prioriteit bo geld in sekere lande nie!

hannelie ·

Alida, ons het nie nodig om op een van die skepe te wees nie. Carte Blanche het dit as n storie so twee weke terug gedoen. En daar is gewys hoe die skape lyk op die skepe met tonge wat letterlik uit hang van die hitte en nie by die water trog kan by kom nie omdat dit so oorlaai is.

Carel Pienaar ·

As daar diere mishandeling plaasvind kry n hof bevel en stop die skip.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.