NDOV-kandidaat gepols oor rassismebewerings

Adv. Shamila Batohi tydens haar onderhoud vir die posisie as NDOV by die Uniegebou in Pretoria. Foto: Jacques Naude/ANA

Die finale kandidaat van die 11 advokate met wie daar vandeesweek onderhoude gevoer is vir die amp van nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV), moes Vrydag bontstaan om vrae te beantwoord oor beskuldigings van rassisme wat vroeër teen haar gemaak is.

Adv. Shamila Batohi het aan die paneel van agt lede gesê sy verstaan tot vandag toe nie hoekom dié beskuldigings teen haar gemaak is toe sy meer as ʼn dekade gelede die hoof van vervolging in KwaZulu-Natal was nie.

“Daar was hierdie bewerings. Die bewerings was van rassisme, maar wat die rede vir daardie beskuldigings was, weet ek nie, want dit was nie spesifiek nie – daar is nie gesê jy het dit op hierdie dag gedoen of jy het hierdie persoon anders behandel nie. Ek sou kon verduidelik het, maar daar was geen sulke besonderhede nie,” het Batohi gesê.

“Ek weet die bewerings van rassisme is gemaak, maar het geen benul wat die gronde vir daardie bewerings was nie.”

Adv. Lawrence Manye, een van die paneellede, het daarna vir Batohi gevra of sy al deur soortgelyke beskuldigings in die gesig gestaar is by haar huidige werk by die Internasionale Strafhof.

Batohi het uitdruklik geantwoord: “Nee. Nooit. Ek is nou al nege jaar lank daar.”

Sy het aan die paneel gesê sy lei ʼn diverse “klein span” van vyf mense, onder wie ʼn Nederlandse man, ʼn Russiese vrou, ʼn Maleisiese vrou en ʼn Ugandese vrou.

Batohi is al sedert 2009 die senior regsadviseur vir die aanklaer in die Internasionale Strafhof in Den Haag in Nederland.

Adv. Jaap Cilliers, nog ʼn paneellid, het aan Batohi gevra of sy “ernstige probleme met personeellede” gehad het tydens haar termyn as DOV in KwaZulu-Natal.

Hierop het sy geantwoord: “Daar was ʼn tyd toe personeellede my van rassisme beskuldig het. Dit was openbaar. Dit was in die koerant. So, die kort antwoord is ja. Mense het allerhande beskuldigings gemaak om verskillende redes. Vir my is dit iets van die verlede. As ek nasionale direkteur word, sal daardie dinge nie meer saak maak nie, want mense sê sekere goed op sekere tye. Jy moet dit maar net laat vaar.”

Sy sê as NDOV sal sy net fokus op die pad vorentoe. “Om terug te kyk, sal net ʼn instansie terugsit. Ek dink dit is regtig belangrik om daardie goed eenkant te plaas as ek die nasionale direkteur is. Die rede vir daardie beskuldigings maak nie nou meer vir my saak nie.”

Die panel pak op nadat die laaste onderhoud afgehandel is. Foto: Jacques Naude/ANA

Batohi sê daar was personeellede wat ongelukkig was, maar die probleem is nooit werklik opgelos nie. Sy sê in ʼn verslag van die fasiliteerder wat die saak probeer oplos het, is aanbeveel dat sy woedebeheerkursusse ondergaan.

“Ek dink nie ek het probleme gehad om my woede te beheer nie, maar dit was een van die aanbevelings. Ek kan nie regtig aan nog iets anders dink nie,” het sy gesê.

Op ʼn vraag van Lutendo Sigogo het Batohi gesê die rassismebeskuldigings het haar geskok. “Ek het nie probleme gehad met personeellede van enige ras nie. Ek het hulle almal regverdig behandel. Ek het hulle geensins anders behandel as ander rasse nie. Dit was vir my ʼn absolute skok, ʼn verwarring. Ek was heeltemal met afgryse vervul oor die aantygings. Ek verstaan steeds nie na wie daardie beskuldigings verwys nie,” het sy gesê.

Die onderhoude vir NDOV is vandeesweek by die Uniegebou in Pretoria afgehandel. Die paneel moet nou minstens drie kandidate by die president aanbeveel waarna Ramaphosa die finale besluit en aanstelling sal maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Paul ·

Dit is jou kruis in hierdie land as jy nie swart is nie, hulle sal jou verdag bly maak, die gewraakte kaart tot vervelens toe speel en so het nou klaarblyklik haar hele onderhoud om rasisme gedraai.

Gediskwalifiseer vir die pos.

zoom zoom ·

Nee wat die vrou gaan nie die mas ook in die belangrike werk nie. Iets sê vir my Sy het haar naels uit bit sekere mense wat haar beskuldig het dat Sy rassisties was.

Bekwaamheid vs Rassisme ·

In Suid Afrika is jy outomaties van enige aanstellings posisie gediskwalifiseer as daar net ‘n sweempie van swart-rassisme uitgesnuffel word. Bekwaamheid is ‘n Westerse Ding??
Nick & Naas is onder kruisverhoor geplaas & kommissie van ondersoek, na kommissie van sondes uitsnuffel, van stapel gestuur . . . terwyl dit algemene kennis was dat Ashwin ten tyde van uitsendings ne eens in die ateljee was nie . . . . ek is gatvol

Mr x ·

Hierdie onderhoude is bloot n front. CR het klaar sy kanidaat. n Swart ANC vrou.

jaco ·

in die ou SA sou die vooraf uitgesoekte een wat die job kry, ‘n Afrikaanse Broederbonder en stoere Nasionale Party ondersteuner gewees het. die ANC se beleid van jobs vir hulle kaders, is iets wat hulle maar net uit die ou SA geleer het.
“Hulle” het dit by “ons” geleer.

oud aanklaer ·

Shamila is uiters bevoeg het die vooreg gehad om op profesionele vlak met haar te werk in ‘n baie komplekse saak. Sy vat niemand se nonsens nie, Aangesien Glennys Breytenbach wat by verre die mees geskikte kandidaat was onttrek het, is Shamila of Rodney de Kock die enigste van die lot wat die werk sal kan doen, ek was 18 jaar in die NDPP………..

Hasie ·

Nou dat die vyf finaliste bekend gemaak is, trek ek hul vermoë van oordeel in twyfel.
Oud aanklaer, word jy betaal vir jou kommentaar? Ek vra maar net.

PJC ·

As jy nie etnies swart is nie is dit maklik om jou daar weg te kry deur jou bloot van rassisme te beskuldig. Dit gebeur elke dag orals in die samelewing en dit is amper onmoontlik om jouself daarteen te verweer.

Dries du Toit ·

Ek slaan reg agteroor en beseer my niere as n blanke ,kleurling of Indier die pos kry

Hasie ·

Toe die 5 finaliste bekend gemaak is, kon ek dadelik sien dat die panneel van ondersoek ‘n swak “job” doen.
Oud aanklaer, jy word seker betaal vir jou kommentaar?

Jannie ·

GAAP!!!! Rasseverskille is GOD gegewe en sal tot aan die einde van die wêreld bly voortbestaan!! Aanvaar nou maar die werklikheid en gaan voort met jou lewe!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.