Nege vas ná rooftog by poskantoor

Foto verskaf deur die SAPD Wes-Kaap

Nege verdagtes is in hegtenis geneem ná ʼn rooftog Maandagoggend by ʼn poskantoor in Ilingelethu, Malmesbury in die Wes-Kaap.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê drie verdagtes, van wie twee met vuurwapens gewapen was, het die poskantoor Maandagoggend net voor 08:00 betree en ʼn veiligheidswag en die bestuurder gedreig met die vuurwapens. Hulle het kontant geëis. Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag kontant van die toneel gevlug.

“Polisiebeamptes van Malmesbury het vinnig reageer en die verdagte wegkomvoertuig opgemerk. Ná ʼn hoëspoedjaagtog is nege mans, tussen 29 en 40 jaar oud, wat in ʼn Toyota Quantum gery het, in hegtenis geneem,” het Rwexana gesê. Die kontant is ook gekonfiskeer.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

“Beamptes het intussen ook in Grassy Park inligting opgevolg oor ʼn winkel wat sigarette verkoop tydens die afsonderingsperiode. Toe hulle by die winkel in Weaverstraat in New Horizon aankom, het hulle op die sigarette afgekom en ʼn 9 mm-pistool en ammunisie,” het Rwexana bygevoeg.

Drie mans, tussen 16 en 32 jaar oud, is in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op aanklag van die besig van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, die besit van ʼn verbode vuurwapen en oortreding van die Wet op Rampbestuur. Die verdagtes sal binnekort in die Wynberg-landdroshof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pieterweskaap ·

BAIE GELUK, SAPD, Malmesbury, julle het die regte dinge reg gedoen!!! Verder was die Quantum oorlaai en het die spoedgrens oorskrei, ens., ens…….

Hitler ·

Roei uit!!!
Tronk toe en dan weer uit en dan gebeur dit weer?!
Hoekom nog belasting geld mors?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.