Nege leerders vas vir brandstigting, vandalisme

Van die goedere wat vermoedelik tydens die voorval gesteel is. Foto: SAPD.

Nege leerders is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering ʼn skool aan die brand gesteek en skooleiendom gesteel het voor hulle van die toneel gevlug het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê nege verdagtes is Woensdagaand met behulp van misdaadintelligensie vasgetrek op aanklagte van brandstigting en diefstal nadat die Hoërskool Sokheni in Kranskop naby Greytown aan die brand gesteek en skooleiendom gesteel is.

Die verdagtes is volgens Zwane tussen 18 en 20 jaar oud. Hulle het Donderdag in die Kranskop-landdroshof verskyn en sal in aanhouding bly tot die saak weer op 20 September aangehoor word.

Daar is beslag gelê op fietse, skootrekenaars en selfone wat na bewering tydens die voorval op 11 September gesteel is.

Van die goedere wat vermoedelik tydens die voorval gesteel is. Foto: SAPD.

Volgens Zwane is die skoolhoof se kantoor ook beskadig. “Leerders is glo ongelukkig oor die toestand van die skool,” het Zwane gesê.

ʼn Saak van brandstigting en diefstal is by die Kranskop-polisiestasie aanhangig gemaak en word ondersoek.

Bheki Langa, die provinsiale waarnemende polisiekommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom. “Om eiendom te beskadig gaan niks oplos nie en dit gaan nou jare neem om die skade wat hulle aangerig het te herstel,” het Langa laat hoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.