Neasa mik na hof oor Covid-regulasies by die werk

Neasa bestempel die regulasies as “heeltemal onredelik, onprakties en eintlik onmoontlik om uit te voer”. (Argieffoto: Maroela Media)

Die ramptoestand is dalk opgehef, maar direk daarna het ʼn nuwe stel “drakoniese” regulasies in die werkplek in werking getree wat die werkgewersvereniging Neasa nou in die hof gaan beveg.

Die gedragskode, genaamd “Die Bestuur van Blootstelling aan Covid-19 in die Werkplek”, is ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge ingestel as ʼn manier om die koronavirus in die werkplek te bestuur. Dit het reeds Woensdag in werking getree en bepaal onder meer dat inligting oor Covid-19, voorkomingsmaatreëls, virussimptome en beskikbare entstowwe – ook die voordele en newe-effekte van dié entstowwe – duidelik aan werkers oorgedra moet word.

Die gedragskode bepaal voorts dat elke werkgewer maatreëls moet instel om die inentingstatus van werknemers te bepaal en dat werkgewers deur ʼn sogenaamde risikobepaling toegelaat word om te vereis dat werkers teen Covid-19 ingeënt moet word.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Neasa, sê hulle gaan die departement binne die volgende paar dae op terme plaas en eis dat die regulasies heeltemal onttrek word. So nie, sal Neasa hom tot die hof wend om dit te laat skrap.

Die voorbereiding om dokumente by die Pretoriase hooggeregshof in te dien, is reeds ver gevorderd.

Papenfus verwys onder andere na die sogenaamde risiko-ontleding wat ʼn werkgewer moet doen om te bepaal of ʼn werkgewer teen Covid-19 ingeënt moet word. “Die staat se narratief oor die entstof is dat dit veilig is. Dit is nie so nie, want daar is verskeie newe-effekte en getuienis daarteen wat verontagsaam word,” sê hy.

“Dit word op iemand afgedwing. Dit is so dat mense sê alle medikasie het newe-effekte, maar niemand dwing jou om daardie medisyne te neem nie. Hier word daar gesê jy móét die middel gebruik as jy jou werk wil behou, maar as jy eers ingeënt is, is die uitwerking permanent. Dit is ʼn geweldige onus wat jy op die werkgewer plaas om dit voor te skryf.”

Neasa bestempel die regulasies as “heeltemal onredelik, onprakties en eintlik onmoontlik om uit te voer”.

Oor die vereiste dat alles omtrent die entstof duidelik aan werkers oorgedra moet word – ook die voor- en nadele daarvan – sê Papenfus weinig mense in die werkplek is toegerus om dié omvattende inligting behoorlik weer te gee.

“Dit is onmoontlik om die regulasies in praktyk uit te voer.”

Neasa adviseer sy lede om aan bestaande wetgewing te voldoen en help hulle ook daarmee. “Die vraag wat nou ontstaan, is of dit geregverdig van Neasa is om werkgewers te adviseer om iets in werking te stel wat ons, op etiese, morele en wetlike gronde, op die punt staan om in die hof te betwis?”

Die organisasie help intussen sy lede om soveel moontlik te doen om binne die raamwerk van die wet te bly.

Papenfus sê daar was geen infaseringstyd om die regulasies stelselmatig in werking te stel of behoorlike voorbereiding daarvoor te tref nie.

Die kode bestempel Covid-19 as ʼn “gevaarlike biologiese agent” en dit plaas dus sekere wetlike verantwoordelikhede op werkgewers om die blootstelling aan risiko van infeksie met Covid-19 te beperk.

Papenfus sê egter Covid-19 word allermins tot die werkplek beperk. “Of jy nou rugby gaan kyk, of apteek toe gaan of groente gaan koop … Covid-19 is nie ʼn werkplekkwessie nie, dit is oral.”

Hy sê ook die regulasies is nie gegrond op die aanbevelings van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 nie en dat die regering dit in stryd met sy eie komitee in werking stel. Dit is volgens hom ook onwetenskaplik.

“As ʼn mens griep het, gaan jy nie werk toe nie – jy bly by die huis. En as jy simptome het, tref jy maatreëls om ander mense nie aan te steek nie.

“Ons moet die werkplek oopstel en dan ons gesonde verstand gebruik met mense wat simptome toon. Bly tuis as jy simptome toon, gaan daar aan met jou werk of klim in die bed en rus.

“Dit is gesonde verstand en daarvoor het jy nie regulasies nodig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Henry ·

Hulle wil wys dat hulle in beheer is. Die inentings het geen doel nie

Heinrich ·

Dankie Neasa vir die gebalanseerde benadering. Covid is ‘n lelike ding maar is ten minste 98% oorkombaar. Die eksperimentele doepa het ook newe-effekte wat onomkeerbaar is, en kan jy nog steeds ander mense aansteek en self aansteek. Waarom is dié wat gespuit is dan so bang vir dié wat nie gespuit is nie; vertrou julle nie die spuit nie? Indien nie; hoekom dan almal forseer om dit te vat?

Heinrich ·

Ek het geen respek vir die trotse kennisgewings buite besighede dat al hul werrknemers ingeënt is “vir ons en julle beskerming” nie; dis eerder ‘n advertensie van menseregtevergrype vir my.

VaalDonkie ·

Ek het nooit eers so daaraan gedink nie. Maar jy’s reg.

Papsak ·

Hulle Wil Nou maar net wys hulle is in beheer van Alles en almal en Wil maak Soos hulle Wil hulle Gaan my nie regeer nie ASB

Di ·

Ons het ‘n tipiese KOMMUNISTIESE Regering – wil alles en almal beheer. Vat die spul hof toe, hulle het al genoeg skade berokken in die land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.