‘Neem Grace Mugabe in hegtenis,’ eis Sanco

Grace Mugabe. Foto: (Xinhua/Stringer) (zxj)

Die Suid-Afrikaanse burgerlike organisasie Sanco het Saterdag gesê Zimbabwe se presidentsvrou, Grace Mugabe, moenie toegelaat word om haar diplomatieke immuniteit te misbruik deur nié vir haar “skandelike daad” in hegtenis geneem te word nie.

Jabu Mahlangu, Sanco-woordvoerder, het gesê Mugabe vlug van die Suid-Afrikaanse reg en moet verantwoordelik gehou word vir die daad wat sy gepleeg het voor sy op diplomatieke immuniteit aanspraak gemaak het.

“Suid-Afrika moet nié die rooi tapyt vir haar uitrol by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se eerste gades-program nie,” het Mahlangu gesê.

Hy het gesê Suid-Afrika moenie sy kriminele- en regstelsel in gedrang bring deur haar nie aanspreeklik te hou nie.

“Gelykheid voor die wet is ʼn bepaling van ons Grondwet, en is van toepassing op almal wat hulself binne die grense van Suid-Afrika bevind.”

Mahlangu het gesê Mugabe moet ʼn ultimatum gegee word om haarself óf aan ʼn Suid-Afrikaanse hof oor te lewer óf vir Interpol toelaat om haar in hegtenis te neem sodat sy verhoor kan word.

Gabriella Engels (20), ʼn model van Johannesburg, beweer Mugabe het haar verlede naweek in ʼn hotel in Sandton aangerand nadat sy Engels in die geselskap van haar twee seuns aangetref het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het Donderdagmiddag tydens ʼn mediakonferensie in Centurion gesê die Engels-gesin is deur “ʼn derde party” genader wat hulle geld aangebied het. Volgens Nel is daar geen bedrag genoem nie en is Engels ook nie gedreig nie.

Zakhele Mbhele, die DA se skaduminister van polisie, het in ʼn verklaring gesê volgens die Wet op Diplomatieke Immuniteit en Voorregte kan Mugabe haar nie op diplomatieke immuniteit beroep nie. “Sy is nie hier [in Suid-Afrika] in ’n amptelike hoedanigheid nie en die immuniteit is slegs van toepassing op staatshoofde en nie van toepassing op ʼn presidentsvrou nie,” het Mbhele gesê.

Die departement van polisie het laat Woensdagmiddag bevestig dat Mugabe steeds in Suid-Afrika is terwyl die regering van Zimbabwe tans in gesprek met Dirco is om haar diplomatieke immuniteit in werking te stel.

Intussen het Zimbabwe se president, Robert Mugabe, Woensdagaand by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland waar hy deur Siyabonga Cwele, minister van telekommunikasie en posdienste, verwelkom is.

Lees alle vorige berigte oor Grace Mugabe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Drieks ·

‘n mens word naar om te sien hoe Grace beskerm word. Dis hoekom sy Gabriella aangerand het, want in”” Anc land”” kom mens vir misdaad.

Leahim ·

Ek wil net sekermaak Maroela media en Solidariteit is suster organisasies?

Leahim ·

Ek wil net sekermaak hierdie is nie soos die Guptas en hulle media new age nie want sodra ek iets se van solidariteit of Flip Buys word dit nie geplaas

Cherokee ·

Daar is geen verskil in wat Manana en Mugabe gedoen het nie. Albei het vrouens aangerand en die ANC is sku om teen enigeen van hulle op te tree.

Justice ·

Ek sal graag vir Mugabe vervolg wil sien maar my eerlike opinie is dat Engels eerder die maksimum finansiele voordeel hieruit moet put – sy is nog jonk en indien die geld reg bele word kan dit vir haar `n goeie nes eier wees vir die toekoms.

Cherokee ·

Jou vreemde manier om justice te bepleit maak nogal sin. Op voorwaarde Engels is nie cheap nie.

karen ·

nee Justice , iets is nie reg in die storie. Daar was 2 vroue in die kamer saam 2 mans. Net 1 vrou kla en word beskerm verdedig Geen arresasie en geld word aangebied ? I smell a rat ….
2 Vroue word in nagklub aangerand Nie een van die vroue word te hulp gesnel deur wie – alhoewel daar tog arrestasie is en borgtog en bedanking. Neeeeee !

Peanut ·

Ek is nogal geneig om saam te stem mugabe gaan skotvry afkom, mugabe moet nadese verbied word in die land

R Burger ·

As die SA Regering wil hê die land se mense moet meer respek kry vir hulle, sal die Regering moet bewys hy wil sy land se mense beskerm en Grace inhegtenis neem en haar skuldig bevind. Indien nie, wys dit net dat tirani belangriker is as elke gewone Suid-Afrikaner.

Lynne ·

Die Madam staan self agter die deur! As ek reg onthou, is sy ongeveer 6 jaar gelede, saam met haar boyfriend in ‘n hotelkamer in Zim gevang…..

karen ·

nee Johan ek glo nie maar hoekom wonder ek , word die vroue in ander voorval nie so verdedig. Albei klappers is skuldig aan aanranding ….

Meatloaf ·

Fluit, fluit die storie is uit. Hulle is alreeds landuit. Geen haan sal kan kraai. Was hulle egter in die VSA, sou hierdie dame vanaand in n tronk slaap, verseker. Maar ek glo nie Mugabe mag sy voet hier sit nie, mag verkeerd wees.

Meatloaf ·

I am right. Mugabe is not permitted to enter the USA. Se dit iets!!!

Deon ·

Lees die artikel… Mahlangu..”Gelykheid voor die Wet is n bepaling van ons grondwet” … wonder waar was hy van 1994 tot en met hede…

Manna ·

As hulle Grace Mugabe in hegtenis neem. Moet hulle somaar vir Robert ook in hegtenis neem vir misdade teen die mensdom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.