Neasa pak metaalwerkersvakbond oor beoogde staking in staalbedryf

Die staking in die staalbedryf kan die ekonomie lamlê. (Argieffoto: Unsplash)

Die National Employers’ Association of South Africa (Neasa) het ʼn kennisgewing van uitsluiting teen die metaalwerkersvakbond Numsa uitgereik nadat dié kennis gegee het dat hy op 5 Oktober met ʼn staking in die bedryf begin.

Die vakbond het die onbepaalde staking aangekondig nadat loononderhandelings met die werkgewersorganisasie ʼn dooiepunt bereik het. Dit kan ʼn verlammende uitwerking op die land se reeds sukkelende ekonomie hê.

Numsa het aanvanklik ʼn loonverhoging van 15% vir al sy lede geëis, maar het dit later tot 8% verlaag nadat hy ʼn dispuut by die bedingingsraad vir die metaal- en ingenieursbedrywe (MEIBC) verklaar het.

Neasa sê hy is verreweg die grootste werkgewersliggaam in die staalbedryf en hy bly in beginsel gekant teen die gesentraliseerde kollektiewe bedingingsmodel van die raad.

Gerhard Papenfus, hoof van Neasa, sê hoofsaaklik groot ondernemings in Suid-Afrika se ekonomiese hoofsentrums – en hoofsaaklik Numsa – beding loonooreenkomste wat hulle dan probeer uitbrei na klein- en mediumgrootte ondernemings (KMMO’s) wat onder heeltemal ander ekonomiese en bedryfsomstandighede werk.

Neasa volstaan met die beginsel dat elke individuele onderneming die lone van sy werkers moet kan bepaal en dat dit gegrond moet wees op die onderneming se eie omstandighede en finansiële vermoë.

“Neasa meen dat geen sosio-maatskaplike voordeel, dit wil sê enige vorm van ʼn toelaag, die voordele van ʼn loon kan vervang nie, selfs ʼn lae loon; dat die enigste volhoubare loon ʼn loon is wat gebaseer is op die unieke heersende omstandighede in elke werkplek; en dat die werkloosheid wat deur inmenging van buite veroorsaak word, sterk teëgestaan ​​moet word, veral in Suid-Afrika met ʼn uitgebreide werkloosheidsyfer van 44% en ʼn jeugwerkloosheidsyfer van 64%.

Papenfus sê dit is die hoofrede vir sosio-ekonomiese onbestendigheid en ʼn misdaadkoers wat buite beheer is.

Neasa het ook uitgevaar teen Numsa se bewering dat hy die uitbuiting van werkers probeer bevorder en het dit as “kwaadwillig en vals” bestempel. En hy sê Numsa weet dit.

“In werklikheid is die teenoorgestelde waar: Neasa se benadering die afgelope dekade, insluitend talle oorwinnings in menige regsaksies, het honderde ondernemings van ondergang en tienduisende werksgeleenthede gered,” sê Papenfus.

Hy sê die volharding met ʼn verouderde bedingingsmodel wat die “verwoestende deïndustrialisering” van die plaaslike staalbedryf veroorsaak het, is onverantwoordelik en kenmerkend van die onvermoë om aan te pas by ʼn benadering wat nodig is om aan Suid-Afrika se desperate sosio-ekonomiese en werkskeppingsvereistes te voldoen.

Papenfus sê ʼn nuwe model vir onderhandelings moet gevind word wat alle partye akkommodeer.

“Numsa se volharding met die idee van ʼn enkele generiese ooreenkoms vir die hele staalbedryf, gesluit met ʼn gemarginaliseerde, maklike teiken, die Suid-Afrikaanse Federasie van Staal- en Ingenieursbedrywe (Seifsa), staan in die pad om die bedryf te laat herleef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pablo ·

Van n volle funksionele onderneming onder Apartheids tot n totaal dysfunctional entiteit onder die ANC.

JoHines ·

Lekker, nuwe suid afrika, as jy te lui is om te werk staak jy.

Ian ·

Ek verstaan verhogings is belengrik maar dit moet in balans met die land en bedryf se finansieele omstandigheid gedoen word. Numsa is maar anc en dit is kommunisties van aard uitbuiting van sy lede en massa beheer was nog altyd hul doel en sal ook nie verander nie, solank hulle daar is sal die chinese floreer in die land.

Piet parys ·

Wel as die werkgewers dit nie kan bekostig nie dan is dit onvanpas om sulke verhogings te kry. Maar dan moet dit vir alle werkers geld en die elite van die maatskappye moet ook niks kry nie . Wat het geword van die laagste en hoogste salaris verhouding in maatskappye. Het ook vir n skepsel in die ingeneursbedryf gewerk wat sê hy kan nie verhogings bekostig nie maar bou huis vir sy 2 seuns langs die vaalrivier en gebruik 3 boilermakers om n fontein uit staal te bou . Dit was 11 jaar gelede en wil nie eers weet hoe dik sulke mense geword het nie . Aan die ander kant as werker nie waarde toevoeg tot die besigheid nie moet hy maar gaan .

Wiehan ·

Baie mense in die ANC en in ander partye vra dat ons hie rin SA dieselfde sosalistiese stelsel as China invoer en toepas. Ek het geen probleem daarmee nie maar dan moet die stelsel 100% ingevoer word.
1. Geen meer Vakbonde nie
2. Minimum salaris weg
3. Werkers ure work deur werkgewer vasgestel en betaal.
4. Fire mense wat nie wil werk nie sonder probleme van Dept labour of CCMA
5. Alle minerale moet in SA verwerk word en dan moet klaar vervaardigde produkte uitgevoer word
6. Bedrog, moord, verkragting – doodstaf binne 72 uur
7. Al die toelae word gestop behalwe pensioen (ouers as 60) en vir gestremdes en WETTIGE persone met siektes wat nie KAN WERK nie
Maar glo my, hulle praat en loof net die Chinese stelsel maar sal dit nie hier inbring nie want ons mense is al te gewoond om te “DEMAND”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.