Nedbank glo onder druk om Gupta-rekenings oor te neem

Mike Brown, Nedbank se uitvoerende hoof. Argieffoto: ANA

Mosebenzi Zwane het toe hy minister van minerale hulpbronne was, glo druk op Nedbank uitgeoefen om bankdienste vir die omstrede Gupta-familie oor te neem en “werkgeleenthede te red” nadat ander groot banke die familie se sakerekenings in Suid-Afrika gesluit het.

Mike Brown, Nedbank se uitvoerende hoof, het Woensdag voor die kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dat hy versoek is om ʼn vergadering van die tussenministeriële komitee (TMK) onder Zwane se leiding by te woon.

Brown het gesê nog twee hooggeplaastes van Nedbank het die vergadering in Mei 2016 in Zwane se kantoor in Pretoria bygewoon.

Volgens Brown het Zwane die vergadering geopen en sy misnoeë uitgespreek dat sommige banke geweier het om vergaderings van die TMK by te woon, en het toe uitgewei oor die komitee se magte. Brown het getuig hy het dit as ʼn bedekte dreigement beskou.

Brown het gesê ondanks sy aandrang daarop dat die bank se verhouding met sy kliënte nie bespreek mag word nie, het Zwane begin praat oor die sluiting van die Gupta-rekeninge.

“Ek het gevoel talle verwysings na die [bank]lisensiëringsregime het neergekom op druk op die bank,” het Brown getuig. “Met die afsluiting van die vergadering het Zwane versoek dat Nedbank die banktransaksies oorneem en die Gupta-bankier word aangesien alle banke hul rekeninge gesluit het.”

Al was dit veronderstel om ʼn tussenministeriële vergadering te wees, het net Zwane dit bygewoon.

Volgens Brown het die minister hom verseker dat die destydse minister van finansies, Pravin Gordhan, bewus was van die vergadering, maar “dit was vir my vreemd dat hy nie daar was nie”.

Nedbank het die Gupta-rekeninge wat aan die beheermaatskappy Oakbay Investments asook Islandsite, Confident Concept, Sahara Computers en VR Lazer behoort het, ondersoek en gesluit.

Brown het getuig: “Ten opsigte van die proses wat ons gevolg het, het ons ʼn komitee saamgestel … om ons verhouding met die Gupta-familie te hersien.” Daarna het Nedbank die Gupta-maatskappy ʼn kennistydperk van 30 dae gegee oor die voorneme om die rekenings te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Genieve ·

So die guptas het lekker ons gelde tussen die banke verdeel en nou moet Jan aalleman lei onder die gees van bedrog.

Landsburger ·

Die ANC kaders is goed geskool om hul mag te misbruik. Zwane was maar net nog een. En buitendien, DIE DELER IS NET SO SKULDIG SOOS DIR STELER

Alida ·

Die klomp skelms moes lankal n nommer by korrektiewe dienste gekry het. Hierdie gepoer-poer mors net geld.

SjN ·

Korrupte regering, Banke se lisensies word beheer en uitgereik deur die Reserwe Bank volgens vasgestelde wette en regulasies, kla hul aan, is dus mede pligtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.