Nederlander op Mpumalanga-plaas vermoor

Peet van Es. Foto: Facebook.

Arine Prins gaan haar man se liggaam terug Nederland toe vat nadat hy wreed op ‘n plaas in Mpumalanga vermoor is.

Peet van Es (54), sy vrou, Arine, en ‘n vriend is Vrydagaand op die plaas Moseley in Barberton deur vyf gewapende mans oorval.

“Dit was so 20:30 en daar het ʼn vriend van ons by ons gekuier. Ek en hy was onder in die huis en Peet het op die boonste verdieping geslaap. Drie gewapende mans met balaklawas aan het daar ingestorm. Hulle het my en die vriend met elektriese kabels vasgebind, hom beveel om in die hoek te ‘slaap’ en is toe op boontoe na Peet toe,” het Prins gesê.

Volgens Prins is haar man erg gemartel. “Hulle het hom vir vyf lang ure gemartel en sy lyf rondgesleep op die vloer, ek kon dit hoor. Daar het intussen nog twee aanvallers bygekom. Hulle het hom met golfstokke geslaan, gesteek met messe en stokke en met spykers gemartel … vir vyf ure lank. Hulle het sy kop oopgeslaan, selfs van sy tande was uit,” het Prins gesê.

Prins het gesê die twee aanvallers wat onder in die huis was het haar ook gemartel. “Hulle het my met ʼn plastieksak probeer verwurg en aanhoudend geslaan. Hulle het my ook probeer verkrag. Hulle het álles gesteel – skootrekenaars, tabletrekenaars, selfone en juwele wat ek by my ouers gekry het.”

Volgens Prins was daar kontant in die huis aangesien die mense wat in die tweede huis op die plaas bly daardie dag hul huur betaal het. “Hulle het selfs die bad opgelig om te kyk of iets nie dááronder weggesteek is nie. Hulle het al my klere met ʼn tipe swaard afgesny, hulle het al die sakke in die huis ook oopgesny en gesoek na geld of ander besittings; hulle het selfs my waterbed oopgesny.”

Van Es en Prins het in 1999 Suid-Afrika toe geïmmigreer van Nederland af. “Ons het ʼn African dream gehad, weet jy, ons wou net gelukkig hier kom lewe. Peet was ʼn siviele ingenieur en het baie werk in Mosambiek gedoen; ek wens hy het daar gebly.”

Volgens Prins sal Van Es in Nederland begrawe word. “Ek gaan beslis net ʼn paar goed stoor en die res verkoop, ek gaan terug huis toe. Ek sal hom ook nooit hier laat begrawe nie. Ek gaan hom huis toe vat … Ek het soveel vrae. Hoekom ons? Hoekom net vir hom? Het iemand hulle betaal om dit te doen? Hy was so vredeliewend, hy het nooit enige mens of enige dier seergemaak nie. Ek is sat vir hierdie land. Ek wil geen verbintenisse meer hier hê nie. Ek gaan dit nie net hier laat en maak asof my man se lewe niks werd was nie.”

Prins het gesê die moordenaars het eers probeer om haar voertuig, ʼn Land Rover, te steel, maar kon dit nie aangeskakel kry nie. “Hulle het toe ons vriend se Chevrolet-bakkie gevat en gevlug.” Maroela Media het vroeër berig die voertuig se registrasienommer is FVD 843 MP.

Die moord op Van Es het intussen die internasionale nuus gehaal. Die meeste van Nederland se media het ook daaroor berig. Martin Bosma, lid van die Nederlandse Tweede Kamer en die Partij voor de Vrijheid, het in ‘n e-pos aan Maroela Media gesê hy het Nederland se minister van buitelandse sake versoek om antwoorde te gee oor hoe hulle Nederlanders se veiligheid in Suid-Afrika sal verseker.

Lt. Kol. Ruben Pilusa, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê daar is nog niemand in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Dit blyk dat die verdagtes buite ons polisiëringsgebied is, maar ek belowe jou dat iets gaan gebeur,” het Pilusa gesê.

ʼn Saak van roof en moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

68 Kommentare

jongste oudste gewildste
Caru

Dis reg Me Prins laat die wêreld weet wat werklik nou in SA gebeur. Daar is geen respek meer nie.

So het ons almal n Afrika droom gehad wat besig is om in n nagmerrie te ontaard.

So het ons almal n Afrika droom gehad wat nou in n nagmerrie ontaard.

D.

Gaan vertel dit aan die buiteland, dis reg. Laat almal weet waardeur ons burgers gaan.
Ek en my man is besig om ons dinge so agtermekaar te kry dat ons ook buiteland toe, my ma is daar gebore (Nederland). In hierdie land is daar nie ‘n toekoms vir ons dogtertjie nie.

lilla B

Verlede week gesels ek met “vriende” op ‘n whatsApp groep oor veiligheid. Ek het die vrymoedigheid gehad om ‘n stelling oor veiligheid te maak en is skerp gekritiseer oor my negatiwiteit wat blote realisme was. ‘n gedagte gedeel dat hulle meer waaksaam moet wees. Die slotsom waartoe ek kom, daar is werklik nog mense wat in kammaland woon, wat glo gebed alleen is die antwoord want dan sal die Hemelse Vader jou versorg. Hierdie is niks met negatiwiteit of vrees of ongelowigheid te doen nie, hier word openlik oorlog verklaar teen ons, ons lewens sowel as eiendom en lewensreg in… Lees meer »

Chris

Ek is jammer skaam kwaad en hartseer oor die man se moord. Dit is verbasend wat die buitelandse reaksie is wanneer een van hulle iewers anders as in hul eie lande vermoor word. Dit is die harde realiteit wat die inwoners van daardie lande gaan tref en hopelik tot die besef gaan kom wat in die land aan die gang is wat hulle vroeër verguis het en terrorists beweging befonds het. Daardie klein mistige eilandjie aan die Franse Weskus gaan ook nog hul dade van terrorisme begin smaak.