Die Suid-Afrikaanse Lugmag en die Suid-Afrikaanse Polisiediens se soek- en reddingsbeamptes het nege persone gered wat in die noordelike Drakensberg in Mpumalanga vasgekeer was.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê ʼn vrou het Donderdag in die Drakensberg verdwyn.
“Die vrou het vermoedelik verdwaal toe sy nie by haar kollegas kon bybly nie,” het hy verduidelik. “Toe haar kollegas besef sy word vermis, het hulle omgedraai om na haar te soek. Die soektog is egter afgelas weens swak sig. Dit het die volgende oggend vroeg hervat. Haar kollegas was deur middel van ʼn selfoon met haar in kontak.”
Haar kollegas het vroeg Vrydagoggend teruggekeer en kon haar opspoor. “Hulle is egter toe ongelukkig self op ʼn styl afgrond vasgekeer.”
Vermaak het gesê die SALM en SAPD-spanne het die nege persone gevind en hulle gered. “Hulle is met ʼn helikopter na Mariepskop geneem waar paramedici van ER24 hulle ondersoek het. Die vrou wat die vorige aand verdwyn het, was effens gedehidreer en sy is na ʼn kliniek geneem vir verdere waarneming. Sy is in ʼn stabiele toestand.”
Skynbaar is dit mense wat daar werksaam is.
Weereens ‘n bewys om ALTYD saam te bly. Veral waar daar ‘n vurk in die paadjie is moet daar vir die ander gewag word. Liewer dat almal saam verdwaal as dit so moet gebeur. Dra tenminste genoeg water saam met jou.