Nege nou in hegtenis ná KZN-polisievrou se dood

Een van die vuurwapens waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Nadat verskeie mense vroeër in verband met die dood van ʼn KwaZulu-Natalse polisievrou in ondervra is, is nege mense nou in hegtenis geneem vir die moord.

Konst. Thandekile Promise Sikhakhane (35) is Dinsdagaand doodgeskiet.

Sikhakhane, geklee in haar uniform, was in haar private voertuig op pad werk toe, toe sy twee vroue by ʼn vulstasie in Ladysmith ʼn saamrygeleentheid na Ezakheni gegee het.

Volgens die twee vroue het aanvallers op die voertuig losgebrand terwyl hulle Ezakheni genader het, het kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, gesê. Sikhakhane het stilgehou en een van die aanvallers het haar motordeur oopgepluk en haar doodgeskiet.

Haar dienspistool is geroof en die ander twee vroue is van hulle persoonlike besittings beroof.

Die polisie het sy 72 uur-aktiveringsplan in werking gestel en drie dae later is ʼn verdagte met Sikhakhane se dienspistool opgespoor. Nog agt verdagtes is Vrydagaand aangekeer en is nou in hegtenis geneem in verband met die moord.

Die polisie het ook op verskeie selfone beslag gelê. (Foto: SA Polisie)

Die polisie het ook beslag gelê op die vuurwapen wat vermoedelik gebruik is om Sikhakhane mee te skiet, asook op ses selfone.

Die verdagtes, tussen 19 en 44 jaar oud, word aangekla van moord, gewapende roof, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom. Hulle verskyn binnekort in die hof.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, het sy medelye met Sikhakhane se familie betuig.

“Ek doen ʼn beroep op die ondersoekspan om te verseker hulle neem ʼn waterdigte saak hof toe wat tot ʼn skuldigbevinding en maksimum vonnis sal lei,” het Sitole gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Simpatie aan konstabel Thandekile se familie. Ons is werklik jammer om van jul verlies te verneem.

Ek wonder hoeveel keer gaan ek nog skryf “simpatie aan die familie”…. Vermoorde polisie, korrupte polisie, goeie polisie. Iewers moet hierdie hele Regering bedank want alles is totaal buite beheer. SA is ‘n grap vir die wêreld. Watter Regering tree nie drasties op wanneer inwoners van die land, op ‘n daaglikse basis, voor die voet vermoor word nie. Pateties ANC Regering, pateties! Indien die hele land net soos een man kon opstaan…. maar nou ja, ek leef ‘n illusie.

Charles ·

Het dit nog nie duidelik geword dat die doodstraf terug gebring moet word nie? Ek vra net!

Adeline ·

Hoe bedank mens mense in die land van ons as die korrupsie so diep in die kern van die regering lê – Aan diegene wat wel ‘n oop skoon eerlike opregte lewe lei in hulle werks opset – baie dankie word gesê uit die diepte van my hart want dit is nie maklik om vir of saam met korrupte mense te werk nie – ken dit goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.