Nege uit op borgtog ná bedrog met PE-vervoerdiens

Die Port Elizabeth-landdroshof. Foto: Raahil Sain/ANA

Die nege verdagtes wat vroeër in hegtenis geneem is vir hul beweerde betrokkenheid by bedrog, korrupsie en geldwassery van meer as R56 miljoen, se borgtog beloop gesamentlik R255 000.

Zandisile Qupe, Thando Ngcolomba, Mhleleli Mlungisi Tshamase, Walter Shaidi, Nadia Gerwel, Fareed Fakir, David le Roux, Rukaard Abrahams en Andrea Wessels het Vrydag vlugtig in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn waar hulle borgtog toegestaan is.

Die verdagtes se borgtog het almal tussen R5 000 en R100 000 gewissel.

Die saak is tot 12 Maart volgende jaar uitgestel sodat die saak op die hooggeregshof se rol geplaas kan word.

Maroela Media het vroeër berig die Nelson Mandela-metroraad is een van dié wat in 2010 gekies is vir die inwerkingstelling van ʼn snelbusdiens en ʼn geïntegreerde openbare vervoerstelsel wat deur die nasionale tesourie gefinansier sou word. In dieselfde jaar is ʼn stelsel van stapel gestuur om kontrakbestuur en administrasie (ICMAS) te doen.

Die diensverskaffers vir die twee projekte is glo op onreëlmatige wyse aangewys en hul koste na bewering beduidend opgeblaas.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê Qupe, Ngcolomba en Mongameli Bobani, wat onlangs oorlede is, was ampsdraers wat glo hul beweerde invloed in die metro uitgeoefen het om die besluitneming in verkrygingsprosesse te beheer.

Tshamase, Shaidi en Gerwel was munisipale amptenare wat na bewering verseker het dat die diensverskaffers gekies word, waaronder die onreëlmatige aanstelling van Fakir, Le Roux, Abrahams asook die maatskappye Heerkos Projects CC, Jarami CC, Erastyle en Le Roux Inc.

Die saak is in September 2018 vir ondersoek na die Valke verwys ná ʼn ouditverslag van die nasionale tesourie.

Nkwalase het vroeër gesê die verdagtes het glo as sindikaat saamgewerk met die doel om die voorgeskrewe verkrygingsprosesse te omseil en spesifieke konsultante of verskaffers te bevoordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Regtig net R255 000 se borg vir R56 miljoen se bedrog? Dis ‘n skreiende skande man!!! Dis mos kleingeld vir hulle pffft

Cornelius ·

Daar gaan niks van kom nie. Al die feit is daar maar die word uitgestel tot MAART 2021. HOEKOM,,?

Wat op dees Aarde ·

En dan is David Le Roux van Le Roux Inc. ‘n prokureur….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.