Nege agter tralies oor ‘beskermde plante’

Van die plantjies waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Nege mense is agter tralies nadat hulle in die onwettige besit van beskermde plante betrap is.

Die stropery van beskermde plante is ʼn toenemende probleem en die inhegtenisnemings is as ʼn slag in die stryd teen smokkelary bestempel.

Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê lede van die Springbok- en Kuilsrivier-eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies het Donderdag in Elsiesrivier in die Wes-Kaap toegeslaan.

Die polisie het beslag gelê op 3 500 Conophytum achabense-plantjies ter waarde van sowat R200 000.

Die Suid-Afrikaanse nasionale instituut vir biodiversiteit (Sanbi) dui die plante se status as “sensitief” aan. Dit is dus ʼn spesie wat dikwels op ʼn geteikende manier versamel en verkoop word.

Die polisie het ook beslag gelê op Conophytum fredericea-plantjies ter waarde van sowat R150 000.

Voorts is beslag gelê op ʼn Volkswagen Polo en vyf selfone wat vermoedelik in die uitvoering van die misdaad gebruik is, sê Kock.

Die nege verdagtes is van Springbok in die Noord-Kaap en word aangekla van die handel, versamel, vervoer en onwettige besit van beskermde plante. Hulle verskyn na verwagting binnekort in die Goodwood-landdroshof.

‘n Conophytum Fredericea-plantjie in die natuur. (Foto: A.J. Young via Sanbi)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Herman L ·

Ek sal graag wil weet wat word van die bolle? As dit as bewysstuk in die hof moet dien, kan dit maklik daartoe lei dat al die plante vir altyd verlore is. As fotos of ‘n video deur die hof aanvaar word, kan die bolle geplant word waar dit veilig is en so bewaar bly.

Deon ·

Ek sou reken, vat dit terug waar dit vandaan kom, in Springbok is daar n natuur reservaat genaamd Goegap, hulle kan dit sommer daar gaan plant

SjN ·

Solank daar n afset is, sal dit nie stop nie, laat die kopers ook boet.

Swerwer ·

Geen genade vir inwoners wat die natuur skend . Hopelik sal daardie bolletjies deur dieselfde 5 onder toesig teruggeplant word waar dit verwyder is as deel van hul straf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.