Nege dood ná Welkom-busongeluk

Nege mense is in die ongeluk naby Welkom dood. (Foto: Vrystaatse departement van gesondheid)

ʼn Busbestuurder het vanoggend glo selfmoord gepleeg kort ná ʼn ongeluk waarin agt van sy passasiers omgekom het.

Volgens die polisie het die busbestuurder by ʼn verkeersirkel beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan.

Die Vrystaatse departement van gesondheid sê drie mense is in ʼn bedenklike toestand, agt mense is ernstig beseer en nóg 35 mense het geringe beserings opgedoen toe die bus kort voor 05:00 in Almaweg in Welkom omgeslaan het. Die departement het gesê vier van die slagoffers was kinders.

“Sewe van die oorledenes is op die toneel dood verklaar en ʼn kind is later in die hospitaal dood. Die bestuurder van die bus het hom na bewering aan ʼn boom naby die ongelukstoneel opgehang,” het die departement gesê.

Die Welkom-polisie ondersoek klagte van strafbare manslag en doen ʼn geregtelike doodsondersoek na die voorval.

Luidens berigte was die Intercape-bus op pad van Upington in die Noord-Kaap na Johannesburg.

Die beseerdes word by die Bongani-hospitaal, die St. Helena- private hospitaal, Mediclinic en die Thusanong-hospitaal behandel.

Maroela Media het Intercape om kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Anoniem ·

Ek is baie, baie jammer om van die ongeluk te verneem. Intercape lewer gewoonlik uitstekende diens en ek verkies om met hulle te reis. Dis werklik ‘n baie betreurenswaardige voorval.

My opregte medelye met die beseerdes en familie van die oorledenes. Ek is so spyt oor die selfmoord van die bestuurder. Ai, so onnodig om nog ‘n lewe te verloor. Wys net hoe ernstig het die man sy werk opgeneem.

Baie sterkte aan almal betrokke.

KL ·

of hy het geweet hy is onder die invloed van iets, of dat hy weet hy sou skuldig bevind geword het. Daar’s talle videos op die interwebs oor hoe instercape busse ry op die paaie.

Lee ·

Ai dis nie lekker nie. Ongelukke gebeur maar shame dat die bestuurder sy eie lewe ook geneem het is vir my verskriklik. My innige simpatie aan al die familielede en vriende van almal wat hulle lewens verloor het en mag die ander gou gesond word.

Namgrl ·

Sjoe, dis nou verskriklik. Innige simpatie aan almal betrokke in hierdie ongeluk, hetsy familie, vriende, kennise. Dit is baie tragies. En die arme bus bestuurder – al die gedagtes wat deur sy kom moes hardloop….te veel…te veel seer. Sterkte mense.

Gert van Wierdapark ·

Spoed? – waarskynlik te vinnig om die sirkeldraai te kon neem. Tragedie!

honourable member ·

Hierdie artikel onstel mens baie. Ongelukke gebeur en die skok moes net te groot gewees het vir die arme man. Dis so tragies.

Leser ·

Dit is regtig ‘n baie hartseer storie hierdie. Wys jou net hoe sleg hierdie busbestuurder moes voel om uit te vind daar was mense wat hul lewens verloor het…ai…

Ryer ·

OF die bestuurder het geweet hul sal hom skuldig bevind aan iets, mense pleeg nie net selfmoord nie, hier is of skuldgevoelens of iets betrokke, dalk onder die invloed van iets bestuur, dalk sy ure oorskry, dalk nie genoeg geslaap nie of of of. Sterke aan almal!

wet ·

Dink nie iemand wat iets doelbewustelik verkeerd doen sal selfmoord pleeg nie. Die persoon voel dan vere in die eerste plek vir hoe hy optree….

wielie ·

Ag dis so tragies. Dit is n ONGELUK. Om homself om die lewe te bring, wat het deur sy kop gegaan? Is hy dalk ook n vrou se eggenoot? n Pappa van kinders? Iemand se seun. Ai dis bitter hartseer want ek dink daardie persoon is stukkend oor die ongeluk ,,, en nou is sy mense ook stukkend. Baie sterkte aan almal betrokke.

Mariaan ·

Tragedie op tragedie op ons land se paaie!!! Maak my BAIE benoud…wil nerens meer heen ry nie…die hel is los op ons paaie! Sterkte aan almal hier betrokke

Marinda ·

Baie jammer om van die ongeluk te hoor.
My seun het gereeld gebruik gemaak van Intercape op hierdie roete. Nooit probleme gehad nie.

Willem ·

Of dis dalk net die simptome van menswees en skuldgevoel, omgee en aanvaarding… niemand was daar om in sy skoene te staan om nog kommentaar te kan lewer oor wat “miskien”was…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.