Nege in hof oor Kathrada-moorde

Twee van Ahmed Kathrada (1929–2017) se nabye familielede is op Schweizer-Reneke doodgeskiet. Foto: Facebook

Nege verdagtes, tussen 16 en 60 jaar oud, het in die landdroshof op Schweizer-Reneke in Noordwes verskyn in verband met die moord op twee familielede van die anti‑apartheidsaktivis Ahmed Kathrada.

Die hofverskyning spruit uit ʼn noodlottige roof op 1 November toe die strydros se 28-jarige familielid Moulana Ahmed Kathrada omstreeks 21:00 van die kerk af tuisgekom het, vertel kol. Adéle Myburgh, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Twee verdagtes het hom oorval toe hy die veiligheidshek oopmaak. Hy is in die bors geskiet. Intussen het sy ma, wat in die huis was, die skoot gehoor en haar man, Yunus Kathrada (65), gevra om te gaan kyk wat gebeur.

Hy is in sy agterkop geskiet en het op die toneel gesterf, sê Myburgh. Sy seun is na ʼn hospitaal gebring, maar het met sy aankoms daar beswyk.

Die verdagtes het op die vlug geslaan sonder dat hulle iets geroof het.

Ná die voorval het die provinsiale polisie ʼn taakspan op die been gebring wat Maandag en Dinsdag nege verdagtes aangekeer het, van wie sewe op Schweizer-Reneke en twee op Taung, sowat 90 km daarvandaan. Almal word van moord en poging tot roof aangekla.

Beamptes het ook op twee voertuie en ʼn vuurwapen beslag gelê.

Die nege sou aanvanklik Woensdag in die hof verskyn het, maar hul eerste hofverskyning is tot Donderdag uitgestel, sê Myburgh.

Xolani Andrew Sotshantsha (25), Mogomotsi Moruwa (31), Abiya Jeffrey Phakoane (60), Adam Mohale (31), Sello Bamphitile (29), Godfrey Thabiso Cuna (46), Kgotso Moeletsi (29), Thato Levetti (26) en ʼn 16-jarige seun bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning op Woensdag 14 November. Die tienerseun word in ʼn jeugfasiliteit aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hoe nou....... ·

Jis hulle is gou vasgetrek! Hulle gaan ook borg kry …………ne?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.