Neasa pak Saru oor verpligte inentings

Argieffoto (Foto: hirobi/Pixabay)

Die werkgewersorganisasie Neasa het hom Maandag sterk uitgespreek teen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se beleid oor verpligte Covid-19-inentings vir skolerugby.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van Neasa, het Jurie Roux, die hoof van Saru, skriftelik in ʼn brief genader en gesê Neasa neem met teleurstelling kennis van die besluit.

Saru se skolerugbyvereniging (Sasra) het op 12 April alle provinsiale voorsitters skriftelik in kennis gestel dat verpligte Covid-19-inenting vereis word vir alle spelers wat vir enige Saru-toernooie gekies word. Dit sluit spelers in wat op skolevlak gekies word vir provinsiale spanne wat aan die Cravenweek, Akademieweek en Grant Khomoweek deelneem. Skolerugbyspelers sal nie vir enige van hierdie spanne gekies kan word tensy hulle teen Covid-19 ingeënt is en ʼn bewys van inenting kan lewer nie.

“Die besluit kan ʼn langdurige impak hê op die gesondheid en lewens van talle jong sportmanne en -vroue wat gedwing word om hulself te laat inent,” sê Papenfus. “Ons wil dit benadruk dat ʼn risiko-voordele-analise, vir elke individu, as ʼn minimum etiese vereiste gedoen moet word voor enige spesifieke mediese ingryping verplig word.”

Papenfus meen as daar nie aan dié beginsel voldoen word nie, kan die persoon wat die reëls wil afdwing, homself blootstel aan ʼn rits wettige en etiese oortredings, of minstens growwe nalatigheid of onprofessionele gedrag.

Neasa sê statistieke toon dat die waarskynlikheid dat iemand jonger as 20 sal sterf aan Covid-19, minder as 10 in ʼn miljoen is (gemiddel 2 – 3 in ʼn miljoen met komorbiditeite as die grootste risiko-aanduiding). Papenfus meen dit is ook onwaarskynlik dat seuns met komorbiditeite, soos vetsug, diabetes en harttoestande, nie rugby speel nie. “Jong rugbyspelers het dus nie ʼn risiko as hulle gesond en fiks is nie.”

Hy verwys ook na die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming (CDC) en Pfizer se eie veiligheidsverslag dat die waarskynlikheid vir sterfte weens die Covid-19-entstof minstens 25 in ʼn miljoen is. Papenfus sê ʼn seun se kans om miokarditis ná inenting op te doen is ook uiters hoog. “Dit is teen hierdie tyd ʼn bekende newe-effek van Covid-19-inentings. Die risiko vir miokarditis en perikarditis staan op 70 gevalle per miljoen vir die ouderdomsgroep 16 – 24 jaar.”

Volgens Papenfus is die langtermyn-effek van die entstowwe ook onbekend. “Die situasie kan net vererger in die toekoms. Daar is geen bewyse dat die entstowwe oor die lang duur veilig sal wees nie en die skade is onomkeerbaar.”

Neasa sê Saru moet oorweeg waarom hy minstens 25 lewens in gedrang wil plaas en tot 70 seuns se toekoms, om drie seuns se lewens te red. “Dit terwyl ons weet dat die seuns wat die grootste risiko dra, waarskynlik nie in die betrokke rugbygroepe deelneem nie. Dit is duidelik irrasioneel.”

Die organisasie rig ʼn pleidooi in die ope brief aan Saru om nie Covid-19-inentings te verplig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Dit is duidelik dat saru nie hul huiswerk gedoen het nie. Hul wil mense wat gesond is sieklik maak.

Christine

Daar is ‘n verskuilde agenda agter die mandate – hulle wil als wat vir ons belangrik is, ‘n stille dood laat sterf.

Miskruier

Eergister het nog n bekende Indiese sporter gesterf aan n hartaanval 40jaar oud. Kan MM n artikel hieroor skryf asb.

Lourens

Hopelik gebruik hierdie seuns hulle gesonde verstand en weier genoeg van hulle om daardie inspuiting te vat. Laat die toernooi dan maar afgewaterd voortgaan met gedienstige, oningeligte gehoorsame outjies.

Chris

Ek het ontsaglike respek vir Gerhard Papenfus – hy het ruggraat!! Baie goeie leier!! Hy staan op vir ons regte, en behoort ons organisasies soos NEASA te ondersteun. Dankie vir die plasing MM.