Nege dood in twee motorongelukke

’n Kop-teen-kop-botsing tussen twee voertuie het Dinsdagaand in Benoni plaasgevind (Foto: ER24)

Altesaam nege mense is Dinsdagaand dood in twee afsonderlike ongelukke in Benoni en Polokwane.

Om 20:00 Dinsdag is ER24-paramedici na Birchweg in Benoni ontbied waar daar ook ’n kop-teen-kop-botsing tussen twee voertuie plaasgevind het. Vyf mense het in dié ongeluk omgekom.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, vertel toe paramedici op die toneel aankom, was vyf insittendes nog in die een voertuig vasgekeer. Al vyf insittendes het leweloos voorgekom. Paramedici kon niks verder vir hulle doen nie en het hulle op die toneel dood verklaar.

Volgens Van Huyssteen is die bestuurder van die tweede voertuig buite op die grond langs sy voertuig aangetref. Hy het matige beserings opgedoen en paramedici het hom op die toneel begin behandel. Hy is daarna na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

In Polokwane is vier mense dood en twee kritiek beseer nadat twee minibustaxi’s kop aan kop in Nelson Mandelarylaan gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê paramedici is om 19:00 na die toneel ontbied. Met hul aankoms op die toneel het hulle albei taxi’s in die middel van die pad aangetref. Die een taxi het regop in die pad gestaan terwyl die ander een op sy kant in die pad gelê het.

Meiring sê die insittendes van die taxi’s het verspreid oor die pad gelê. Drie van die insittendes is op die toneel dood verklaar.

“Daar was nóg drie insittendes wat kritiek beseer is. Paramedici het hulle op die toneel begin behandel. Een van die drie het ongelukkig ook aan sy beserings beswyk,” sê Meiring.

Die ander twee beseerdes is per ambulans na die Polokwane- provinsiale hospitaal geneem vir verdere mediese sorg.

Die presiese omstandighede rakende die twee ongelukke is nog nie bekend nie en die polisie ondersoek tans albei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adam Adriaan ·

Neem kennis Nelson Mandella weg is ‘n dubbel weg met ‘n middelmannetjie. Hoe dit kon gebeur het is ‘n groot wonder. Seker die kluts kwyt geraak en stroomop gery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.