Nederlanders dood in N4-ongeluk

‘n Vragmotor, minibustaxi en ligte afleweringsvoertuig was in die botsing betrokke (Foto: Verskaf)

Vyf mense is dood toe ʼn vragmotor, ʼn minibustaxi en ʼn ligte afleweringsvoertuig Vrydagoggend op die N4 naby Schoemanskloof, Mpumalanga, in ʼn ongeluk betrokke was. Drie van die oorledenes is Nederlandse toeriste wat in die taxi gereis het.

Volgens Moeti Mmusi, woordvoerder van die departement van gemeenskapsveiligheid, het die vragmotor en minibustaxi mekaar teen die kant getref, waarna die vragmotorbestuurder beheer oor die voertuig verloor en reg van voor teen die ligte afleweringsvoertuig gebots het. Die afleweringsvoertuig het in die teenoorgestelde rigting beweeg, terwyl die ander twee voertuie albei in dieselfde rigting beweeg het.

“Vyf mense is dood, van wie vier in die minibustaxi was. Een van hulle was die taxibestuurder. Die bestuurder van die afleweringsvoertuig is ook op die toneel dood verklaar,” sê Mmusi.

Volgens Mmusi was drie van die oorledenes in die taxi, toeriste van Nederland.

Nog drie passasiers van die minibustaxi en die vragmotorbestuurder is ernstig beseer. Een persoon het met geringe beserings van die ongeluk afgekom.

Volgens Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, moes paramedici die vragmotorbestuurder uit die vragmotor bevry.

Al die beseerdes is per ambulans na nabygeleë hospitale geneem vir verdere mediese behandeling.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

Vusi Shongwe, die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, het sy kommer oor die gereelde gru-ongelukke in die provinsie uitgespreek. Hy het ook weereens ’n beroep op motoriste gedoen om waaksaam op die pad te wees en padreëls te gehoorsaam.

“Ons moet almal ons deel doen om ongelukke hok te slaan. Ons paaie moet nie deur roekelose bestuurders in moordterreine omskep word nie,” sê Shongwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Christian ·

Ek stem saam dat die taxi’s ‘n groot probleem is maar met wat vervang jy die taxi’s? Wat sal jou plan wees om dan die na genoeg 35 miljoen mense wat van hulle gebruik maak van punt A na punt B te vervoer? Die land se wetstoepassers is vir my die probleem, as jy wegkom met moord dan gaan jou gedrag nie verander nie.

Frank John ·

Gaan jy mense rond ry in jou kar dan nadat die taxi’s verwyder is?

Jaco ·

Hartseer en simpatie aan die naasbestaandes. Kan net nie verstaan hoekom die toeriste altyd die “African experience” tot op die kleinste detail wil beleef nie, soos bv in ‘n minibus taxi wil pendel nie.

Dries ·

Baie blankes besit ook minibusse, wat skoolkinders pendel, asook ou mense in tehuise.

Lida ·

Rerig Vusi Shongwe…..Ons land se paaie is die grootste moord terrein voeg n paar taxi’s by en jy het n wen resep vir ongelukke!!!????
Sterkte aan die families van die oorledenis????

Philip ·

Dit sal die Kaasmanne n redelike tyd vat om oorsaak en die skuldige uit te wys wat die ongeluk veroorsaak het in Nederland self. In SA self is dit heel duidelik ek was al 2maal op dieselfde manier van die pad afgedwing deur n TAXI wat n ander voertuig verbysteek van voor af.My innige simpatie met die slagoffers se naasbestaandes.

Swerwer ·

Haal Minibustaxi’s van die paaie af en stel ‘n ordentlike busdiens daar vir toeriste en pendelaars.

SwartBees ·

Sal nooit gebeur nie. Sodra die moord waens van die pad af is sal hulle die bus diens ten gronde afbrand.

Toy ·

So jammer die Nederlanders het die taxi gebruik vir hul vervoermiddel. Hartseer.

Johan ·

Die trokke wat steenkool en erts op die Schoemanskloof pad vervoer is ‘n baie groter gevaar as taxis. Hulle sny daai spesifieke draai baie. Die ongeluk so paar maande terug waar die 4 mense in dood is, is op dieselfde plek. Hierdie trokke is ‘n klomp cowboys. Sperstrepe ens tel nie vir almal van hulle nie. Ry versigtig as jy hier kom kuier.

Swanie ·

Moet nie couriers weg gooi nie party van hulle ry net so woes

Thelsa ·

Ek sien dubbel sperstrepe op die foto. Dit beteken in leketaal: gaan by ‘n ander voertuig verby. Sotte!!!!

Lillian ·

Mense besoek ons land en gaan in kiste terug huistoe … en dit oor ‘n rit in ‘n taxi …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.